Vrouekeur - Nuutste Uitgawe Vrouekeur - Latest Issue

LEES & STEM (DESEMBER 2013): WURMS VIR KERSFEES

Dit is vandag 24 weke en twee dae sedert sy ma dood is; vier maande wat hy na die shrink met die oranje rusbanke toe gaan

DEUR: MELISSA MC DONALD
Hy skop die klip dat dit dóér trek. Blessitse klip! Hy stap vinnig verder, sy hande diep in sy broeksakke gedruk, sy skouers krom onder die vrag van sy boeksak. Hy wonder of sy ouma al tuis is. Hy hoop nie so nie. Hy soek stilte. Dan hy het nog vanmiddag die afspraak by die shrink ook. Hy spoeg eenkant in die straat, skop weer na die volgende klip. Hy wil nie die shrink gaan sien nie. Sy kop raas nie. Hy cope goed genoeg. As sy ouma nie vanmiddag daar is nie, kan hy maak of hy van die afspraak vergeet het.

Dit is vandag 24 weke en twee dae sedert sy ma dood is; vier maande wat hy na die shrink met die oranje rusbanke toe gaan. Vier maande al wat hy basies vir die muur staar, vir die dak staar, vir die shrink se verskillende gestreepte dasse. Hy praat net as hy nie die vraag met ’n knik of ’n skud van die kop kan antwoord nie. Hy’t al 17 sessies gehad waarin die shrink probeer om sy derms uit te ryg, terwyl hy met sy pen teen die knipbord op sy skoot tik-tik-tik. Tik-tik-tik, klink nes tip-tip-tip, soos ’n drup se vloeistof wat in die metertjie afdrup.
Hy ruk die tuinhekkie oop. Die deur staan oop. Sy moed sak in sy skoene.
“Bernoldus!” roep sy ouma.

“Ja, Ouma?” Hy hoop nie sy hoor die sug in sy stem nie. Hy haat dit as mense hom Bernoldus noem. Sy naam is Berno!
Hy slof in die gang af.
“Ja, Ouma?” vra hy toe hy om die hoek van haar slaapkamer loer. Sy sit in die gemakstoel voor die venster. Die kat lê op haar skoot.
“Middag, kind.” Sy knik net haar kop in sy rigting. Een ding genade. Hy gril vir ’n gesoenery. Selfs sy ma. Veral sy ma.
“Middag, Ouma.” Hy probeer glimlag. “Hoe voel Ouma vandag? Pla die ou knie al weer?” Sy ouma hou aan vryf en vryf oor die kat. Hy hou nie van katte nie. Hy hou ook nie van shrinks met oranje rusbanke en streepdasse nie.
“My knie is gesond, kind. Maar ek sal nie die ent pad na doktor Kruger saam met jou kan stap nie. Ons ry oor ’n uur.”
Ons?

“Stort gou, dan skep ek solank op.”
Hy draai met ’n frons om en gaan draai die stort se krane oop. Sy ouma se huis is gemakliker as die woonstel waarin hy en sy ma gebly het. Gerieflike badkamer, met ’n stort en genoeg warm water.

Hy skrop behoorlik. Bolle skuim staan oor sy hele lyf. Hy kom nooit skoon genoeg nie.
Waarom wou sy ouma die sielkundige kom sien? Sy is nou al ’n geruime tydjie agter die toe deur. Shame, sy het darem ook haar dogter verloor. Hy kan nie onthou wanneer die laaste keer was wat hy en sy ma by Ouma gekuier het nie. Sy ma was drie jaar lank ernstig siek. Dit was vir seker nie in daai tyd nie.

