Vrouekeur - Nuutste Uitgawe Vrouekeur - Latest Issue

LEES & STEM (OKTOBER 2014): TINTELING TUSSEN TENDERS

Elrien se vingers dans oor die sleutelbord van haar tablet. Haar oë vasgenael op die syfers wat sy stelselmatig invoer. Nog drie subkontrakteurs se syfers dan speel sy klaar met die verwerkings vir die tender.

DEUR: Ansie Nel
“Sjoe, maar jy tokkel so tablet!” praat Wesley skielik oor haar regterskouer. Die skrik kom sit yskoud om haar hart. Haar reaksie is vurig. Haar woedende blou oë probeer gate deur hom skroei.

“Ag nee dêmmit, Wesley. Moet jy my nou pla? Kan jy sien ek is besig? Meneer Eckley wag vir die tenderdokument,” snou sy die firma se argitek toe.

“Peace, sister. Dis nie my skuld as jy op die nippertjie die subs se syfers bymekaar bring nie,” terg hy met sy hande omhoog.

Sy ruk omtrent haar nek af en haar swart hare swaai met ’n boog.

“Verskoon my! Dink jy wragtig dis ek wat tot op die nippertjie gewag het? Al mý werk was klaar. Vyf subkontrakteurs het ’n halfuur gelede eers hul dokumente ingehandig. Nou moet ek spark om betyds klaar te kry.” Sy skep diep asem. “En dan kom mors jy my tyd!”

Wesley kan omtrent sy tong afbyt. Hy wou net skerts. Hy kry min genoeg kans om met die mooie Elrien te gesels. As hulle bymekaar kom, is dit net oor werk. Sy werk as argitek en hare as bourekenaar oorvleuel dikwels en sy is tog só professioneel. Sy gee geen man ’n kans om naby haar te kom nie.

“Ek is vreeslik jammer,” sê hy “gee dan help ek nagaan en invoer.”

Sy kyk hom eers beredeneerd aan, maar gee dan tog een van die stapeltjies aan en gou is dit doodstil soos hulle die syfers verwerk.

“Hoe laat is betyds?” waag hy na ’n rukkie.

“Die tenderraad sit twaalfuur. Dit beteken die verseëlde koeverte moet kwart voor twaalf in wees,” antwoord sy kortaf.

Teen kwart oor elf is alles gereed en in die koevert vir die tenderraad. Elrien sug verlig toe die bestuurder arriveer. Sy maak vir haar en Wesley koffie terwyl hy die koevert oorhandig.

Die oomblik toe sy die bekers neersit val haar blik op die koevert op haar lessenaar.

“Watter koevert het jy vir die bestuurder gegee?” vra sy vir Wesley,

“Die een wat jy vir my gegee het,” antwoord hy, “hoekom?”

“Hier lê dit dan,” sê sy, haar stem onheilspellend kalm.

“Die ou het die koevert neergesit om badkamer toe te gaan, maar ek het aangeneem hy het dit weer gevat. Ja wag, hy het weer ’n koevert in sy hand gehad toe hy hier uit is,” sê Wesley.

“Dan het meneer Eckley nou die verkeerde koevert en hulle gaan oor vyftien minute die deure sluit. Ons moet baie vinnig ’n plan maak,” sê Elrien gejaagd.

“Enige voorstelle? ” vra Wesley.

“Ek weet! Sy vrou is in Stockholm by familie. Ek sal maak of dit ’n dringende boodskap van haar af is. Dalk kry ek dit ingeglip,” verduidelik Elrien.

“Kom, spring in my kar. Ek sal so veilig moontlik jaag.”

Die sekuriteitswag se Engels is gelukkig van so aard dat hy die urgent message from overseas koop en Elrien fluister met groot gebaar in Meneer Eckley se oor terwyl sy die twee koeverte ongemerk omruil.

Op pad terug is Elrien stil. Sy verpes dit om te lieg. Nou sit sy met ’n hengse kopseer.

“Ek is jammer oor die verwarring,” sê Wesley.

“Dit was mos nie jou skuld nie,” sê sy kortaf. Sy is regtig nie nou lus vir praat nie.

“Jy wil nie nou praat nie?” Hy loer vinnig na haar kant toe.

Sy knik haar kop instemmend.

“Als reg, sal nie nou pla nie,” sê hy inskiklik.

’n Glimlag begin stadig om haar lippe plooi. Die ou is nogal oplettend.

