Wat sê jou hond van jou?

Hier’s ’n prettige lys wat kyk of honde iets van hul eienaars se persoonlikheid verklap

Foto: www.freepik.com

 

Het jy ‘n mopshond of ‘n poedel en dink jy julle deel karaktertrekke? Wel, die webwerf www.cesarsway.com sê die tipe hond wat jy kies, kan dalk net vir jou iets van jou persoonlikheid onthul. Dink jy dit is so?

Hier is ‘n lys met ‘n paar algemene trekke volgens www.cesarsway.com en www.iheartdogs.com wat ‘n mens natuurlik nie te ernstig moet opneem nie!

 

Beagles

Beagles is nuuskierig, lojaal en wil graag nuwe dinge leer. Hul eienaars is glo oop vir ervarings, nuuskierig, soms ‘n bietjie stout en maak gou nuwe vriende.

 

Bichon Frises

Hierdie honde-eienaars is besorg oor hul voorkoms en baie sosiaal. Nes hul honde wat op hul gelukkigste is as hulle deel van ‘n gesin is. Die eienaars is selfversekerd en hou van die fynere dinge in die lewe.

 

Boksers

Boksers is besige honde met baie energie. Hul mense leef die lewe glo ten volle en is baie bedrywig. Hulle is gek na mense en sal gou-gou vriende van vreemdelinge maak. Boksers is baie spelerig en hul eienaars kan lekker laf saam met hulle wees.

 

Bulhonde

Hierdie honde gee nie maklik op nie. Hoewel bulhonde intimiderend kan voorkom, is hulle eintlik baie liefdevolle, getroue diere. Mense met bulhonde kan glo lekker laf wees en lekker lag, maar ook baie hardkoppig wees. Hulle is metodies as hulle take voltooi, glad nie materialisties nie en baie sjarmant.

 

Cockerspanjoele

Cockerspanjoele is sagte, liefdevolle diere en hul eienaars is glo liefdevol, sjarmant en betroubaar. Hulle is baie bedrywig, maar plaas hul familie eerste.

 

Corgi’s (Walliese herdershonde)

As jy van hierdie hondjies het, kan jy nou en dan hardkoppig wees, maar jy hou van pret en mense hou daarvan om saam met jou te kuier.

 

Dalmasiërs

Hierdie mense hou daarvan om aan die gang te wees en is gek daaroor om nuwe dinge te ontdek. Die lewe is ‘n avontuur en die wêreld jou oester.

 

Deense hond (Great Danes)

Hierdie mense is goedhartig en verantwoordelik. Hulle werk hard en sit 100% in alles wat hulle doen. Hulle hou daarvan om op hoogte van sake te wees en hou van lewendige debatte.

 

Doberman Pinschers

Hierdie honde is baie ernstig, intens en gedertimineerd. Hul eienaars is eerder leiers as volgelinge en is gek daaroor om iets te beplan en te organiseer. Mense met hierdie honde is glo hoogs georganiseerd en werk hard om hul drome te bereik.

 

Duitse herdershonde

Duitse herdershonde is soms skaam vir vreemdelinge, maar is gou vriendelik as hulle jou eers leer ken. Hul eienaars sal enigiets vir hul mense doen en is baie lojaal. Hulle is baie beskermend oor hul geliefdes.

 

Engelse setter, pointers, weimaraners

Hierdie tipe honde is waaksaam en maak goeie metgeselle. Hul eienaars is graag aktief en hou van die buitelwe. Hulle is dapper, intelligent en gemotiveerde mense. Hulle kan gou verveeld raak en floreer op nuwe ervarings.

 

Gemengde rasse

Hierdie eienaars is oopkop en sorgeloos. Hulle geniet die lewe en is nie oor nietighede begaan nie.

 

Labradors en golden retrievers

Hierdie honde is vriendelik, het pragtige geaardhede en is wonderlike troeteldiere vir gesinne. Hul eienaars plaas hul gesin eerste, is glo gemaklike en sorgelose mense. Hulle is ook baie sosiaal, eerlik en liefdevol.

 

Mopshonde (Pugs)

Mopshonde word dikwels as die klasnar van die honderasse gesien. Hul eienaars is net so vrolik en het groot lewenslus en dikwels die siel van die partytjie. Nes hul honde, hou hulle van aanraking en geniet masserings.

 

Poedels, Chihuahuas en ander skoothondjies

As jy hierdie hondjies het, is jy ‘n mens wat opreg, prettig en lojaal is. Jy is trots op jou voorkoms, baie netjies en hou van ‘n ordelike huis.

 

Rottweilers

Rottweilers word as brawe honde gesien wat respek afdwing. Hul eienaars word as mense met selfvertroue gesien en wat baie lojaal teenoor geliefdes is. Hulle is rustige mense, maar sal vining reageer as iemand hulle verkeerd opvryf.

 

Schnauzer

As jy dié honde het, is jy iemand wat nie skaam is nie en nie jou gevoelens wegsteek nie. Jy het ‘n sterk persoonlikheid en is nie gepla wat ander mense van jou dink nie.

 

Skaaphonde

Hierdie honde is baie aktief en hou daarvan om buite te baljaar. Hul eienaars is net so gek na die buitelewe en leef die lewe ten volle. Hulle hou van kuiers saam met vriende en is baie mededingend. Hulle is nie bang vir harde werk nie.

 

Siberiese poolhonde (huskies)

Hierdie eienaars hou glo baie van sport en aktiwiteite in die buitelug. Hulle het ‘n sterk wilskrag en is liefdevol en verwelkomend.

 

Terriërs

Terriërs is energiek, spelerig en hou van pret. Hul mensmaats is glo buigsaam en gefokus. Terriër-eienaars is glo nes hul dierasies ook mededingend en braaf. Hulle het ‘n goeie humorsin en gesels graag.

 

Windhonde, Basenji’s (Sight Hound-ras)

Eienaars van hierdie rasse is ontspanne, kalm en introverte. Hulle hou van klein groepies vriende. Hulle is hoogs georganiseerd, nuuskierig en waaksaam.

 

Worshonde

Hierdie hondjies is hardkoppig en dapper. As hul eienaars iets wil hê, sal hulle enigiets doen om dit te kry. Worshondeienaars is gek na tuinmaak. Hulle kan soms baasspelerig voorkom en hou niks daarvan as hulle nie hul sin kry nie.

 

Yorkies

As jy hierdie tipe honde het, vat jy g’n nonsens nie en kan nie getem word nie. Jy is baie lojaal teenoor jou mense en geniet mense meer as jou eie geselskap. Hoewel jy oopkop voorkom, is jy nie so mal oor verandering nie.

 

Veghonde (pit bulls)

Hierdie honde wil hul eienaars graag behaag en sal enigiets doen vir hul mense. Hul eienaars is energiek en baie beskermend teenoor geliefdes. Hulle hou van kinders en is dapper mense.

 

 

Send this to a friend