Vrouekeur - Nuutste Uitgawe Vrouekeur - Latest Issue

Ek het nog altyd ’n hekel daaraan gehad as dit kom by onregverdigheid op die sportveld. Soos die spreekwoord lui, het elke wedstryd sy beserings, maar dit moet binne die reëls geskied. Daar kan hard gespeel word, maar daar is mense wat nog glo in “’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand”. Ek is nie so grootgemaak nie. Ek is geleer dat mens mekaar moet verdra en liefhê. My ouers het egter niks van die sportgebied genoem nie en ek het onmiddellik die skuiwergat raakgesien. Maar dit eers daargelaat, laat ek die gebeurtenis vir julle skets.

DEUR: Evelyn van der Merwe
Dit is in die vroeë negentigs in Mafikeng, Bophuthatswana. Ons het as gesin soontoe verhuis omdat my man daar as vlugingenieur aangestel is. Ons moes gou by die lugmaglewe en bedrywighede aanpas. Die lugmagdames het besluit om ’n sagtebalspan bymekaar te maak om teen die dorpspan mee te ding en dan ook die manne bietjie opdraand te gee as ons teen hulle oefen. Met party van die dames se nikotienlonge en selluliet op verkeerde plekke, het dit in die begin maar effe moeilik gegaan. Veral die veldwerk was power en ons sou selfs teen die laerskoolspan nie hond haaraf kon maak nie. Gelukkig was daar ’n paar staatmakers en vasbyters wat op gereelde basis aangemoedig en ondersteun het, want omtrent vyftig present van die span was so onfiks en het meer murmureer as wat hulle veldwerk gedoen het.

Soos ons fikser geword, het ons spel verbeter. Ons het ’n hele paar wedstryde as oefenlopies teen die manne gespeel. Hulle moker vir jou ’n bal, maak nou maar nie ’n fout nie. Die korrekte prosedures en reëls, en dan natuurlik truuks, is ook met elke wedstryd aan ons uitgewys. Ons het ’n paar vriendskaplike wedstryde teen die hoërskool en omliggende dorpe gespeel en nie te sleg gevaar nie. Gelukkig het ons in meer as die helfte van die wedstryde as oorwinnaars uitgetree en die oefening het ons goed gedoen.

Ons spankaptein reël toe vir ons ’n wedstryd teen die veelbesproke, gevreesde dorpspan en ons oefen harder as ooit. Daar word ook aandag geskenk aan die uitrustings sodat dit meer impak en oemf kan hê. Gerugte doen die rondte oor die gevreesde Daleen en ons beraam planne en truuks om haar te uitoorlê, maar niemand sien regtig kans om haar aan te vat nie. Sy is so sterk soos ’n os en stuit vir geen duiwel nie. Dit laat mens onomwonde wonder of sy tog as vrou gebore is. Daar word na verskeie wedstryde van die dorpspan op video gekyk om hul spelpatroon te bepaal en ons probeer teenvoeters vir elkeen van hul aksies ontwikkel. Daleen bly egter die kinkel in die kabel om die eenvoudige rede dat dieselfde skeidsregter wat haar voorheen met moord laat wegkom het, ook ons aankomende wedstryd sal beoordeel. Dit kan nog ’n enorme kopseer veroorsaak.

Die lugmagdames word luid toegejuig elke keer as ’n lopie aangeteken word. Maar elke jaar slaag Daleen telkemale daarin om iemand se humeurmeter in die rooi te druk of dan alternatiewelik die persoon met ’n besering van die veld af gestuur te kry. Sy het haar doodeenvoudig nie aan reëls gesteur nie. ‘n Mens wonder hoeveel betaal sy die skeidsregter om anderpad te kyk. As sy eers gebukkend wydsbeen staan, was daar moeilikheid dwarsoor haar gesig geskets. Kyk, sy kon nou maar eenmaal ’n bof verdedig, gee haar dit toe. Met haar kuite soos pampoene en bo-arms wat lyk of sy vir die een of ander supermark stoei, het almal rede gehad om lugtig te wees vir haar.

Almal teen wie die dorpspan kragte gemeet het, het ’n doodse vrees vir Daleen gehad. Sy het niemand ontsien nie. Dit het my meer laat besef dat iemand haar eens en vir altyd op haar plek moet sit, maar die enigste gewenste, suksesvolle kandidaat sit hier soos ’n vrot vel met ’n besering.

