Vrouekeur - Nuutste Uitgawe Vrouekeur - Latest Issue

Ons woon hier op ’n plaas in die Weste, die beste Weste, eintlik die Noordweste.

DEUR: Sakkie Liebenberg
Die bure se seun is ’n bietjie ouer as ek, so ’n groot, fris ou met baie beenhare. As ek van die outjie praat, sê my ma ek kry nou rooi hakskeentjies. Elke aand in die bad kyk ek, maar ek sien niks nie. Anderdag gehoor my pa sê ek loer nou ook al oor die onderdeur. Kan dit ook lankal doen.

My maats sê die outjie is vreeslik lief vir perdry. Elke aand as ek die bokke melk, jaag hy op sy wit perd hier verby. My ridder op die wit perd? Ek hoor by die skool die outjie ry ook langafstandkompetisies met sy perd. Dan trek hy sy cowboyklere aan. Ek het hom anderdag met die klere gesien, toe word dit sommerso warm hier binne my. Ek het kwaai geskrik, gedink ek kry koors. Ek dink toe só, as ek ook langafstandkompetisies kan ry, het ons tyd om lekker te gesels. Ek moet nog net ’n perd kry, hier is net bokke, donkies en skape op ons plaas.

Eendag loop ek op die winkelstoep by hom verby, maak asof ek hom nie raaksien nie. Skrik my asvaal toe iemand my aan die arm vat. Maar toe hy met sy blou oë so in myne kyk, kry ek sommer die pipperelakoors en gaan aan ’t bewe, sonder rede. Ons groet en na so ’n paar onsinnige opmerkings, kry ek ’n bevlieging en vra of hy my sal leer perdry. Ja, sekerlik, ons kan sommer Saterdagmiddag begin, hy sal na ons toe oorkom en ’n perd saambring.

Vrydagaand het ek my behoorlik getitivate. Gebad, gekleur, geolie, geskuur, geverf en nog ander geheime dinge wat ‘n mens onder sulke omstandighede vinnig aanleer.

Saterdagmiddag sit ek heeltyd op die stoep en wag vir my ridder op sy wit perd. Lang denimbroek aan, langmoubloes vir die takke as ons deur die bosse jaag. My ma sê as ek dan nou van ’n perd moet afval, kan ek dit ten minste kuis doen.

Liewe vader, nogmaals liewe vader, wat kom hier in die pad aan? Dis die outjie met ’n oorpak aan en hy sleep ’n grys donkie agter hom aan. Hy rek die ding se nek so dat dit lyk asof die donkie nege nekwerwels het. Die donkie se stert is tot doer agter ingetrek!

Kom staan so ewe anderkant die hekkie en groet uitasem. Skatlik, maar nie te ywerig nie sê ek: “Ek het gedink jy gaan my leer perdry!” Nee, dis nie net sommer vir op die perd klim nie, dis te hoog. Ek moet onder begin, as ek myself op die donkie bewys het, kan ek ’n perd ruik.
Nou sleep hy weer vir Jafta hier af tuin se kant toe waar ’n groot klip is waarop ek kan staan om op te klim. En so word Jafta langs die klip geparkeer en ek weet dit sal baie kos om hom weer aan die beweeg te kry. Die outjie hou voor vas en ek bestyg die klip. Ek vat aan die donkie se rug en maanhare en gril my amper uit my klere uit vir daardie vuil, stekelrige donkiehare. Jig!

Ek gaan lê oor die donkie se rug, gril my nog steeds vrek! Ek werk uit hoe sal ek nou op hierdie donkie kom. Sal seker soos moeder Maria dwars moet sit. Nee, sê die outjie, sy bedoeling is dat ek die donkie wydsbeen bloots moet ry. Hy beduie ek moet tot op die donkie spring, my arms styf maak, my een been oorswaai en op die donkie se rug gaan sit. Hy wys en beduie, maar ek kan nie kop of stert uitmaak nie. Wil ook nie nou dom klink nie.

So gesê, so gedaan en ek spring. Nooit geweet my armpies is so swak nie. Hulle swik sommer en wappeka, daar lê ek half winduit oor die donkie, amper alles platgeval en og, daardie borselhare teen my sagte velletjie waar die bloes opgeskuif het. Weer probeer. Hierdie keer, toe ek my been te laag oorswaai, skop ek per ongeluk vir Jafta op sy kruis en daar gaan hy sonder my.

