Vrouekeur - Nuutste Uitgawe Vrouekeur - Latest Issue

Dié twee vroue wil alle vroue bemagtig om binne en buite ’n huwelik te weet wat is hul regte ten opsigte van finansies, sê Carla van der Spuy

Hulle is nie pro-egskeiding nie en dis glad nie hul doelwit om wraaksugtige vroue aan te hits om hul ekse finansieel kaal uit te trek nie. Dit gaan vir hulle net oor regverdigheid, bewusmaking en bemagtiging. Aan die woord is Christel du Toit, finansiële raadgewer wat self ’n egskeiding agter die rug het en ’n enkelma is, en haar vennoot, Janene Visser, van Divorcesmart101. Hulle het al talle mense gehelp om die angel uit egskeiding te haal deur bystand op regs-, finansiële en emosionele gebied te verleen. Dis veral vroue wat só daarop gefokus is om hul kinders te behou en versorg dat hulle sommer oorhaastig ’n skeidingsooreenkoms onderteken, net om later in so ’n geldelike penarie te beland dat hulle hul hare uit hul kop kan trek omdat hulle so oningelig was. Min weet dat hulle byvoorbeeld van hul eks se pensioenfonds kon eis. Christel en Janene wys daarop dat ’n egskeiding nie beteken alles is netjies afgehandel as die skeidokumente geteken is nie. “Die gevolge van egskeiding duur ’n leeftyd en dit is dikwels só dat jy net een stel probleme vir ’n ander stel probleme verruil,” sê hulle. Om te skei, verduidelik Christel en Janene, is reeds ’n traumatiese ervaring, maar as jou geldsake stabiel is en jy darem kry wat jou toekom, het jy veral as enkelouer darem een bekommernis minder en is jou lewe ook meer stabiel. ’n Mens moet nooit jou geldsake gering skat nie en sou jy skei, is dit belangrik om ook soveel as moontlik finansiële stabiliteit aan jou kinders te verskaf.

Jy kan selfs pensioen eis
Baie vroue is oningelig oor pensioenvoordele. Voor 2007 kon ’n geskeide vrou nooit van haar eksman se pensioenfonds eis alvorens hy sterf, aftree of bedank nie. Dit het egter sedertdien verander. Die “skoon breuk”-beginsel wat op 13 September 2007 deurgevoer is, laat jou nou toe om jou aandeel van jou man se pensioenfonds na jou eie aftree-, annuïteits-, bewarings-, pensioen- of voorsorgfonds oor te plaas of om die voordele in kontant te neem, maar dan sal jy wel belasting daarop moet betaal. Ingevolge wysigings aan die Pensioenfondswetgewing kan ’n mens nou onmiddellik jou deel van jou eksman se pensioenfonds, voorsorgfonds, bewaringsfonds of aftree-annuïteit eis. Dit geld vir alle egskeidings wat voor 2007 plaasgevind het, maar is ook van toepassing op egskeidings ná 2007. Ongelukkig is dit iets wat nie almal weet nie. Dit is baie belangrik dat so ’n eis teen die fonds korrek in jou egskeidingshofbevel aangeteken is sodat dit uitvoerbaar is. Die voorwaardes vir hierdie oorplasing is dat jy ’n grondige eis moet hê. Die egskeidingsbevel moet bepaal op watter persentasie van jou eks se pensioen jy geregtig is, wat die naam van die fonds is en wat die verwysingsnommer van die fonds is. Hier moet ’n mens wakker wees, want gestel jou aftrede kruip nader en die eis is nie geldig nie, dan moet jy terug hof toe gaan en die egskeidingsbevel aangepas word. Dit is tydrowend en duur en kan selfs jou aftrede vertraag en jou sonder ’n inkomste laat. Ons weet almal dat min mense gerieflik kan aftree. Dink dus betyds aan jou oudag, is hul boodskap. Christel en Janene wys daarop dat as jy op huweliksvoorwaarde met die aanwasbedeling getroud is, jy op 50% van die fondswaarde vanaf jou troudag geregtig is.