Dis nou ek. Maar ek sit as plaasvervanger op die pawiljoen as gevolg van ’n kniebesering. Ek sou wat wou gee om daar op die veld te wees, want ek is superfiks met geen bang haar op my kop nie, en ek wil die feeks graag op haar plek sit.

Kort-kort is daar ’n geboe van die lugmagondersteuners wat nie met ‘n beslissing saamstem nie, maar die spel gaan eenvoudig voort asof binne die perke.

So breek rustyd aan en die tweede helfte van die wedstryd neem ’n aanvang.

Die bal word sekuur na die kolwer geboul en sy slaan hom reguit terug na die bouler, wat misvang, maar vining die bal opraap. Die bouler moet sonder om twee keer te dink die bal by Daleen kry wat op die eerste bof staan om sodoende ’n lopie af te weer. Daleen staan egter soos ’n rots met haar een voet permanent op die bof geplaas en sy het selde of ooit ’n bal misgevang. So met haar bak hande en die kolwer in aantog, vang Daleen die bal en met ’n swaaibeweging pomp sy haar vuisbal in die aankomende kolwer se maagspiere in om haar te stuit.

Nodeloos om te sê het die skeidsregter nog steeds geen vuilspel geïdentifiseer nie. Vanaf die pawiljoen styg misnoeë op teen die vuilspel, maar die skeidsregter is horende doof en siende blind.

Betsie, die kolwer, gee een onaardse kreun, vou inmekaar en is so uit soos ’n kers. Aangesien die lugmagspan geen reserwes meer het nie, nader ek ons afrigter en bied aan om te gaan kolf. Sy wil egter niks daarvan hoor nie omdat sy bekommerd is dat ek my knie verder kan beskadig. Die uitdrukking op my gesig vertel haar egter dat sy nie verdere onnodige vrae moet vra nie en sy stem in dat ek op die veld mag gaan.

Soos mes is ek in posisie met die aluminiumkolf wat op my regterskouer rus.

Ek tref die bal sekuur. Dit trek lynreg en teen ’n spoed van wit lig na die tweede bof waarheen ek gemik het. Dit sou my genoeg kans gee om die eerste bof te bereik. Ek trek weg soos ’n borrel uit ’n bad en kry tonnelvisie.

Etlike sekondes voor die bal Daleen bereik, is ek by haar en duik skouer eerste reg op haar knie af. Daleen se been, wat altyd gewaak het oor haar bof, maak ’n snaakse kraakgeluid en sy steier met ’n hele paar kragwoorde agteroor en land onvroulik op haar sitvlak.

Binne minute vorm ’n sirkel om haar en die dorpspan se afrigter kom nadergedraf. Sy buk bekommerd oor haar, want sy besef maar alte goed dit is haar beste speler. Ek word deur die afrigter se vuurspuwende oë aangegluur, maar antwoord net met ‘n skalkse glimlag. Intussen borrel die kragwoorde uit Daleen se mond en haar handgebare laat my verstaan dat sy nog nie klaar met my is nie.

Draagbare en medici word nadergeroep en Daleen word onseremonieel van die veld verwyder. Die lugmagondersteuners op die pawiljoen maak luidkeels hul tevredenheid bekend. Ek moes egter ook met behulp van twee persone waarop ek stut, die veld verlaat, want met die duikslag het ek inderdaad nog ligamente in die knie geskeur, maar dit was nou deur en deur die moeite werd en dit was pyn van triomf.

My operasie sal my maksimum vier weke buite aksie sit, maar ek het my bedenkinge of Daleen binne drie maande sal kan herstel. Die ego gaan jare neem. Dan is daar natuurlik ook die volgende wedstryd as sy volkome herstel het, wie weet wat dan kan gebeur en of sy nog so dapper, moedig en onverskrokke sal voorkom.

Nodeloos om te noem dat ek verbied is om aan die volgende wedstryd deel te neem as gevolg van ontoelaatbare vuilspel. Daleen is onaktief gelaat vir die res van die jaar as gevolg van ’n gebreekte knieskyf. Met ’n ongelooflike brandpyn in my knie en ’n lied in my hart, verlaat ek die perseel op pad na die hospitaal. Met ’n breë glimlag dink ek “dis mos nou hoe ’n mens met ’n feeks se gal (bene) werk.”
Welkom by die Vrouekeur aanlyngemeenskap!