Weer probeer, maar nou is Jafta bang hy word weer geskop. Elke keer as ek naby hom kom, gee hy pad. Nee, sê die outjie, ek moet met spoed kom en opspring, hy sal keer dat Jafta nie weer padgee nie. En ek gaan draai daar anderkant, spring weg en daar kom ek. Net toe ek deur die lug trek, wil Jafta weer padgee. Die outjie skop die donkie aan die ander kant in sy pens en hier kom die donkie en ek seil bo-oor hom. Val my half vrek op die klippe.

Nee, dit werk ook nie. Dan moet ek maar van agter af opspring soos die seuns wat bok-bok speel. Die outjie sal sorg dat die donkie nie vorentoe loop nie. Reg, gaan staan daar agter en hier kom ek weer. Maar die donkie weet lankal wat ek gaan doen. Net toe ek met albei hande op sy kruis wil druk, knypgat hy en daar is geen kruis nie. Bene in die lug, lê ek weer in die stof.

Nou reken die outjie ek het genoeg geoefen, ek kan nou maar perdry. Liewe vader, ek was nog nie op ’n donkie nie en kyk hoe lyk ek, vol stof, bebloed, bloes geskeur, maar ergste van alles is dat my broek se naat gebars het.

Die outjie gaan gou die donkie bêre, dan kom hy terug en ons kan die perdrylesse bespreek. Intussen titivate ek my weer; ‘n mens weet nooit!

Later die aand daag die outjie toe ook weer daar op, netjies uitgevat. Ja, ons kan môremiddag met die perde gaan ry, hy sal vir my die makste perd bring. Verder het die aand al beter verloop totdat hy sy medelye met my seer lyf uitspreek. Toe besluit ons dis beter om hierdie seer lyf te laat rus. En hiermee is my dag ook verby.

Daardie nag was moeilik, my lyf was oral seer. Intussen droom ek van ons twee op wit perde, al vlietend oor rand en rivier. En ons albei het cowboyklere aan, six-shooters en al. Indiane, hier kom ons.

Sondag is dit warm, almal soek net koelte. Ek trek ook maar net die nodigste aan, net om koel te bly, maar darem ook met ’n bietjie moedswilligheid. Laatmiddag kom die outjie op sy wit perd hier aan. Maar die ding wat hy vir my saamgebring het, se rug is hol en sy nek is verrek. En die man het sy cowboyklere aan!

Ek het nou ook ’n perd om te ry. Maar ou Holrug is steeds te hoog vir my wit beentjies wat onder die kort broekie uitsteek. Ek vra toe maar hulp by die outjie. Linkervoet in die stiebeuel! Toe ek dit regkry, sit my linkervoet net hier onder my linkeroog. Nou sien die outjie hy sal moet help. Staan so terug en bloos bloedrooi toe hy sien ek het nie eintlik baie bedekte vatplek oor nie. Nou kry ek ook ’n waaghalsige skaamte. Ek staan met my voet in die stiebeuel en bloos en die outjie staan en bloos sonder vatplek. Uiteindelik het hy gebuk en my met sy skouer op die perd gelig. Geen woord word gerep nie.

Eers begin ons rit met ’n stadige pas, maar later begin ek tuis voel op die perd. Toe begin die outjie se perd draf en myne skommel agterna. Hier skommel ek nog van ou Holrug af en ek kla, soebat en waarsku. Die outjie trek sy wit perd op ’n galop en daar gaan ou Holrug ook. Heerlik, ons jaag oor rand en sand en gil en skree. Laat by die huis gekom.

Ons sit op die stoep in die koel aandlug en bespreek die dag se rit, maar vermy die opklim. Daar’s dinge waarvan ’n mens nie praat nie! Later sê die outjie dat die takke my bene te veel geskraap het en dat ek volgende keer een van sy cowboy-uniforms kan kry. Eers later sou ek uitvind dat ’n man se knoopsgate in ’n ander rigting as ’n dame s’n oopmaak en dat ’n dame se langbroek nie gulpknope het nie.

