Vrouekeur - Nuutste Uitgawe Vrouekeur - Latest Issue

Die oomblik toe Elsabé en Michael by die restaurant instap, val haar oë feitlik onmiddellik op Fourie waar hy regs in die hoek sit. Sy is heeltemal stom van verbasing, sy het so lank gedroom van die dag dat sy hom weer sou raakloop.

DEUR: Lizelle Botha
Net soos ’n skadu het die soet herinnering aan haar gekleef elke dag, tot nou. Skielik is sy binne die oomblik waarvan sy so lank gedroom het, sy het altyd gewonder of hulle mekaar ooit sou herken sou hulle mekaar weer sien, nou weet sy, hulle sou.

Hul oë ontmoet gelyktydig en die blye verbasing spreek duidelik op sy gesig en sy staan asof in ’n dwaal en staar vasgevang in sy groen oë, toe sy skielik besef dat hy opgestaan het om haar te nader.

Haar hart begin in haar eie ore klop met elke tree wat hy gee. Haar gedagtes herinner haar om kalm te bly, haar handpalms slaan uit in sweet, en met die wilde bokspring van haar maag staan hy skielik reg voor haar! Hy neem haar hande in syne en toe hy haar die mooiste glimlag gee, is sy totaal sprakeloos, en wonder beangs of hy dalk haar hart kan hoor klop.

“My meisiekind, hoe gaan dit met jou?” vra hy en met ’n gestotter kry sy gepraat en wou hom net voorstel aan Michael wat met ’n vreemde kyk na die voorbarige man wat sy verloofde se hande sommer so kom oorneem staar, toe Michael self vorentoe bokspring, Fourie se greep om my hande losmaak en homself met fermheid voorstel: “Michael Greeff, Elsabé se verloofde, aangename kennis.”

Met ’n stille ongemaklikheid verloop die aand verder. Elsabé en Michael aan die een kant van die restaurant en Fourie Vermaak aan die anderkant besig met ’n sake-ete, waar hy tot haar verleentheid, die hele aand in haar rigting bly staar, met ’n glimlag elke keer as hul oë ontmoet.

Elsabé moet erken sy voel ietwat gevlei dat hy net vir haar raaksien, terwyl ander dames sonder skaamte na hom staar.

“Wat gaan aan met jou vandag?” vra Susan geïrriteerd met die stil droomverlore Elsabé wat maar net nie op werk kan konsentreer nie, maar kort-kort terugdink aan die vorige aand.
Sy sit nog en droom toe die ontvangsdame skielik by die kantoordeur inbars. Sy loer in die dame se rigting en kyk vas in die mooiste bos blomme. Gelukkige meisie, seker weer vir die mooie Christine, sy word gereeld met blomme van hoopvolle kliënte oorlaai, dink sy. Toe sê Sanet dat dit vir haar is.

“Kan nie wees nie!” sê sy verbaas. Sy het al baie ruikers van kliënte ontvang wat haar bedank vir haar hulp met hul lenings, verbande en so meer, maar nog nooit het sy so pragtige ruiker ontvang nie.

Michael? wonder sy, maar hy het nie ’n romantiese haar op sy kop nie en hul verhouding is maande al nie meer wat dit moet wees nie; inteendeel, hulle kan nie eers meer ’n gesprek handhaaf sonder om vir mekaar vies te word nie. Sy besef die antwoord lê binne die kaartjie en begin dit lees: “Aan die blouoognooi met die mooi glimlag, na jou sal ek vir altyd kan staar! Geniet jou dag.”

Sy weet instinktief dit is van Fourie Vermaak af en kan dit byna nie glo nie. Die blos op haar wange laat almal in die kantoor wag vir ’n verduideliking en hulle staan dadelik nader. “Ek wil alles hoor,” sê die nuuskierige nuusdraende Susan. “Is alles uiteindelik aan die uitwerk tussen jou en Michael?” vervolg sy.

Toe Elsabé tot verhaal kom en almal op hoogte gebring het, besef sy teleurgesteld dat sy nie Fourie se telefoonnommer of enige kommunikasiemiddel met hom het nie.

Hoe sal sy hom nou kan bedank vir die pragtige blomme? Die teleurstelling maak gou plek vir verbasing toe sy uiteindelik begin werk. Met die oopmaak van haar e-pos, is dit daar ’n e-pos van Mnr Romanties af! Waar sou hy haar adres in die hande gekry het? Nou dat sy daaraan dink, hoe weet hy waar sy werk? Twee jaar het verloop sedert sy hom laas gesien het.

Voor sy egter die e-pos kan lees, lui haar telefoon. “Michael …”

“Môre, Elsabé, kan ek jou sien vanaand, ons moet praat,” sê hy ferm.

“Michael, as jy iets wil sê, kan jy dit net sowel nou sê, want daardie woorde hou nooit iets goed in nie,” antwoord Elsabé ongeërg.

“Nou goed, as jy dit so verkies!” sê Michael vies. “Ek dink dit is beter dat ons die verlowing verbreek, ek dink ons albei weet die ding tussen ons werk nie en dit kom lankal aan. Dit is net onvermydelik.”

“Ek stem saam met jou, Michael, ek dink ons is beter vriende as geliefdes.” Sy voel verlig, dog bietjie afgehaal.

“Ek het besluit om die pos te aanvaar en sal die einde van die maand verhuis,” sê Michael.

Elsabé sit ietwat verslae die foon neer. Dit voel of sy pas deur ’n warrelwind is.

Susan kom natuurlik dadelik nader om te hoor wat aangaan, en Elsabé is regtig nie lus om nou met haar te gesels nie, sy wil alles wat pas gebeur het net in stilte verwerk.