Vertel ons meer van jouself sodat ons aan jou behoeftes kan voldoen. Klik hier om ʼn vinnige, anonieme digitale meningsopname te doen.

Kommentaar
Wees eerste om kommentaar op die artikel te lewer.
Jy moet ingeskakel wees om kommentaar op die artikels te kan lewer. Indien jy nog nie 'n aanlyn-profiel het nie, kan jy hier een skep
Ans sê:
17:27 (GMT+2), Donderdag, 12 Maart 2015
Baie goeie verhaal. Lees lekker aan die verhaal. Die storie kan 'n mens met jouself vereenselwig. Goed geskryf
jaco sê:
14:03 (GMT+2), Vrydag, 13 Maart 2015
Hierdie is voorwaar 'n lekkerlees kortverhaal en prikkel die lagspiere. Mooi beksrywend neergepen. Hou hiervan
Evelyn sê:
14:23 (GMT+2), Vrydag, 13 Maart 2015
Baie interessant geskryf met genoeg humor vir die lagspiere. Hou hiervan.
Evelyn sê:
14:25 (GMT+2), Vrydag, 13 Maart 2015
Dankie vir julle inloer en saamlees, ek waardeer.
Evelyn sê:
14:27 (GMT+2), Vrydag, 13 Maart 2015
Hierdie klink sonder twyfel na iets wat my Ma sou aanvang. Die skrywer slaag om die leser deurentyd te bind. Sal graag nog van haar wou lees.
Carol sê:
17:33 (GMT+2), Vrydag, 13 Maart 2015
Lekker gelees! Boeiend van begin tot einde :)))
Jurika sê:
07:41 (GMT+2), Saterdag, 14 Maart 2015
Hierdie klink sonder twyfel na iets wat my Ma sou aanvang. Die skrywer slaag om die leser deurentyd te bind. Sal graag nog van haar wou lees.
junior1 sê:
07:45 (GMT+2), Sondag, 15 Maart 2015
Hou baie hiervan.
sakkie sê:
17:43 (GMT+2), Woensdag, 18 Maart 2015
Ek het hierdie voorwaar geniet. Jy mag maar.
charleine sê:
13:15 (GMT+2), Donderdag, 19 Maart 2015
My so laat dink aan my sportbelewing (langs die veld) op al die dorpies waar ek grootgeword het. Baie oulik!
mcmillanabsamailcoza sê:
15:11 (GMT+2), Donderdag, 19 Maart 2015
Jinne hoe werk ek my op vir die vroumens en hoe krul my tone toe van lekkerkry!! Puik verhaal wat goed geskryf is!
DriekieG sê:
03:22 (GMT+2), Vrydag, 20 Maart 2015
Baie mooi en realisties vertel.

Caxton Tydskrifte moedig vryheid van spraak aan en ‘n verskeidenheid standpunte word hier weergegee. Die menings van die gebruikers van vrouekeur.co.za is hul eie en nie noodwendig dié van Caxton Tydskrifte nie.
Interessante artikels
Meeste kommentaar
BREI ’n kabelbolero
Brei hierdie spesiale trui vir ’n spesiale meisie
Redakteursbrief:Oor berge en molshope
Die gesegde: "Dis nie wat met jou in die lewe gebeur nie, dis hoe jy daarop reageer", is makliker gesê as gedaan as iets met jou gebeur wat nie van...
Redakteursbrief: Ons onthou dié onnies
Ek dink nie met heimwee aan my skooldae en onderwysers terug nie. Dalk was ek die gemene deler, maar daar is nie een onderwyser wat ek as 'n rolmodel...
LEES & STEM (Maart 2015): Vat so, jou feeks
Ek het nog altyd ’n hekel daaraan gehad as dit kom by onregverdigheid op die sportveld. Soos die spreekwoord lui, het elke wedstryd sy beserings, maar...
LEES & STEM (Januarie 2015): Die cowboy
Ons woon hier op ’n plaas in die Weste, die beste Weste, eintlik die Noordweste.
LEES & STEM (April 2015): Die agterstallige paaiement
In elke winkel is die poppe snoesig en warm geklee met bypassende stewels en ’n handsak. Die pop in die een vertoonvenster trek onmiddellik Lulu se...
© 2017 www.vrouekeur.co.za | Alle regte voorbehou | Developed By Digital Platforms