Hy sit sy voete op die koffietafeltjie en maak sy oë toe. Hy probeer onthou. Die laaste maal moes seker gewees het toe die hond hom gebyt het. Ja, dit was! Hy onthou dit nou duidelik.
Hy was pas tien jaar oud. Hulle het een Sondagmiddag by sy ouma kom kuier. Sy ma en ouma het in die woonkamer gesit. Hy in die kombuis. Later het hy verveeld geraak en op die stoep oor die tuin gestaan en uitkyk. Halfpad oor die enorme grasperk was0’n lae muurtjie. Hy was byna by die muur toe ’n hond op hom afstorm. Sy voet het geswik en hy het neergeslaan. Instinktief het hy sy kop met sy hande en arms bedek. Die hond het hom aan sy linkerarm beetgekry en woes heen en weer geruk.

Skielik het sy ma gegil en sy ouma het die hond met ’n ferm stem tot bedaring gebring.
Hy moes steke aan sy arm kry. Van daardie dag af haat hy honde. Honde en katte. Eintlik hou hy niks van troeteldiere nie.
“Bernoldus!” ruk sy ouma hom uit sy dagdroom. Hy wip soos hy skrik en ruk sy voete af. Berno vryf verleë oor sy hare. “Ekskuus, Ouma! Ek ... ek ... Sorry.”

Sy loer net vir hom oor haar bril en hy sien sy beduie met haar hand na die deur.
Ouma is stil in die motor terug huis toe. Hy loer sydelings na haar. Sy konsentreer op die pad. Haar ligbruin hare is netjies versorg. Sy het ’n sagte groen truitjie aan en ’n string pêrels om haar nek. Sy lyk soos die emeritus-professor, wat sy is. Statig, in beheer, onaantasbaar. Hy besef skielik dat sy ma met hul laaste besoek vir haar van haar siekte moes vertel het. Sy moes teleurgesteld gewees het om te hoor dat haar begaafde kind op so ‘n dwaalspoor beland het.

Net 38 jaar en agt maande, het die begrafnisbrief gesê. Op pad na hoë hoogtes, maar toe word sy siek. ’n Virus met ’n vuurtong wat verteer sover hy gaan, het sy ma aangehou lek, totdat daar net ’n hopie as oorgebly het. ’n Asempie in ’n uitgeteerde lyf. ’n Lyf wat nie meer sy was nie, maar ’n sterwende, oortrek met stinkende swere. Die lewende lyk se hare het byna alles uitgeval. Dit was verskriklik om haar so te sien.
“Ouma?”

“Ja, Bernoldus?” Sonder om na hom te kyk.
“Ek ... Toemaar ...”
Sy antwoord nie, los net die motor se stuurwiel versigtig en gee sy hand ’n drukkie. Hy voel hoe sag haar hande is.
Hy wonder of sy ’n probleem met hom het? Hy het gedink hy en sy ouma kom goed oor die weg. So op haar manier is sy eintlik nie te sleg nie. Sy sorg baie goed vir hom. Sy kom kyk selfs as hy rugby speel, al ondersteun sy die verkeerde span.
“Doktor Kruger beveel aan dat jy ’n troeteldier kry, Bernoldus. Hy dink dit sal help om ... met jou ma se lyding vrede te maak.”

Onwillekeurig vryf sy vingers oor die littekens op sy linkerarm. Wie dink die shrink is hy om te sê hy moet na ’n lewende ding omsien? Hy het na sy ma omgesien en toe gaan sy dood.
“Dis geldmors om vir my ’n dier te koop. Nee dankie.” Amper sê hy haar sotlike kat is genoeg.
“Ai toe, ek koop dit sommer vir jou vir Kersfees,” antwoord sy ouma onverstoord.
Die weke vlieg verby. Hy het besef dis beter om tog maar met die shrink te praat. Eintlik het sy damwalle sommer vanself oorstroom toe die man wou weet of sy vriende weet dat sy ma vigs gehad het. Berno het sy top geblaas. En die shrink het van oor tot oor geglimlag. As jy kwaad word, beteken dit jy leef en jy leef nie meer in ontkenning nie, het hy net gesê. Nou moet die shrink net afsien van die troeteldier-idee. Sy ouma het nog nooit weer oor die troeteldier gepraat nie. Nee. Hy wil nie ’n dekselse troeteldier hê nie. Nie ’n hond of ’n kat nie. Ook nie ’n hoender, haas, hamster of flippen vis nie. Ziltch!