By die kantoor verdwyn elkeen in sy eie kantoor. Elrien sukkel om op dreef te kom. Haar kop bly by die tender.

Skaars ’n halfuur later loer Wesley se blink bruin oë om die deur. Sy rooibruin hare staan regop.

“Ek kan glad nie konsentreer nie,” sê hy. “Die tender tickle my die hele tyd. Dis ’n grote vir ons maatskappy, né?” knoop hy ’n geselsie aan.

Elrien stoot haar stoel terug. Dit help nie om te maak of sy konsentreer nie. Sy kry niks uitgerig nie.

“Jip, ek wonder hoe ons gevaar het,” dink sy hardop en voeg by, “dankie vir jou hulp vanoggend,”

“Ek hoop nie jy dink dit was sonder bymotiewe nie,” glimlag hy.

Voordat sy kan reageer lui die telefoon. Sy antwoord, maar kyk hom stip in die oë terwyl sy praat. Sy hou almal op ’n veilige afstand, maar hierdie Wesley ou laat hom nie juis afsit nie. Dis Meneer Eckley met die goeie nuus dat hulle die tender ingepalm het.

“Ons het dit,” sê sy ingenome toe sy die foon neersit.

Wesley kom om die lessenaar gestorm en gryp haar voor sy tot verhaal kan kom. Hy swaai haar skoon van haar voete af.

“Sien jy nou net, dit was tog die moeite werd om ’n noodleuentjie te vertel,” sê hy toe hulle uitasem tot stilstand kom.

Elrien voel hoe die bloed haar gesig verlaat. Sy is woedend. Kwaad vir Wesley, maar nog kwater vir haarself. “Loop hier uit, jou ... mansmens!”

“Elrie ...” probeer Wesley maar sy hou net haar hande omhoog. Die wit gesiggie het intussen ’n rooi skynsel begin kry. Hy draai om en loop sleepvoet uit.

Gelukkig kan hy nie sien hoe my hart klop nie, dink Elrien. En die gloed in my gesig kan ook van woede wees.

Elrien besef dat Wesley klaar onder haar vel ingekruip het. Weet sy dan nie hoe seer ‘n mens kry nie? Het sy nie haar les geleer met Dawid wat haar met haar beste vriendin verneuk het nie?

Skaars raak haar boude die stoel, toe sy weer opvlieg. Sy het skoon vergeet Meneer Eckley het gesê hulle kan huis toe gaan. Hy is baie tevrede met die tender.

Sy bel vir Wesley oor die interne telefoon.

“Ek het vergeet om te sê Meneer het gesê ons mag maar sluit en huis toe gaan,” sê sy toe hy antwoord.

“Elrien, voor jy die telefoon neersit, ek is vreeslik jammer. Ek wou nie liberties vat nie. Ek dink jy is ’n stunning meisie en ek wil net ’n vriend wees, groot asseblief,” sê hy ernstig.

Sy weet nie hoe om haarself te verweer nie. Al wat Wesley hoor is stilte.

“Wys my jy glo my. Gaan eet vanaand iets saam met my. Toe, komaan. Ek is seker jy is dapper genoeg om een date te oorweeg!” Hy praat al vinniger om haar te oortuig.

“Oukei, een date.” Sy sê dit so sag hy is bang hy het dalk verkeerd gehoor.

As Elrien Wesley se telefoonnommer gehad het, het sy verseker gebel en die afspraak gekanselleer. Sy weet nie wat haar besiel het om ja te sê nie.

Eindelik is sy redelik tevrede en rond haar hare en grimering af. Haar hart doen weer snaakse dinge toe sy die deur oopmaak en hy uitgevat daar staan.

“Wow! Jou oë praat met my. Vergewe my asseblief as ek te veel kyk. Jy lyk beeldskoon!”

“Ja toe, grootprater, jy lyk self baie netjies, hoor,” probeer sy dit wegpraat.

By die restaurant is hy ’n ware heer. Hulle proe tydsaam aan ’n wyntjie terwyl hulle vir die kos wag. Elrien voel hoe sy begin ontspan en haarself oorgee aan die oomblik.

“Wesley, jou dierbare ding!” ’n Rooikopmeisie storm op Wesley af. Sy gee hom nie eens kans om op te staan nie. Hy kry ’n klapsoen en sy bly staan met haar arm om sy nek.

Elrien verstyf tot alles in haar soos ’n gespande boogsnaar voel.

