Vrouekeur - Nuutste Uitgawe Vrouekeur - Latest Issue

Bitterheid is nie ’n opsie ná egskeiding nie, vertel ’n suksesvolle sakevrou aan Carla van der Spuy

Vroue wat in die skeihof beland moet besef dit is nie die einde van die pad nie. Struikelblokke, swendelaars en ’n toetrede tot die uiters riskante onthaalbedryf waarvan sy net mooi niks geweet het nie, kon Grieta Pike van Johannesburg nie onderkry nie. Toe haar suksesvolle eksman ’n skeisaak teen haar aanhangig gemaak het, het sy besluit sy sál haar eie suksesvolle onderneming begin. Op eie stoom. Al verg dit ook wat. Gedurende haar huwelik het sy immers tien huise met haar eie beperkte begroting gerestoureer. Grieta moes in dié moeilike tyd uitvind dat haar man oor 20 jaar verhoudings gehad het. “Ek was so briesend dat ek toe uit wraak vir my ’n SLK-sportmotor met geld uit ons gesamentlike boedel gekoop het. Dit was met geld wat ek op die aandelebeurs verdien het.” Hoewel sy alleen was en die huis leeg was, het sy ook besef dat sy vir die eerste keer vry was om haar eie keuses en smaak uit te leef. Toe koop sy op die dag dat sy geskei is ’n restaurant wat in daardie stadium ’n sinkende skip was. Dit was ’n reuserisiko want sy het niks, maar net mooi niks van hierdie bedryf af geweet nie. “Ek was nog nooit eers in my lewe ’n kelner nie,” vertel sy. Tog het sy daarin geslaag om die Johannesburgse restaurant Il Giardino met suiwer wilskrag, gesonde sakebeginsels, knap bestuursvaardighede en deursettingsvermoë in een van die mees gesogte restaurante in die land te omskep wat besoekers van so ver as Pretoria, Delmas, Vereeniging, Sasolburg en Parys lok. Om die restaurant te koop met geld wat sy aanvanklik op die beurs belê en wat toe tot ’n aansienlike bedrag gegroei het, was ’n impulsiewe besluit en ’n yslike risiko waarvan Grieta maar te deeglik bewus was. Ons ontmoet haar in haar vakansiehuis op Onrus. Die huis lyk of dit in ’n glansdekortydskrif hoort. Dis warm, minimalisties en subtiel funky. Haar kreatiewe hand as eertydse binnenshuise versierder is duidelik sigbaar. Grieta is slank en gasvry. ’n Paar jeans sit nommerpas aan haar lyf. Haar skouerlengte hare is glansend. Sy is selfversekerd dog nederig. Sy kon op ’n finansiële puinhoop beland het, maar die teendeel het gebeur. Sy leef goed en verskaf vandag werk aan 45 mense. Hoe het dit gebeur dat haar lewe sulke draaie geloop het?

