Vrouekeur - Nuutste Uitgawe Vrouekeur - Latest Issue

KUNS: NA DIE TWEEDE WÊRELDOORLOG

Ná die Tweede Wêreldoorlog was Europa nie net verpletter nie, maar ook ontnugter en verslae – ook met betrekking tot die kunswêreld.

DEUR: Johan Myburg
Jack Smith, Mother Bathing Child, 1953, olie op bord, in die versameling van die Tate in Londen.
Jack Smith, Mother Bathing Child, 1953, olie op bord, in die versameling van die Tate in Londen.

Aan die hand van huishoudelike situasies van werkersklas-Britte in beknopte leefruimtes het sosiale en politieke kwessies die onderwerp in skilderye geword

Deur na-oorlogse oë het die opwindende kuns van die vroeë kunsrigtings van die 20ste eeu tam en onbenullig gelyk. Die onmiddellike reaksie in die politiek was om 'n soort sosiale geregtigheid te probeer bewerkstellig in 'n omgewing waar kapitalisme kompetisie van kommunisme gekry het.

Dié oogmerk het ook in die kunste duidelik geword en die periode 1945 tot 1970 kan breedweg gesien word as kunstenaars se poging om hul identiteit te hervestig en om sin te probeer maak van die trauma wat die oorlog teweeggebring het, die aantog van die Koue Oorlog en die feit dat die sentrum van die kunswêreld van Parys na New York geskuif het.

Toe die Amerikaners se Marshall-plan van ekonomiese hulp aan die na-oorlogse Europa deur die Sowjetunie afgeskiet is as 'n vorm van Amerikaanse imperialisme, het die verwydering tussen dié twee moondhede groter geword en die Koue Oorlog het tot stand gekom.

Die VSA het toenemend vryheid in 'n demokratiese omgewing voorgestaan en in kunsterme het dit in abstraksie uitdrukking gekry terwyl die USSR Sosiale Realisme as voortsetter van sosialisme bevorder het. Die kommunistiese leierskap was in elk geval nooit gemaklik met die land se avant-garde-beweging wat kunstenaars soos Natalia Goncharova, Alexander Rodchenko en Kazimir Malevich opgelewer het nie. Hul kuns is as droog, sielloos en formalisties bestempel. In die plek daarvan het die USSR Sosiale Realisme gesien as die ideale voertuig vir propaganda – wat die burgery kon verstaan.

Tot 'n mate het dié bedoeling ook gestalte gekry in lande soos Frankryk, Italië en uiteraard Oos-Duitsland waar kommunisme vastrapplek gekry het.

In Italië het Renato Guttuso (1911-1987) die voorloper van die Sosiale Realisme-skool geword en 'n mens moet nie die bydrae en invloed van Italiaanse nieu-realistiese rolprente en televisieprogramme van dié tyd in kunswerk onderskat nie.

In Frankryk het Bernard Buffet (1928-1999) die voortou geneem. Buffet se monochromatiese skilderye met sterk lynwerk het iets van depressie en ontbering vergestalt – wat uitdrukking gegee het aan ontgogeling ná die oorlog.

In Brittanje het Sosiale Realisme gestalte gekry in die sogenaamde Kitchen Sink-realisme (wat ook in teater, romans, televisiedramas en rolprente na vore gekom het). Aan die hand van huishoudelike situasies van werkersklas-Britte in beknopte leefruimtes het sosiale en politieke kwessies – van aborsie tot dakloosheid – die onderwerp in skilderye geword.

In 1953 het Jack Smith (1928-2011) sy befaamde Mother Bathing Child geskilder, 'n sepia-kleurige voorstelling van 'n vrou wat 'n baba in 'n opwasbak bad. Smith was maar 24 of 25 toe hy dié skildery in olie op bord gemaak het en het daarmee die Kitchen Sink-beweging, saam met John Bratby, Derrick Greaves en Edward Middleditch, begin.

In 'n artikel in die tydskrif Encounter het die kunskritikus David Sylvester in 1954 oor die werk van dié vier, bekend as die Beaux Arts Quartet, geskryf “dit is werk wat 'n mens van die ateljee na die kombuis neem” – “An inventory which includes every kind of food and drink, every utensil and implement, the usual plain furniture and even the babies’ nappies on the line. Everything but the kitchen sink – the kitchen sink too.”

In 1956 het dié vier, saam met Ivon Hitchens en Lynn Chadwick, Brittanje op die Venesiese Biënnale verteenwoordig.

 

 

Welkom by die Vrouekeur aanlyngemeenskap!

Vertel ons meer van jouself sodat ons aan jou behoeftes kan voldoen. Klik hier om ʼn vinnige, anonieme digitale meningsopname te doen.

Kommentaar
Wees eerste om kommentaar op die artikel te lewer.
Jy moet ingeskakel wees om kommentaar op die artikels te kan lewer. Indien jy nog nie 'n aanlyn-profiel het nie, kan jy hier een skep

Caxton Tydskrifte moedig vryheid van spraak aan en ‘n verskeidenheid standpunte word hier weergegee. Die menings van die gebruikers van vrouekeur.co.za is hul eie en nie noodwendig dié van Caxton Tydskrifte nie.
Interessante artikels
Meeste kommentaar
Klassieke klanke: Nasionalisme en die invloed daarvan op laat 19de-eeuse opera
In Vrouekeur van 5 Augustus skryf Johan Myburg oor die opkoms van nasionalisme en die invloed daarvan op laat 19de-eeuse opera. Die inligting hier...
Sjefsprofiel: Jacques Erasmus
Jacques Erasmus is al deur sommige mense as ‘n kos-alchemis beskryf. Sy restaurant in Kaapstad, Hemelhuijs, is net dit: so ná as wat jy aan die hemel...
Stuur Groete aan Mannetjies Roux, ‘n musiekblyspel deur Laurika Rauch
Die produksie is geloods op 19 Maart, halftyd op Nuweland, waar Laurika haar wel bekende liedjie Stuur Groete aan Mennetjies Roux saam met Oom...
LEES & STEM (Maart 2015): Vat so, jou feeks
Ek het nog altyd ’n hekel daaraan gehad as dit kom by onregverdigheid op die sportveld. Soos die spreekwoord lui, het elke wedstryd sy beserings, maar...
LEES & STEM (Januarie 2015): Die cowboy
Ons woon hier op ’n plaas in die Weste, die beste Weste, eintlik die Noordweste.
LEES & STEM (April 2015): Die agterstallige paaiement
In elke winkel is die poppe snoesig en warm geklee met bypassende stewels en ’n handsak. Die pop in die een vertoonvenster trek onmiddellik Lulu se...
© 2017 www.vrouekeur.co.za | Alle regte voorbehou | Developed By Digital Platforms