Oukersaand werkskaf hulle in die kombuis. Hy help haar en dis vir hom skielik lekker om by haar te wees. Hy soen haar sommer vol op die mond.
“En nou, Berno?” vra sy. Dis die eerste maal wat sy hom s”o noem.
“Ek is lief vir Ouma.” En hy bedoel elke woord.
“En ek vir jou ook. Meer as wat jy ooit sal dink.” Sy draai om en roer in die kastrol op die stoof, maar hy het gesien hoe blink haar oë.

Op die tafeltjie in die hoek lê twee geskenke. Die twee boeke wat hy met groot moeite gesoek en toegedraai het. Daar is ook ’n groterige boks met sy naam op. Dit maak hom gerus, geen dier kan vir meer as ’n week stilsit nie.
Ná ete sit hulle by die tafeltjie en sing hulle vals en temerig Stille nag. Eers sing net sy. Haar oë is toe, maar hy sien die blink trane wat onder haar ooglede uitkruip. Hy neurie eers net, sing later ‘n bietjie harder, nog later hard en sonder skroom. Hulle sing. Ouma en haar seerkrykind saam.

Moeg, maar gelukkig gaan hy laataand na sy kamer toe. Hy is so tevrede. Sy ouma het vir hom die lank begeerde laptop gekoop. Hy voel vir die eerste maal in jare weer geborge. Hy het tuisgekom.
Op sy bed staan ’n skoenboks vol gate. Hy stap versigtig nader en lig die deksel op.
Sywurms.

Lank staan hy na dit en staar. Wurms vir Kersfees. Hy tel een versigtig op. So ’n ou pieperige dingetjie sal mos maklik doodgaan as niemand vir hom sorg nie. So ’n ou pieperige dingetjie wat kosbare, duur sy kan spin. Onbenullig, maar van groot waarde.
“Ouma!” roep hy in die gang af, “Ouma, waar is die naaste moerbeiboom?”

Welkom by die Vrouekeur aanlyngemeenskap!

Vertel ons meer van jouself sodat ons aan jou behoeftes kan voldoen. Klik hier om ʼn vinnige, anonieme digitale meningsopname te doen.

Kommentaar
Wees eerste om kommentaar op die artikel te lewer.
Jy moet ingeskakel wees om kommentaar op die artikels te kan lewer. Indien jy nog nie 'n aanlyn-profiel het nie, kan jy hier een skep

Caxton Tydskrifte moedig vryheid van spraak aan en ‘n verskeidenheid standpunte word hier weergegee. Die menings van die gebruikers van vrouekeur.co.za is hul eie en nie noodwendig dié van Caxton Tydskrifte nie.
Interessante artikels
Meeste kommentaar
Heil Caesar by dié jaar se Dance Umbrella
Ons het gisteraand die choreograaf, Jay Pather se werk, Qaphela Caesar!, by hierdie jaar se Dance Umbrella gaan kyk. Kyk hier na die foto\'s. ...
Ontmoet: Digitale redakteur: Dané de Klerk
Leer die Vrouekeur-span ken
Klassieke klanke: Zanne Stapelberg
Zanne Stapelberg drink vanjaar op die Vrystaat Kunstefees tee, onder andere met Puccini
LEES & STEM (Maart 2015): Vat so, jou feeks
Ek het nog altyd ’n hekel daaraan gehad as dit kom by onregverdigheid op die sportveld. Soos die spreekwoord lui, het elke wedstryd sy beserings, maar...
LEES & STEM (Januarie 2015): Die cowboy
Ons woon hier op ’n plaas in die Weste, die beste Weste, eintlik die Noordweste.
LEES & STEM (April 2015): Die agterstallige paaiement
In elke winkel is die poppe snoesig en warm geklee met bypassende stewels en ’n handsak. Die pop in die een vertoonvenster trek onmiddellik Lulu se...
© 2017 www.vrouekeur.co.za | Alle regte voorbehou | Developed By Digital Platforms