Vrouekeur - Nuutste Uitgawe Vrouekeur - Latest Issue

Klik op die sterretjies onder die verhaal om dit te beoordeel. Hoe beter die verhaal, hoe meer sterretjies moet jy toeken. Jy moet inteken om te kan stem. Stem vanaf Saterdag 28 Junie tot Vrydag 25 Julie vir die Julie-verhale.

DEUR: Zaria Jansen
Die wiel draai

Onder geesdriftige applous word 'n reusetjek serimonieel aan my oorhandig

My ouma het altyd gesê: “Toemaar, my kind, die wiel draai. Wees die minste, draai die ander wang, jy sal jou beloning die een of ander tyd kry.”

Wel, ek is nou hartlik moeg daarvoor om so inskiklik en gedwee te wees! Beskimmeld. Ek het die woord in een van ons voorgeskrewe boeke op skool raakgelees en dadelik geweet: Dis nou ek daai, beskimmelde ou Bessie. Geduldig, gedienstig, gedwee, net soos die osse wat so deur die stof stap in die gedig. Vir wat moes my ouers my so vreeslik ordentlik grootmaak? Het hulle nie besef dis die voortvarendes wat gewoonlik sukses behaal terwyl ons goedgemanierdes hoflik eenkant staan en toekyk nie?

Dis hulle wat wegstap met jou kêrel, jou bevordering, jou plek in die span, die laaste stukkie melktert op die bord waarvoor jy só lus was! Ek praat uit dure ondervinding!

Nou ja, dit was die ou ek. Die nuwe ek gaan dit nie meer duld nie, uit en gedaan! So maal my gedagtes terwyl ek parkeerplek by die winkelsentrum soek. Dis kort ná nege op ’n Saterdagoggend, maar al reeds druk besig.
Voor die ingang van die supermark is ’n boog van ballonne en oral baniere wat vrolik roep: “Ons vier 100 maande van winskopies vir jou!” Musiek blêr en glimlaggende personeel in gestreepte baadjies groet almal soos ou verlore vriende.

O genade, ek weet wat kom. Almal gaan weer rasend raak by die vooruitsig van ’n paar winskopies en ‘n mens uit die aarde loop om tog net hul hande daarop te kan lê. Hier moet ek gou maak en vinnig wegkom.
Ek mik vir die laaste oorblywende waentjie langs die ingang, maar die volgende oomblik stamp ’n goed geronde heup my dat ek skoon uit my nuwe wighaksandale loop. Wat de …?

’n Pofferhand met skelpienk naels pluk die waentjie onder my hande uit en heup se baas stoomroller verby my met ’n smalende trek om die dun lippies.
Blerrie pienk … vetkoek! Sal ek haar pootjie? Haar met ’n advertensiebord oor die kop moker?
Maar natuurlik kry my Calvinistiese opvoeding weer die oorhand en ek vat maar ’n mandjie voor ek haar dikbek onder die ballonne deur volg.

Die volgende oomblik blaas ’n fluit skril in my ore, ballonne reën op my neer en ’n hele trop streepbaadjies storm op my af. ’n Bleskopman skud my hand sonder ophou en skree uitbundig: “Geluk, dame! Jy is ons eenhonderdste kliënt vandag en daarom staan jy nou ’n kans om ’n groot prys te wen! Deur net die Wheel of Fortune te draai, kan jy van ons uitsoekprodukte of ’n vet tjek ontvang!”

Soos oorgretige, dienswillige onderdane vat hulle my na ’n enorme rooi wiel op ’n verhogie, beduie haarfyn hoe en waar en wat en staan dan afwagtend terug.
Ewe sinies gee ek maar die wiel so ’n halfhartige plukkie. Sal seker ’n sak hondekos wen, of so iets. Dit raak doodstil. Die wiel draai en draai. Dan skree Bleskop weer: “Boerpot! Eenhonderd duisend rand, mense! Wat ’n wonderlike beloning vir ’n lojale kliënt!”

Onder geesdriftige applous word ’n reusetjek seremonieel aan my oorhandig terwyl die fotograaf uit elke moontlike hoek foto’s vir die koerant neem.

Later, terwyl ek my weg deur die mense na die uitgang baan, gewaar ek weer heup se baas. Haar stem skril soos ’n vleissaag deur die geroesemoes waar sy met ’n ander vrou staan en gesels. “Kan jy dit glo, mens? Daardie vroumens wat die boerpot gewen het, was reg agter my! Drie sekondes later en ék sou daardie geld gewen het. Die noodlot het my wragtig ’n wrede streep getrek vandag. Dis ’n siek grap, dis wat dit is.”

Die ou ek sou verleë verby geskarrel het. Die nuwe ek steek vas, glimlag liefies en sê: “Weet jy, hulle sê vriendelikheid en goeie maniere kos niks nie, en dis ’n groot waarheid. Maar vat dit nou van my, dit bring jou beslis ook baie in die sak! Lekker dag!”

Met ’n waai van die hand soos die koninginmoeder seil ek by die deur uit.
Ouma, jy was só reg! Die wiel draai stadig, maar hy draai!

Welkom by die Vrouekeur aanlyngemeenskap!

Vertel ons meer van jouself sodat ons aan jou behoeftes kan voldoen. Klik hier om ʼn vinnige, anonieme digitale meningsopname te doen.

Kommentaar
Wees eerste om kommentaar op die artikel te lewer.
Jy moet ingeskakel wees om kommentaar op die artikels te kan lewer. Indien jy nog nie 'n aanlyn-profiel het nie, kan jy hier een skep

Caxton Tydskrifte moedig vryheid van spraak aan en ‘n verskeidenheid standpunte word hier weergegee. Die menings van die gebruikers van vrouekeur.co.za is hul eie en nie noodwendig dié van Caxton Tydskrifte nie.
Interessante artikels
Meeste kommentaar
Gewone rots of meteoriet?
Loer hier na die video van 'n massiewe stuk rots wat astronome glo die tweede grootste ontdekte meteoriet in die wêreld kan wees
LEES&STEM (September 2013): Kampkind
Ons het ook laataand die gehardloop van klein voetjies gehoor, die fyn giggeltjies van ’n kind en eenkeer ook die gehuil van ’n kind. Wanneer ons...
Woord van die Week: dagvaar
Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Woord van die Week is pedant.
LEES & STEM (Maart 2015): Vat so, jou feeks
Ek het nog altyd ’n hekel daaraan gehad as dit kom by onregverdigheid op die sportveld. Soos die spreekwoord lui, het elke wedstryd sy beserings, maar...
LEES & STEM (Januarie 2015): Die cowboy
Ons woon hier op ’n plaas in die Weste, die beste Weste, eintlik die Noordweste.
LEES & STEM (April 2015): Die agterstallige paaiement
In elke winkel is die poppe snoesig en warm geklee met bypassende stewels en ’n handsak. Die pop in die een vertoonvenster trek onmiddellik Lulu se...
© 2017 www.vrouekeur.co.za | Alle regte voorbehou | Developed By Digital Platforms