Wat is hipnose?

Wat is hipnose en kan hierdie eeue oue praktyk regtig mense help om hul probleme te oorkom? vra Ansja Ferreira

Dit is onseker wanneer hipnose ontstaan het, maar dit is bekend dat antieke Egiptenare ’n vorm daarvan in hul droomtempels beoefen het. Vandag word dit wêreldwyd gebruik. Bekendes soos Sarah Ferguson en Geri Halliwell het dit as deel van hul gewigsverliesprogram gebruik en Tiger Woods het dit gebruik om hom te help fokus en afleidings uit te blok as hy gholf speel.

Mozart het na bewering die bekende opera Così fan tutte gekomponeer terwyl hy gehipnotiseer was en dit is bekend dat Albert Einstein elke middag hipnosesessies gehad het. Sy teorie van relatiwiteit het glo juis tydens een van hierdie sessies na hom gekom.

Hipnose word vandag deur die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika as ’n aanvaarbare terapeutiese tegniek erken. “Hipnose maak niemand gesond nie en dit is nie ’n wonderkuur nie,” sê Pieter Harris, ’n voorligtingsielkundige met ’n besondere belangstelling in hipnotiese tegnieke. Hy is daarvoor opgelei, onder meer by die Suid-Afrikaanse vereniging vir kliniese hipnose asook die Milton H Erickson Institute of South Africa. Pieter sê hipnose is ook nie ’n leuenverklikker wat mense kan dwing om die waarheid te vertel nie. “Dis eerder ’n kragtige instrument wat gebruik word om groei en transformasie te bevorder. Verskillende terapeutiese tegnieke word gebruik. Die doel van hipnose is om mense te help, nie om hulle te benadeel nie. Dit is die basiese doelstelling van enige vorm van terapie en berading.”

Volgens Pieter bestaan daar tot op hede geen algemeen aanvaarbare definisie van hipnose nie. “Die woord ‘hipnose’ beteken letterlik ‘slaap’, maar dit het nie regtig met slaap te doen nie (tensy jy vir hipnose-sessies wil gaan om jou te help om beter te slaap). “’n Mens is eintlik baie wakkerder en gefokus onder hipnose.

LEES OOK: Hipnose vir agorafobie

Die gewilde siening dat iemand onder hipnose ’n passiewe, willose, robot is, wat outomaties die suggesties van die hipnotiseur uitvoer, is nie waar nie. Alle hipnose is eintlik selfhipnose en jy kan nie deur enigiemand gehipnotiseer word as jy nie wil nie. “Die samewerking van die persoon wat gehipnotiseer word, is ’n onontbeerlike voorwaarde vir hipnose. Dit gaan basies om ’n vertrouensverhouding waarin daar wedersydse respek is.

“In die algemeen kan gesê word dat hipnose ’n toestand is waarin jy só gefokus is (soos wanneer jy vasgenael voor die TV sit, met aandag ’n boek lees of na musiek luister), dat jy eintlik in ’n beswymingstoestand is. Tog weet jy presies wat rondom jou gebeur,” sê Pieter. “Hipnotiese transes is iets wat eintlik elke dag in ons lewe voorkom,” sê Pieter.

“Streng gesproke is ons nooit werklik uit hierdie beswymings nie – ons beweeg van die een na die ander. Mense het werks-, verhoudings-, bestuurstranses (as hulle motor bestuur), ouerlike transes en ook slegte transes gedurende traumatiese ervarings. Hipnose word in terapie gebruik om eintlik doeltreffende kommunikasie te probeer bewerkstellig met die oog op verandering en genesing. Dit kan met of sonder formele hipnotiese induksie gedoen word.”

Pieter verduidelik wat met hipnose tydens ’n formele induksie gebeur:

  • Jou aandag is meer gefokus.
  • Jou liggaam is meer ontspanne.
  • Jy is meer ontvanklik vir suggesties (beïnvloeding) deur die terapeut, hoewel jy nie jou kritiese vermoëns verloor nie. “Wanneer ’n mens in ’n beswymingstoestand gaan, is jou aandag meer gefokus op dit wat op daardie oomblik jou aandag gevange hou en minder op ander dinge wat nie nou aandag geniet nie.”

’n Paar vrae

Wie kan hierby baat?

“Feitlik enigiemand wat gemotiveerd is om gehelp te word en bereid is om sy of haar samewerking te gee en in ’n vertrouensverhouding met die terapeut te tree. “Mense kan nie teen hul sin gedwing word om gehelp (of gehipnotiseer) te word nie. As daar geen samewerking is nie, kan die terapeut nie veel doen nie,” sê Pieter.

Hoekom is baie mense bang vir hipnose?

“Meestal uit onkunde of wanvoorstellings van hipnose deur verhoogkunstenaars of die TV, waar ’n mens baie maklik die indruk kan kry dat dit bonatuurlik is,” sê Pieter. “Dit lyk asof die mense wat gehipnotiseer word, willose mense is wat heeltemal onder die hipnotiseur se beheer is en dus alles sal doen wat hy van hulle vra. Hulle is dus bang dat hulle beheer sal verloor of dinge sal sê of doen wat hulle normaalweg nie sou nie. Dit is nie waar nie. Ook die siening dat hipnose ’n mens vir bose geeste oopstel en dat dit onbybels en gevaarlik is, is onwaar,” sê hy.