Só kan jy eis
n Maak seker jy het ’n geldige eis – die naam van die fonds, die verwysingsnommer en die persentasie waarop jy geregtig is, moet in die egskeidingshofbevel aangeteken wees. n Stuur die egskeidingshofbevel aan Divorcesmart101 met ’n kopie van jou ID, Fica en bewyse van jou bank- en belastingbesonderhede. n Divorcesmart101 sal die waarde van jou deel van die fonds aanvra en finansiële raad daaroor aan jou verskaf. n Nadat die waarde bepaal is, sal Divorcesmart101 direk met die kliënt konsulteer oor wat met die fondse gedoen moet word, met ander woorde of dit in jou eie aftree-, annuïteits-, bewarings-, pensioen- of voorsorgfonds geplaas moet word of belastingsadvies gee as die kliënt die waarde in kontant wil neem.

Kennis is mag
Christel sê die feit dat sy oor die nodige finansiële kennis beskik het, het haar deur haar eie egskeiding gehelp. Daar is egter talle ander vroue wat ná ’n egskeiding harde bene kou as gevolg van ’n gebrek aan finansiële beplanning tydens of ná die skeiding. “’n Mens hoef nie ná ’n egskeiding met niks weg te stap nie,” sê sy. “Jy kan kry waarop jy geregtig is.” Sy verduidelik dat soveel vroue tydens hul huwelik nie werk nie omdat hulle die huishouding bestuur en kinders grootmaak. As hulle skei, het hulle nie ’n sent in hul bankrekening nie. Talle is onbewus daarvan dat hulle nie net van hul eks se pensioenfonds kan eis nie, maar ook van belastinggeld wat hy van die Ontvanger teruggekry het. Janene is reeds 19 jaar getroud en was self 11 jaar lank ’n tuisblyma wat haar kinders grootgemaak het, maar sy het Christel genader omdat sy haarself finansieel wou bemagtig. “Ek het besef kennis is mag.” Daarna het Christel Janene genader en saam vorm hulle nou Divorcesmart101. Hulle vertel dikwels het vroue nie geld om ’n prokureur te betaal nie en as die man dan met die skikking vorendag kom teken sy net die dokument. Hulle stel ’n plan vir hierdie vroue op, sê Christel en Janene. Dit sluit ’n ouerskapplan in waaroor hulle besonder sterk voel. “So ’n plan is ononderhandelbaar en vorm deel van jou hofbevel, wat dan afdwingbaar is. “Dit behels onder meer die regte van die nietoesighoudende ouer se verantwoordelikhede, soos wanneer ’n kind tyd by watter ouer deurbring. ’n Ouerskapplan is die basis van hoe jy jou kinders grootmaak. Daarom moet dit behoorlik opgestel word.” Christel en Janene benadruk dit egter dat hulle ook mans as kliënte het. Trouens, hul eerste kliënt was ’n man. Die probleem ten opsigte van finansiële ingeligtheid kom egter steeds oorwegend by vroue voor. “Vroue sal dit byvoorbeeld glad nie bevraagteken as die huis net in die man se naam geregistreer word nie. Jy kan egter jou huwelik versterk as jy finansieel bemagtig is.” Sou jy egter die paadjie skeihof toe móét loop, is dit hul raad dat jy eers by ’n finansiële raadgewer uitkom en eers daarna ’n prokureur gaan spreek. “’n Prokureur lig ’n mens meestal oor regsaspekte in en nie noodwendig oor die finansiële implikasies van ’n egskeiding nie. Dis waar ons in die prentjie kom, want ons stel vir jou ’n finansiële plan op.” Die doel van hul webwerf, wat die enigste in sy soort in Suid-Afrika is, is om mense wat deur egskeiding gaan op verskeie vlakke te help. Hulle verskaf wenke, soos dat jy die begunstigdes in jou testament so gou as moontlik moet verander. Mense dink nie altyd daaraan nie. “Dit is vir ons bemoedigend dat ons sulke goeie terugvoer van lesers van ons blog ontvang. Dit bewys dat daar beslis ’n aanvraag vir hierdie soort diens is. Ons het sedert die middel van Januarie verlede jaar reeds meer as 10 000 besoeke gehad. “Ons is bereid om die pad saam met die mense te stap wat ons nodig het.” Die vroue moedig hul kliënte ook aan om vir egskeidingmediasie te gaan aangesien dit tot ’n goedkoper egskeiding kan bydra. “Ons is nie pro-egskeiding nie,” benadruk Janene. “Maar ’n mens moet jouself nie probeer oortuig dat dit jou nooit kan oorkom nie. Ons wil jou help om jou lewe weer op koers te kry.” Divorcesmart101 se webwerf verskaf ook ’n magdom inligting (en verwante artikels) soos hoe om slim besluite ten opsigte van eiendom en beleggings te neem, te verseker dat jou eks voortgaan om onderhoud te betaal en oor die belangrikheid om die onderhoud te verseker deur lewensdekking op jou eksman se lewe uit te neem waarvan jy die begunstigde en eienaar is sou hy sterf of ongeskik raak. Daar is ook wenke vir jou reis na innerlike vrede ná die pyn en verlies wat egskeiding meebring, soos hoe om vir jouself lief te wees, terapie te ondergaan, ’n gesonde, onafhanklike mens te word, vergifnis te beoefen en jou innerlike kind weer te koester. Nog raad lui: “Verander die negatiewe bloudruk van jou verlede en jou kinderdae, besef dat jy nie deur iemand anders gedefinieer word nie, bevry jou van skuldgevoelens, wees dankbaar vir die reis en leer hoe om die berg met rugsak en al uit te klim!”

