My kind is bang vir als!

Het jy ‘n angstige kind? Probeer dié wenke

Deur ZERELDA ESTERHUIZEN

 

Ek is ‘n angstige mens, paranoïes van aard en ek het ʼn stresvolle werksomgewing. Ek stres vinnig en maklik! Nou wil dit voorkom asof my dogtertjie hierdie angstige natuur geërf het,” vertel Arina* (32).

“Die skool het al ‘n spelterapeut voorgestel, want sy’s bang vir alles, veral nuwe dinge. My man blameer my en sê dis wat oorbeskerming doen. Ek weet nie hoe ons die kind meer waagmoed kan leer nie.”

Hoe weet ‘n mens jou kind is buitengewoon angstig?

Die webwerf www.anxietybc.com sê as jou kind enige van die onderstaande kenmerke openbaar, is daar moontlik ‘n probleem.

 

Jou kind …

… huil, klou jou vas of het uitbarstings as hy van jou geskei word.

… is buitengewoon skaam en vermy sosiale situasies.

… is konstant bekommerd oor iets.

… vermy situasies, mense of plekke as gevolg van vrees.

… kla gereeld oor maag- of hoofpyne.

… ervaar paniekaanvalle.

 

Wat kan jy doen?

  • Moedig jou kind aan om oor bekommernisse en vrese te gesels.
  • Begin dalk deur ‘n situasie te beskryf waar jou kind angstig was. “Toe ons gister by daai ander oom gebraai het, wou jy eers met niemand praat nie en jou vingers was heeltyd in jou mond. Vertel vir Mamma wat jou bang gemaak het?”
  • Dit kan ook help om vir jou kind te vertel van dinge waaroor jy op dieselfde ouderdom bang was. Sê dis oukei om soms bang te wees en dis heel normaal en probeer verduidelik dat sulke situasies soms vreesaanjaend kan wees, maar wat hy kan doen as hy weer bang voel. Erken dat jou kind se vrese regtig is en wys empatie daarvoor.
  • Leer jou kind hoe om angstigheid te verlig: Stop en haal diep asem. Identifiseer die vrees. Hoekom is jy bang? Verbeel jouself dat jou vrees in ‘n borreltjie hang. Vang nou een van die vreesborrels en kyk wat jy daaraan kan doen.
  • Leer jou kind om op feite te vertrou en nie gevoelens nie.
  • Leer jou kind hoe om met homself te redeneer. Wat kan by vreemde mense gebeur? Kan hulle hom eet? Nee, want Ma en Pa is daar en hulle is nie mensvreters nie!
  • Help jou kind om nie die dinge wat hom bang maak, te vermy nie. Leer hom om dit eerder stapsgewys te oorkom. Breek die vrees in klein deeltjies op en help hom om klein doelwitte te bereik. Is hy bang om by ‘n maatjie te gaan oorslaap? Begin dan om eers net ‘n uur by ‘n maatjie te speel, later weer twee uur tot hy die vrees oorkom.

 

Woorde wat die banggeit wegjaag

Die webwerf www.gozen.com gee die volgende wenke:

  1. “Kan jy jou vrees teken?” Só gee kinders uitdrukking aan hul gevoelens.
  2. “Ek’s lief vir jou, jy is veilig.” Dit gee jou kind vastigheid en laat hom veilig voel.
  3. “As jy bang is, verbeel jouself dat jy ‘n groot ballon opblaas. Haal diep asem en blaas vir vyf tellings.” Maak ‘n speletjie daarvan sodat jou kind ontspan.
  4. Vra jou kind om die volgende woorde tien keer te herhaal: “Ek kan dit doen, ek kan dit doen, ek kan dit doen.”
  5. “Hoekom dink jy is jy bang?” Dit help veral vir ouer kinders om hul vrees by die naam te noem.
  6. “Wat dink jy gaan volgende gebeur?” As jou kind ‘n spesifieke gebeurtenis vrees, gesels oor wat kan gebeur.
  7. “Ons is ‘n wenspan.” Skeiding is iets wat klein kinders bang maak, verseker hulle dat julle saamwerk, al kan jou kind jou nie deur die dag sien nie.
  8. Leer jou kind woorde om te sê as hy bang voel: “Ek’s onkeerbaar!”, Hier kom ek wêreld!”; “Ek’s baie sterk!”
  9. “Kom ons bêre gou jou vrees op die rak terwyl ons …” Doen dan iets wat vir julle lekker is.
  10. Is jou kind bang vir iets? Leer meer daaroor. Laat jou kind sy vrese ontdek deur vrae daaroor te vra. Bang vir slange? Leer meer oor hulle.
  11. “Kom ons tel tot …” Dit laat jou kind bietjie van die vrees vergeet.
  12.  “Maak toe jou ogies en dink aan …” Visualisering is ‘n kragtige tegniek wat pyn en angstigheid kan verlig. Laat jou kind aan ‘n warm, gelukkige plek dink.
  13. “Jy is nie alleen nie, ander mense voel ook so.” Dit help jou kind om te verstaan dat angstigheid universeel is.
  14. “Vertel vir my wat die slegste ding is wat kan gebeur.” Nou dink hy aan die moontlike uitkoms.
  15. “Kom ons kry bewyse.” Bewyse kan help om jou kind se angstigheid te verlig.
  16. “Kom ons maak ʼn lys van almal wat vir jou lief is.”
  17. “Hoe kan ek help om jou vrees weg te vat?”
  18. “Ek is klaar trots op jou!”
  19. “Kom ons kyk hoe jou vrese verbyry.” Dink aan ‘n trein en dat die vrese op waentjies gelaai is wat wegbeweeg.

 

Bronne: www.gozen.com, www.anxietybc.com

Send this to a friend