LEES OOK: Vreemde boererate

Kan dit ’n mens byvoorbeeld help om op te hou rook?

Volgens Pieter is daar baie mense wat glo hipnose het hulle gehelp om op te hou rook of gewig te verloor. Daar is ook mense wat sê dit het niks gehelp nie. Tog kan hipnose gebruik word om mense met ’n verskeidenheid probleme te help, soos trauma, stres, angs, depressie, eetversteurings, rook, voorbereiding van operasies, leerprobleme, sportprestasie, slaapversteurings en geestelike probleme.

Die gevare

“Ek was besig met my eerste regressie (’n tegniek waar die kliënt na ’n vroeëre tydstip in sy lewe teruggaan) en nog betreklik onervare met hierdie tegniek,” vertel Pieter. “Die kliënt was oortuig dat sy probleem op 12-jarige ouderdom begin het en wou weer na dié tyd teruggaan.

Toe ek vir hom vra om terug te gaan na 12-jarige ouderdom “waar jou probleem begin het”, het hy ’n hewige emosionele reaksie getoon en moeilik asemgehaal. “Ek het geskrik, want ek het nie geweet wat met hom gebeur nie. Ek het gewonder of hy ’n hartaanval kry. Daar is in ons opleiding vir ons gesê die ergste wat tydens hipnose kan gebeur, is dat die terapeut paniekerig word. Toe het ek diep asemgehaal en kalm gevra: Sê net vir my waar jy nou is en wat gebeur? Waarop hy hortend geantwoord het: ‘Ek is besig om gebore te word.’ Hy het deur sy eie geboortetrauma gegaan. Sy onderbewuste het die suggestie om na die ouderdom van 12 terug te gaan, geïgnoreer en verder teruggegaan na waar die probleem werklik begin het.

Regressies word eintlik nie meer so algemeen gedoen nie weens die gevaar dat die persoon van voor af getraumatiseer mag word. Daar is wel tegnieke wat gebruik kan word om te voorkom dat ‘hertraumatisering’ plaasvind.”

Suksesverhale

JOHAN BOTHA* is deur ’n neurochirurg na ’n hipnoterapeut verwys, wat hom behandel het nadat hy met ’n koeëlwond aan die kop by sy huis aangetref is. Johan was besonder gelukkig dat hy geen breinskade opgedoen het nie. Daar was egter kommer dat dit ’n selfmoordpoging kon wees en daar moes tydens sessies probeer bepaal word wat presies gebeur het. Johan kon glad nie onthou wat daar gebeur het nie. Gedurende hipnose het dit toe geblyk dat hy en ’n paar vriende op die betrokke aand Russiese roulette gespeel het. Daar word slegs een patroon in ’n rewolwer gesit, die magasyn word dan vinnig in die rondte gedraai, teen die kop gedruk en die sneller word getrek. Toe dit Johan se beurt was, het die skoot afgegaan en het hy ’n koeëlwond opgedoen. Die vriende het paniekerig gevlug onder die indruk dat hy dood is.

LEES OOK: 50+ stressimptome

RIKA ERASMUS* is ná ’n traumatiese gebeurtenis na ’n hipnoterapeut verwys. Sy en vriende het ’n troue bygewoon, maar het op pad na ’n gastehuis verdwaal en hul pad “het met polisielede gekruis” wat sy as baie traumaties ervaar het. Die polisie het vyandig gereageer toe hulle aanwysings wou vra en het een keer selfs met vuurwapens op hulle afgestorm. Sy was oortuig hulle gaan geskiet word, en hulle kon niks doen om te probeer wegkom nie. ’n Dag ná hierdie gebeure het sy heel goed gevoel, maar drie dae later het die simptome begin verskyn. Sy het intens bang, angstig en woedend gevoel. Haar regterhand het so gebewe dat sy kwalik ’n pen kon vashou. Reeds ná die eerste hipnosesessie kon sy weer met die hand skryf. Ná die derde sessie het sy aansienlik beter gevoel. Sy het daarna die toneel waar sy die ergste trauma ervaar het in helder daglig besoek en daar die tegnieke wat sy geleer het, toegepas om haar as ’t ware te desensiteer sodat sy rustig en ontspanne gevoel het. Hierna was haar nagmerrie uiteindelik verby.

SUSAN GROVÉ* is met Meigesindroom gediagnoseer. In haar besondere geval het haar oë toegegaan as sy na mense moet luister, maar sodra sy praat, was haar oë weer redelik oop. Haar toestand het vererger as sy baie gespanne was of as mense hard met haar gepraat het. In hipnose is ’n tegniek gebruik om te suggereer dat sy self haar oë kan stel om geleidelik oop te gaan en om ook die hele tyd oop te bly terwyl sy na die terapeut luister. Gedurende die res van die sessie het die terapeut baie sag – soms met ’n fluisterstem – met haar gepraat, terwyl sy die hele tyd met oop oë geluister het. Ná die sessie was haar oë steeds oop. Later die aand het haar dogter gebel en vertel dat haar ma se oë nog die hele dag oop is.

*Skuilname

Besoek www.pieterharris.co.za vir meer inligting

Send this to a friend