Sy wou net weer haar e-pos oopmaak, toe haar foon skielik lui. Ag, net nie weer Michael nie, dink sy. Sy merk egter dat dit ’n nommer is wat sy nie ken nie. Ontydige kliënt, dink sy, maar antwoord. “Elsabé Basson, goeiemiddag.”

“Is dit die mooiste blouoognooi waarmee ek gesels?” lui die diep stem aan die anderkant.
Elsabé se asem snak kliphard van skok en almal in die kantoor kyk dadelik op. “Fourie?” stotter sy. “Baie dankie vir die pragtige blomme, maar ek kan ongelukkig nie nou met jou gesels nie,” sê Elsabé kortaf en lui af.

Sy besef sy moet uit die kantoor kom en storm by die deur uit sonder om iets vir iemand te sê. Laat hulle maar staar, dink sy en ry na die koffiewinkel op die hoek. Hier sal sy haar kop kan skoonkry.

Die volgende oggend kry Elsabé ’n boodskap op haar foon wat lees: “Laat weet my as jy vir my ’n tydjie kan inruim – Fourie.”

Elsabé glimlag skuldig en voel sleg dat sy die vorige dag so kortaf was. Sy is nogal verbaas dat Fourie ná alles met haar kontak maak, en stuur vir hom ’n boodskap terug: “Ek het nou ’n tydjie vir jou.”

Haar foon lui en ná ’n kort gesprek lui sy af.

“En? Wat sê hy?” vra Susan.

“Nie veel nie, hy het my genooi om hom na sy suster se troue oor twee weke te vergesel, en voor jy my oorlaai met onbenullige vrae, ons gaan as vriende, ek het aan hom verduidelik ek stel definitief nie op die oomblik in ’n verhouding belang nie.”

Skielik praat die kelner langs haar: “Kan ek u iets te drinke aanbied terwyl u wag, Mevrou Vermaak?”

“Ja, dankie,” antwoord Elsabé. “Kan jy vir my ’n bottel sjampanje bring?”

Waar is die tyd heen? dink sy toe sy in haar gedagtes terugdwaal. Vandag is haar en Fourie se huweliksherdenking, dit is sowaar al ses jaar! Dit voel alles nog soos gister wat hulle mekaar weer raakgeloop het en vandag is sy nog meer verlief op hom.

Haar gedagtes hardloop na die dag van sy suster se troue, hul eerste nie-amptelike afspraak. Hy het so ongelooflik in sy pak gelyk en haar voete onverwags onder haar uitgeslaan. Elsabé onthou met ’n warm hart hoe hulle gaan vars lug kry het … Hy het soos ’n heer op sy een been een gesak met die blos van ’n skoolseun op sy wange en gevra: “Sal jy asseblief my meisie wees?”

Dit was die perfekte oomblik, al die voornemens om nie ’n volgende verhouding binne te gaan nie, het net soos mis voor die son saam met haar hart weggesmelt en sy het voor die aantreklike donkerkopman geswig.

Toe sy na die skadu wat deur die restaurantingang stap opkyk, kyk sy in haar lang donkerkopman vas. Hy glimlag so mooi vir haar en stap nader met die mooiste bos blomme. Hy neem haar hande in syne en sê: “Onthou jy die dag hier in die restaurant? Ek het toe vir Ben gesê ek gaan nog met jou trou, en nou, ná al die tyd, kan ek steeds elke dag na jou staar.”

Met ’n gegiggel kom hul twee woelwaters reguit in Elsabé se arms in aangehardloop, en sy weet, hul lewe is ’n ongelooflike sprokie.
Welkom by die Vrouekeur aanlyngemeenskap!

Vertel ons meer van jouself sodat ons aan jou behoeftes kan voldoen. Klik hier om ʼn vinnige, anonieme digitale meningsopname te doen.

Kommentaar
Wees eerste om kommentaar op die artikel te lewer.
Jy moet ingeskakel wees om kommentaar op die artikels te kan lewer. Indien jy nog nie 'n aanlyn-profiel het nie, kan jy hier een skep
Pieter0213 sê:
07:09 (GMT+2), Dinsdag, 25 November 2014
Die storie roer die hartsnare, beautifull!!!!!!

Caxton Tydskrifte moedig vryheid van spraak aan en ‘n verskeidenheid standpunte word hier weergegee. Die menings van die gebruikers van vrouekeur.co.za is hul eie en nie noodwendig dié van Caxton Tydskrifte nie.
Interessante artikels
Meeste kommentaar
Gewone rots of meteoriet?
Loer hier na die video van 'n massiewe stuk rots wat astronome glo die tweede grootste ontdekte meteoriet in die wêreld kan wees
Doen 'n Karoo-'Trippie' saam met Nicola Hanekom by die Absa KKNK
Nicola Hanekom, bekroonde dramaturg, regisseur en aktrise, spog met twaalf Kanna-toekennings oor die afgelope drie jaar. Hierdie jaar is sy weer terug...
Die storie agter die storie - 25 Februarie 2011
Openingsinne is 'n manier waarop die leser by die verhaal ingetrek word
LEES & STEM (Maart 2015): Vat so, jou feeks
Ek het nog altyd ’n hekel daaraan gehad as dit kom by onregverdigheid op die sportveld. Soos die spreekwoord lui, het elke wedstryd sy beserings, maar...
LEES & STEM (Januarie 2015): Die cowboy
Ons woon hier op ’n plaas in die Weste, die beste Weste, eintlik die Noordweste.
LEES & STEM (April 2015): Die agterstallige paaiement
In elke winkel is die poppe snoesig en warm geklee met bypassende stewels en ’n handsak. Die pop in die een vertoonvenster trek onmiddellik Lulu se...
© 2017 www.vrouekeur.co.za | Alle regte voorbehou | Developed By Digital Platforms