Eens ’n sprokie
“Ek was 32 jaar lank gelukkig getroud en ek en my man was mekaar se beste vriende. Ons kon soms tot vieruur in die oggend gesels. Dis tot vandag toe nog so. “Een aand droom ek in hierdie einste huis dat hy ’n verhouding met sy sekretaresse het.” “My man is die tipiese tall, dark en handsome soort. Hy was uiters sjarmant en het altyd die motor se deur vir my oopgemaak. Hy het selfs my hand in die kerk vasgehou. Hy het my soos ’n koningin behandel. “Ek was die laaste een op aarde wat van die ander vroue oor ’n tydperk van twee dekades gehoor het.” Haar man het haar vir sy sekretaresse gelos, maar wel ná die egskeiding teruggekom huis toe. Sy het hom egter ná drie maande gevra om liewer uit te trek. “Die mat is skielik onder my voete uitgepluk. Maar ek moes hand in eie boesem steek en my afvra wat ek verkeerd gedoen het,” erken sy ruiterlik. “Nie een van my man se minnaresse het grade gehad, was mooi of maer nie. Ek het op die ou einde besef dat dit nie daaroor gaan oor hoe mooi, talentvol, slim en oulik jý is nie, maar oor hoe mooi en slim en oulik jy hóm laat voel.” Grieta het ’n wilsbesluit geneem dat haar man haar nie hartseer of kwaad gaan sien nie. “Ek sal nie met hom baklei nie – dis my prokureur se voorreg. Ek gaan my waardigheid behou. Ek het besluit dat geen geskeide vrou in sak en as hoef te sit nie. Ek het ook besluit ek sal genoeg geld verdien om vir myself te sorg.” Sy vertel dat albei haar seuns studente was toe sy die restaurant op 1 Desember 2009 gekoop het. “Ek was ’n enkelma en moes geld verdien.” By die impulsiwiteit het Grieta darem ook ’n nugter sakekop op haar skouers. Sy het besef die restaurant was eintlik ’n kat in die sak en grafstil op weeksaande omdat die winkelsentrum waarin dit in Milpark geleë is, saans gesluit was. “Op papier het alles egter wonderlik gelyk. Nog ’n skok het op my gewag toe ek uitvind dat ek as nuwe eienaar toe sommer ’n miljoen rand se agterstallige belasting asook skuld aan verskaffers moes betaal.” Die enigste verduideliking wat sy hiervoor gekry het, was dat sy die plek voetstoots gekoop het. Grieta het besef dat sy met ’n yslike probleem sit, waarop sy toe regsadvies ingewin het. Dit was chaos. Daar was ook diefstal en sy kon geen personeellid afdank as sy hulle nie op heter daad betrap het nie. Nog ’n probleem was dat Il Giardino ’n Italiaanse restaurant is, maar sy is nie Italiaans nie. Boonop het al wat leef en beef vir haar probeer raad gee. Maar toe sit sy skouer aan die wiel en vee ’n groot splinternuwe spreekwoordelike besem deur die plek. “Ek woon in Houghton en het party oggende om kwart oor vier daar uitgestap.” Hoewel Milpark nie die glansrykste buurt in Johannesburg is nie, het dit gou ’n gewilde kuierplek geword. “Ek kon nie tou opgooi nie. Ek het myself daaraan herinner dat ek Flip Fourie se dogter is. Ek moes teruggaan na die mens wie ek is – die een wat in die Sondagsriviervallei in die Oos-Kaap grootgeword het. Wat van musiek hou en wat daarvan hou om dinge mooi te maak. Ek moes my selfvertroue terugkry. “Ek het begin om die restaurant mooi te maak. Ek hou van stoele met kussings en bedekkings, vars blomme en kerse. Ek het vure aangesteek en ek het op onderbeklemtoonde elegansie gefokus. Toe huur ek goeie musikante teen R6 000 per week om naweke musiek te maak.” Weens die nuwe vibe het die aantal besoekers so toegeneem dat die kombuis skaars kon voorbly. Grieta het gesonde en streng, maar regverdige bestuurs- en finansiële beginsels toegepas. Al die boeke moes telkens klop. Verskillende mense moes voorraad bestel en ontvang en sy het baie geld aan ’n ouditeur bestee om te help om interne beheer en stelsels reg te kry. Bestuurders moes alles dubbeld nagaan. Almal moes ook die ander se werk kon doen. Veelsydigheid was die wagwoord. So was haar kroegman net so bedrewe elders as agter die kroegtoonbank. Sou die sjefs nie opdaag nie, was daar ander wat gemaklik voor die kospotte kon inskuif. Grieta het gesorg dat almal topopleiding kry. Kelners moes ook opgelei word oor verskillende soorte wyn en hulle moes weet uit watter bestanddele die kos bestaan. Deesdae word talle korporatiewe gesellighede en huweliksonthale daar gehou en Il Giardino is as een van die toptien-pizzarestaurante in die land aangewys. Daar is egter ook boerekos met ’n kinkel op die spyskaart. Almal het by hierdie reusesukses baat gevind. Drie van haar kelners is later tot bestuurders bevorder en sy vertel dat een byvoorbeeld ’n aandeleportfeulje van R25 000 begin het. Hoewel haar egskeiding vir haar ’n ontnugtering was, is dit vir haar belangrik dat sy ná haar egskeiding meer pret het en meer lag as vantevore. ’n Egskeiding is soos ’n roufase, maar een mooi dag breek die son weer deur, het sy besef. En dis haar lewensfilosofie eerder as haar sukses wat ’n mens bybly. Die feit dat sy graag aan ander geskeide vroue wil vertel dat daar lewe ná egskeiding is. En dat dit nie nodig is om bitter te word nie. Jy kán jou lewe terugeis. Vk

Welkom by die Vrouekeur aanlyngemeenskap!

Vertel ons meer van jouself sodat ons aan jou behoeftes kan voldoen. Klik hier om ʼn vinnige, anonieme digitale meningsopname te doen.

Kommentaar
Wees eerste om kommentaar op die artikel te lewer.
Jy moet ingeskakel wees om kommentaar op die artikels te kan lewer. Indien jy nog nie 'n aanlyn-profiel het nie, kan jy hier een skep

Caxton Tydskrifte moedig vryheid van spraak aan en ‘n verskeidenheid standpunte word hier weergegee. Die menings van die gebruikers van vrouekeur.co.za is hul eie en nie noodwendig dié van Caxton Tydskrifte nie.
Interessante artikels
Meeste kommentaar
BREI ’n moulose trui
Nodat die somer om die draai is, is so ’n moulose trui net reg. RSG-omroeper Amore Bekker speel model!
Luister: Elizma Theron oor haar voorblad
Elizma Theron gesels oor haar Vrouekeur-voorblad, haar nuwe album en baie meer.
Potgooi: Ons vertel jou wat als in dié week se Vrouekeur is
Wat is dié week in Vrouekeur? Ons redakteur, Eldaleen Hugo, vertel aan OFM wat als in ons uitgawe van 13 Februarie 2015 is.
LEES & STEM (Maart 2015): Vat so, jou feeks
Ek het nog altyd ’n hekel daaraan gehad as dit kom by onregverdigheid op die sportveld. Soos die spreekwoord lui, het elke wedstryd sy beserings, maar...
LEES & STEM (Januarie 2015): Die cowboy
Ons woon hier op ’n plaas in die Weste, die beste Weste, eintlik die Noordweste.
LEES & STEM (April 2015): Die agterstallige paaiement
In elke winkel is die poppe snoesig en warm geklee met bypassende stewels en ’n handsak. Die pop in die een vertoonvenster trek onmiddellik Lulu se...
© 2017 www.vrouekeur.co.za | Alle regte voorbehou | Developed By Digital Platforms