Janene en Christel gee een keer ’n maand vir ons lesers wenke . Lees hul eerste bydrae op bl 20 Besoek www.divorcesmart101.com of stuur ’n e-pos na info@divorcesmart101.co.za Vk

Welkom by die Vrouekeur aanlyngemeenskap!

Vertel ons meer van jouself sodat ons aan jou behoeftes kan voldoen. Klik hier om ʼn vinnige, anonieme digitale meningsopname te doen.

Kommentaar
Wees eerste om kommentaar op die artikel te lewer.
Jy moet ingeskakel wees om kommentaar op die artikels te kan lewer. Indien jy nog nie 'n aanlyn-profiel het nie, kan jy hier een skep

Caxton Tydskrifte moedig vryheid van spraak aan en ‘n verskeidenheid standpunte word hier weergegee. Die menings van die gebruikers van vrouekeur.co.za is hul eie en nie noodwendig dié van Caxton Tydskrifte nie.
Interessante artikels
Meeste kommentaar
VIDEO: Mathys Roets
Dit is hoe jy na die wêreld kyk en nie van waar jy dit betrag nie, wat saak maak, sê Mathys Roets
Sjef: Michael Holenstein, De Hoek Country Hotel
De Hoek Country Hotel is die afgelope 20 jaar een van die Magaliesbergstreek se uithalerhotelle en die meestersjef, Michael Holenstein, tower daar in...
Om weer te vertrou
Geskende vertroue is baie soos ’n opgefrommelde papier, dis moeilik om al die kreukels uit te kry, sê Shanda Luyt
LEES & STEM (Maart 2015): Vat so, jou feeks
Ek het nog altyd ’n hekel daaraan gehad as dit kom by onregverdigheid op die sportveld. Soos die spreekwoord lui, het elke wedstryd sy beserings, maar...
LEES & STEM (Januarie 2015): Die cowboy
Ons woon hier op ’n plaas in die Weste, die beste Weste, eintlik die Noordweste.
LEES & STEM (April 2015): Die agterstallige paaiement
In elke winkel is die poppe snoesig en warm geklee met bypassende stewels en ’n handsak. Die pop in die een vertoonvenster trek onmiddellik Lulu se...
© 2017 www.vrouekeur.co.za | Alle regte voorbehou | Developed By Digital Platforms