Maak nie saak nie, ons het al meer en meer perd gery, hy op sy wit perd en ek met ou Holrug, maar met ons cowboy-uniforms aan. En elke aand het ek gedroom van cowboys en Indiane. Hoe hulle ons voorlê en op ons skiet en hoe ons met ons goeie perde vir hul paloekas wegjaag. Ou Holrug kon hol!

Anderdag hoor ek hoe die outjie van destyds en ons twee seuns aan die eettafel sit en lag. Ek luister hulle af. Hoor toe hy vertel hulle hoedat hy my met ’n donkie en ’n slap riem gevang het.
En vandag ry ons met ons 4x4 Weste toe om vir ons kinders ’n Kalahariplaas met donkies te gaan wys!
Welkom by die Vrouekeur aanlyngemeenskap!

Vertel ons meer van jouself sodat ons aan jou behoeftes kan voldoen. Klik hier om ʼn vinnige, anonieme digitale meningsopname te doen.

Kommentaar
Wees eerste om kommentaar op die artikel te lewer.
Jy moet ingeskakel wees om kommentaar op die artikels te kan lewer. Indien jy nog nie 'n aanlyn-profiel het nie, kan jy hier een skep
engelize sê:
17:34 (GMT+2), Saterdag, 31 Januarie 2015
Uitstekende storie. Ek gee dit vyf sterre.
Juka sê:
17:50 (GMT+2), Saterdag, 31 Januarie 2015
Dis 'n lekker lag, lekker lees storie. Geluk oupa!
Izaan sê:
20:22 (GMT+2), Saterdag, 31 Januarie 2015
Pragtige lekker lees storie my oupa. Het baie lekker gelag.
Rina sê:
20:27 (GMT+2), Saterdag, 31 Januarie 2015
Baie goeie humoristiese verhaal. Iets anders as die gewone. Karakters leef. Baie geniet.
Karli sê:
20:41 (GMT+2), Saterdag, 31 Januarie 2015
Interessante karakters. Lekker humorsin. Lees maklik en storie vloei. Sien uit na volgende storie.
Karli sê:
20:41 (GMT+2), Saterdag, 31 Januarie 2015
Interessante karakters. Lekker humorsin. Lees maklik en storie vloei. Sien uit na volgende storie.
Rigard sê:
21:11 (GMT+2), Saterdag, 31 Januarie 2015
Het storie baie geniet en lekker gelag. "Sien" die karakters.
zak sê:
21:20 (GMT+2), Saterdag, 31 Januarie 2015
Lekker gelag. Ons wag vir nog. Dankie Vrouekeur dat julle sulke goeie stories plaas.
Ernst sê:
21:27 (GMT+2), Saterdag, 31 Januarie 2015
'n Tipiese Sakkie se storie. Lekker leestof. Hou asb aan om sulke lewendige interessante stories te skryf.

Caxton Tydskrifte moedig vryheid van spraak aan en ‘n verskeidenheid standpunte word hier weergegee. Die menings van die gebruikers van vrouekeur.co.za is hul eie en nie noodwendig dié van Caxton Tydskrifte nie.
Interessante artikels
Meeste kommentaar
Hekel 'n baret
Hekel ’n sagte baret in pastelkleure
Drink jou tiener?
Hewige alkoholgebruik tydens adolessensie kan breinontwikkeling beïnvloed
Keurige klassieke musiek-program gee Sonnige Spaanse Sensasies
Die Absa KKNK het vanjaar weereens 'n keurige klassieke musiekprogram.
LEES & STEM (Maart 2015): Vat so, jou feeks
Ek het nog altyd ’n hekel daaraan gehad as dit kom by onregverdigheid op die sportveld. Soos die spreekwoord lui, het elke wedstryd sy beserings, maar...
LEES & STEM (Januarie 2015): Die cowboy
Ons woon hier op ’n plaas in die Weste, die beste Weste, eintlik die Noordweste.
LEES & STEM (April 2015): Die agterstallige paaiement
In elke winkel is die poppe snoesig en warm geklee met bypassende stewels en ’n handsak. Die pop in die een vertoonvenster trek onmiddellik Lulu se...
© 2017 www.vrouekeur.co.za | Alle regte voorbehou | Developed By Digital Platforms