Vrouekeur - Nuutste Uitgawe Vrouekeur - Latest Issue

Ná wat soos 'n ewigheid gevoel het, is dit weer sulke tyd. Die skole heropen. Kry hier wenke om dit makliker te maak

DEUR: Zerelda Esterhuizen

1. Kalenders werk fantasties om beplanning te doen. Gebruik jul slimfone se kalender sodat Pa, Ma (en tieners) op hoogte van geleenthede kan bly. Apple het byvoorbeeld “family sharing” waar die hele gesin geleenthede kan byvoeg en almal op hoogte van als kan wees.

2. Stel so gou as moontlik aandreëls in plek soos geen skermtyd 'n uur voor slaaptyd nie en vaste slaaptye. Kinders floreer op roetine en vasgestelde bad- en slaaptye werk goed.

3. Almal moet weet wat van hulle verwag word. Muurkaarte vir kleintjies werk goed, sodat hulle kan sien wat presies gebeur. Bv: Ek staan op, ek eet pap, ek borsel tande en trek aan en dan ry ons skool toe. Of in die aand: Ons eet, ek speel 'n bietjie, ek bad, dis storietyd en dan slaaptyd.

4. Kry 'n oggendroetine wat werk. Sit in die aand reg wat jy kan, soos skooltasse en sportklere en pak kosblikke vinnig in die oggend. Hou dit eenvoudig, voedsaam en lekker.

5. Bêre kosblikke, kossakkies, koeldrankbottels en dies meer in dieselfde kas.

6. Kry een plek in die huis waar al die skoolpos moet gaan en bêre in die aand jou handsak, sleutels en dies meer op dieselfde plek sodat daar nie 'n gesoek hoef te wees nie.

7. As jy ander ma’s ken wat met op- en aflaai kan help, benut dit. Kry 'n ander ma in die klas se nommer sodat jy kan raad vra as die boodskappe nie reg oorgedra word nie.

8. Skooltyd bring ook 'n nuwe wasgoedroetine mee, want Boetie en Sussie het ook net soveel uniforms. Leer jou kinders van jongs af om vuil klere in die mandjie te gooi (en nie in die tas of kamer op te gaar nie).

9. Hou huiswerk onder beheer deur 'n spesifieke plek in die huis daarvoor toe te ken. Sorg dat daar skryfbehoeftes by die huis is sodat kinders nie skoolgoed daarvoor te gebruik nie. Anders bly dit dalk net by die huis agter.

10. In Januarie word al die benodigdhede gewoonlik afgemerk, as jy kan, koop genoeg vir die ander kwartale.

11. As jy 'n tiener het, is daar ook ander dinge buiten skoolgoed wat hulle nodig het. Sit byvoorbeeld 'n sakkie in haar sak met deodorant, ekstra haargoed, tampons, lipsalf, ensovoorts.

12. Kry 'n oortrekstasie gereed en sit die skêr, plastiek, oortrekpapier, sellofaan en kleeflint in 'n mandjie gereed. Julle ken seker al die storie van “die boeke moet die volgende dag al terug, Ma”.

13. Merk al jou kind se skryfbehoeftes duidelik. Volg hierdie skakel om etikette uit te druk. Verduidelik ook die konsep van “verlore eiendom” aan jou kind en dat jy nie net kan bly koop nie.

14. Wees op hoogte van skoolreëls en gesels met jou kind daaroor.

15. Kopluise is ongelukkig 'n realiteit, veral vir kleiner kinders. Gebruik afweermiddels en kry alles gereed vir as daar 'n besmetting voorkom.

16. Koester jou kinders. Ons almal weet dit, maar sjoe, hulle word vinnig groot. Geniet die tyd saam met hulle en neem baie foto’s. Sterkte!

Ma’s gee raad

Liezel Bezuidenhout van Krugersdorp: My beste wenk bly 'n maandelikse witbord waar ek al die aktiwiteite opskryf. Dit help om te beplan en nie van take en sportoefeninge te vergeet nie.

Monja van Vuuren van Kaapstad: Leer jou kinders van jongs af om hul tasse in die middag uit te pak. Die kosblik en bottel moet wasbak toe, vuil klere mandjie toe en huiswerk moet tafel toe sodat julle daarna kan kyk.

Sandra Verster van Bloemfontein: Nie almal hou daarvan nie, maar weeklikse spyskaarte hou my relatief kalm. Ek kan so een keer 'n week winkel toe gaan en ek kan dadelik kosmaak as ek by die huis kom.


Onnies se wenke

Sonja Brits, 'n onderwyseres by Laerskool Rapportryer, Randfontein:

  • Laat jou kinders self hul tasse dra – dit laat hulle belangrik voel. Beperk die saamloop na die klas om die afskeid makliker te maak.
  • Wees altyd betrokke en gesels op 'n ligte terloopse noot met jou kind oor die dag se gebeure. Moenie dat kinders voel hulle moet nou daaroor gesels nie. Dit laat hulle onder druk voel en lei daartoe dat hulle nie altyd die waarheid vertel nie.
  • Begin al twee dae voor skool met 'n slaaproetine: 19:30 in die bed, lees 'n storie (Bybel) saam met jou kind en laat die kind teen 20:00 slaap. Hulle is dan in 'n roetine as die skool begin.
  • Sit skoolklere en tassie die aand voor die tyd reg, dit verminder die druk in die oggend en skep 'n rustige atmosfeer.
  • Stel jou kind gerus oor oplaaityd: Waar en wanneer sal jou kind opgelaai word en deur wie?
  • Plak ouers, grootouers of naskool se nommers in die tas vas. As kinders onseker is oor wie hulle kom haal, stel die nommers hulle gerus.
  • Sit klein huislike artikels in die kind se tas soos 'n klippie van jul tuin. Jou kind kan daaraan vat as hy of sy huis toe verlang.
  • Nuwe skoolskoene druk! Laat jou kind daarmee loop voor die skool begin.
  • Kinders moet altyd ontbyt eet en 'n voedsame kosblik in die tas hê met water – 'n honger en dors kind kan nie leer nie!
  • Gee slegs een keer per week snoepiegeld. Dit dien as beloning en bederf.
  • Maak vriende met klasmaats se ouers en moedig speelafsprake aan. Wees realisties. Deelname is belangriker as om te wen. Moenie soveel druk op kinders plaas dat hulle voel hulle moet die atletiek wen en dan dink hulle stel jou teleur as hulle nie wen nie.
  • Moet nooit vir 'n kind sê: “Ek kan nie glo jy is al so groot nie, my hart is seer omdat jy skool toe gaan” of “ek gaan na jou verlang nie". Die kind is dan heeldag bekommerd oor sy hartseer mamma wat hom nog klein wil hê dat hy nie skool toe wil gaan nie.
  • Geniet elke sekonde saam met jou kind, want voor jy besef stap jou kind die laaste skooljaar binne!


Riana Schutte, 'n onderwyseres by Laerskool Protearif, Krugersdorp:

  • Moenie 'n kind iets belowe, soos Mamma kry jou direk ná skool of op 'n spesifieke tyd en kom dit nie na nie. Kinders raak verbouereerd as hul ouers dan nie daar is nie.
  • As jou kind in die junior fase is, loop die eerste dag saam klas toe om die onderwyser te ontmoet. Anders loop net saam en groet sodat die kind gemaklik ná so 'n lang vakansie voel.
  •  Probeer om nie te huil as jou kind huil nie. Hulle huil net meer as Mamma ook huil.
  • As die onderwyser van enige spesifieke geval, gedrag of toestand bewus moet wees, moenie dit die eerste oggend al bespreek nie. Maak eerder 'n afspraak. As dit baie belangrik is, skryf 'n brief en volg dit met 'n afspraak op.
  • Bou 'n goeie verhouding met die onderwyser en praat dadelik as daar iets is wat pla.
  • Moedig kinders aan om vir Juffrou te vra as hulle nie iets verstaan nie.
  • Moet nooit negatief teenoor die huiswerk wees nie anders sien kinders dit as 'n straf. Gee ekstra hulp by die huis en as daar probleme is, kontak die onderwyser.
  • Sorg dat die oggende voor skool rustig en nie gejaag is nie. Rustigheid help dat die kind se gemoed positief en rustig in die klas is.
  • Moenie in die middag voor die klas vir kinders wag nie. As hulle hul ouers sien, is hulle so opgewonde dat hulle nie meer kan konsentreer en luister wat Juffrou sê nie.
  • Kinders moet alle skryfbehoeftes hê wat nodig vir skool is. Dit is vir 'n kind vernederend om vir Juffrou te vra om 'n potlood te leen.



 

Welkom by die Vrouekeur aanlyngemeenskap!

Vertel ons meer van jouself sodat ons aan jou behoeftes kan voldoen. Klik hier om ʼn vinnige, anonieme digitale meningsopname te doen.

Kommentaar
Wees eerste om kommentaar op die artikel te lewer.
Jy moet ingeskakel wees om kommentaar op die artikels te kan lewer. Indien jy nog nie 'n aanlyn-profiel het nie, kan jy hier een skep

Caxton Tydskrifte moedig vryheid van spraak aan en ‘n verskeidenheid standpunte word hier weergegee. Die menings van die gebruikers van vrouekeur.co.za is hul eie en nie noodwendig dié van Caxton Tydskrifte nie.
Interessante artikels
Meeste kommentaar
Kuns: Kuns onder die knie
Johan Myburg skryf oor ’n werk van die Engelse skilder John Everett Millais (1829-1896), ’n lid van die Pre-Rafaelitiese Broederskap
KIES 'N BEROEP: Radio-omroeper
Het jy 'n radiostem, goeie musieksmaak en kan jy op jou voete dink? Dan is jy dalk uitgeknip om 'n radio-omroeper te word.
Ons gesels met: Saray Khumalo
Vir die vrou wat van plan is om die sewe hoogste bergpieke in die wêreld baas te raak – en klaar drie kafgedraf het – is tou opgooi nie deel van haar...
LEES & STEM (Maart 2015): Vat so, jou feeks
Ek het nog altyd ’n hekel daaraan gehad as dit kom by onregverdigheid op die sportveld. Soos die spreekwoord lui, het elke wedstryd sy beserings, maar...
LEES & STEM (Januarie 2015): Die cowboy
Ons woon hier op ’n plaas in die Weste, die beste Weste, eintlik die Noordweste.
LEES & STEM (April 2015): Die agterstallige paaiement
In elke winkel is die poppe snoesig en warm geklee met bypassende stewels en ’n handsak. Die pop in die een vertoonvenster trek onmiddellik Lulu se...
© 2017 www.vrouekeur.co.za | Alle regte voorbehou | Developed By Digital Platforms