“En dié?” vra Oranjekop. “Stel jy ‘n mens nie voor nie?”

Skielik is Elrien woedend. ‘Hoe durf hy? Een date, sê hy, een date. En dan bespring een van sy ekse hom soos ’n wyfiespinnekop.’

“Moenie moeite doen, om ‘die’ voor te stel nie. Ek gaan sommer nou,” sê sy terwyl sy opstaan en haar handsakkie vat.

Met een beweging staan Wesley op, stoot die meisie ferm eenkant toe en vat Elrien stewig aan die arm vas.

“Elrien, hierdie voorbarige kind is my sussie. Ontmoet vir Suanca. Suanca ons sal jou verskoon. Ons sal weer gesels,” sê hy beslis.

“Sorry!” Suanca trek groot oë voor sy haastig verdwyn.

“Dankie, Kwaaitjie,” sê Wesley terwyl hy sy stoel nader trek.

“Waarvoor?” vra Elrien verbaas.

Hy vat haar hand en vryf liggies daaroor sodat haar hart bokspringe maak. “Nou weet ek jy gee ook vir my om.”

“Moet jou nie verbeel jy sien goed wat nie bestaan nie,” sê sy kortasem.

Hy leun vooroor en streel saggies oor haar wang terwyl hy diep in haar oë kyk.

“Ek kan my nie so misgis nie, ek voel die magic tussen ons,” sê hy. “En jy kan maar ophou stry.”

Sy probeer wegkyk, maar sy oë hou hare vas. Sy voel ’n warm kolletjie op haar maag en haar hele wese begin tintel. Sy kan hom nie antwoord nie.

“Ek sal jou nie seermaak maak nie, Elrien. En as die lewe klappe uitdeel, ek is fris genoeg om te help terugklap, druk maar op my nommer,” sê hy ernstig.

Sy glimlag ten spyte van die intensiteit van die oomblik.

Skielik leun hy vooroor en soen haar saggies op haar lippe.

Sy snak na asem. “Is jy laf? Hier voor al die mense?”

“Net ’n vinnige toetsie liewe Elrien. Nou gaan ons eers lekker eet, maar later probeer ons weer waar geen nuuskierige agies ons kan sien nie, deal?”

Sy gluur hom kamstig kwaai aan, maar voel ’n bedrieglike blos haar gevoelens verraai.

Welkom by die Vrouekeur aanlyngemeenskap!

Vertel ons meer van jouself sodat ons aan jou behoeftes kan voldoen. Klik hier om ʼn vinnige, anonieme digitale meningsopname te doen.

Kommentaar
Wees eerste om kommentaar op die artikel te lewer.
Jy moet ingeskakel wees om kommentaar op die artikels te kan lewer. Indien jy nog nie 'n aanlyn-profiel het nie, kan jy hier een skep

Caxton Tydskrifte moedig vryheid van spraak aan en ‘n verskeidenheid standpunte word hier weergegee. Die menings van die gebruikers van vrouekeur.co.za is hul eie en nie noodwendig dié van Caxton Tydskrifte nie.
Interessante artikels
Meeste kommentaar
Ons gesels met: Cass Abrahams
Tien vrae aan Cass Abrahams, die Koningin van Speserye en die vrou wat Kaaps-Maleise kos in talle huishoudings gewild gemaak het en nou weer ’n nuwe...
7 Oktober 2011 - Lyfstraf is 'n gelaaide woord
Daar’s by my min twyfel dat dié week se artikel, “Reg of weg met die lat?” reaksie sal uitlok.
Carin Krahtz
Maryke Roberts gesels met Carin Krahtz in ons 8 Januarie-uitgawe. Hier beantwoord Carin nog vrae
LEES & STEM (Maart 2015): Vat so, jou feeks
Ek het nog altyd ’n hekel daaraan gehad as dit kom by onregverdigheid op die sportveld. Soos die spreekwoord lui, het elke wedstryd sy beserings, maar...
LEES & STEM (Januarie 2015): Die cowboy
Ons woon hier op ’n plaas in die Weste, die beste Weste, eintlik die Noordweste.
LEES & STEM (April 2015): Die agterstallige paaiement
In elke winkel is die poppe snoesig en warm geklee met bypassende stewels en ’n handsak. Die pop in die een vertoonvenster trek onmiddellik Lulu se...
© 2017 www.vrouekeur.co.za | Alle regte voorbehou | Developed By Digital Platforms