“Ek is my werk kwyt”

Die ekonomie knyp en afleggings is nie ongewoon nie, maar wat as dit met jou gebeur?

Deur Carla van der Spuy

Dit bars om deesdae die pot aan die kook te hou – selfs al verdien jy ’n vaste inkomste. Talle slagoffers van afleggings lê nie net snags wakker oor hul onbetaalde rekeninge nie, hul selfbeeld kry ook ’n knou.


Maar hoe gemaak as jy een dag nog die sekuriteit van ’n salaristjek aan die einde van die maand het en die volgende dag die onaangename verrassing kry dat jy dalk binnekort amptelik werkloos gaan wees?
Ek het binne ’n week tydens die mynstakings op Rustenburg toevallig verneem van ’n prokureur, ’n sekretaresse en ’n huiswerker wat hul werk kwyt was. “Hoekom ek?” wonder mense in hierdie bootjie. Selfs al word die mees logiese en rasionele redes vir personeelbesnoeiing verskaf, is dit steeds onvermydelik dat ’n mens op een of ander manier verwerp voel.
Boonop is die werkloosheidsyfer in Suid-Afrika op meer as 25% besonder hoog en val ’n nuwe werk ook nie juis in jou skoot nie. Die bekende ekonoom Dawie Roodt van die Efficient Group sê dit is ongetwyfeld so dat die swak presterende ekonomie tot afleggings kan lei.
Dit is ook so dat die vrye ekonomie ’n proses is wat voortdurend verander. “Ek het in ’n stadium my werk verloor. As dit nie gebeur het nie, het die Efficient Group nie vandag bestaan nie,” sê hy.

Redes vir afleggings en hoe die wet jou beskerm

ie goeie nuus is dat ’n werknemer jou nie sommer net kan laat loop nie. Daar moet voldoende gronde en redes wees voor afleggings plaasvind. Die proses waartydens werknemers verminder word omdat maatskappye op hul produksie of dienslewering moet bespaar, staan as ontslag weens operasionele redes, oftewel afleggings, bekend, sê Phil Davel, arbeidsregadviseur by die vakbond Solidariteit se dienssentrum.
Hy wys daarop dat die werknemer skriftelik van enige voorgenome afleggings in kennis gestel moet word sodat die werknemer en verteenwoordigende vakbond in kennis gestel kan word en hulle uitgenooi kan word om met die werkgewer te konsulteer.
Dit staan as die Artikel 189-kennisgewing bekend en dit moet onder meer die operasionele redes vir die voorgestelde afleggings verduidelik. Operasionele redes vir afleggings kan ’n ernstige daling in die maatskappy se verkope van ’n produk behels, wat daartoe lei dat die maatskappy nie meer soveel personeellede kan bekostig nie.
Daar kan strukturele veranderinge wees soos wanneer twee afdelings van ’n maatskappy saamsmelt. Afleggings kan ook tegnologiese redes hê soos waar werkgewers deur masjiene vervang word.
As werknemer kan jy hierdie redes betwis en alternatiewe voorstelle maak wat die volgende kan insluit: om werkers op korttyd te plaas, ’n salarisvermindering te aanvaar, op kommissiebasis te werk, om na ’n ander afdeling verskuif te word en om alle nuwe aanstellings op te skort.
Ander voorstelle kan behels om oortyd of Sondagwerk te staak, om personeel in alternatiewe vaardighede op te lei en om kontrakte met deeltydse asook kontrakwerkers te staak. Phil wys voorts daarop dat werkgewers aan die voorgenome of ooreengekome seleksiekriteria moet voldoen soos LIFO (laaste in, eerste uit) en FIFO (eerste in, eerste uit).
Belangrike seleksiekriteria is onder meer bekwaamheid en werksprestasie, toepaslike ervaring, die aantal diensjare, die vermoë om nuwe vaardighede aan te leer, die aantal jare vanaf aftree-ouderdom en of die werkers tydelik of heeltyds aangestel is. Volgens Phil sal die vakbond tydens die konsultasieproses sover as moontlik veg om ’n werknemer se werk te red.
Die uitreiking van ’n Artikel 189-kennisgewing beteken ook nie noodwendig dat die werknemer wel afgelê sal word nie, maar dat ’n konsultasieproses begin moet word om dit te probeer afweer, of die moontlikheid te minimaliseer of te verminder. Phil verskaf die volgende raad: Dit is jou reg om jou vakbond se hulp in te roep, selfs al is dit ’n minderheidsvakbond.
Stel jou werkgewer ook in kennis dat jy aan ’n vakbond behoort. Sou jy met ’n skeidingspakket wegloop, is dit baie belangrik om dit oordeelkundig en verantwoordelik te bestuur aangesien dit lank kan duur voor jy weer werk kry.
Die minimum skeidingspakket wat aan die werknemer betaal word, is gelyk aan een week se vergoeding vir elke jaar wat die werknemer by die werkgewer voltooi het. Dit kan natuurlik verskil in die geval van ’n kollektiewe ooreenkoms, ’n dienskontrak of sektorale bepaling. In die geval waar jy dalk op vroeë pensioen gaan, is dit ook belangrik om versigtig met jou finansies te werk te gaan, is Phil se raad.
Dit is raadsaam om ’n geregistreerde finansiële beplanner te spreek oor maniere waarop jy jou geld kan belê sodat jy nie nou al jou geld, wat eintlik vir jou oudag bedoel is, bestee nie. Dink ook twee keer voor jy besluit om van jou geld in ’n nuwe onderneming te belê aangesien daar al bevind is dat slegs 40% van nuwe ondernemings slaag. Ivan Israelstam, die uitvoerende hoof van Labour Law Management Consulting, sê dit is die werkgewer se plig om te bewys dat daar ’n grondige rede is waarom afleggings moet plaasvind.
Die werkgewer moet ook bewys dat die afleggings regverdig was en dat alle tersaaklike dokumentasie met die werknemer gedeel is. Ivan sê ondanks die feit dat die afleggingsprosedure aan duidelike riglyne moet voldoen, word werkgewers steeds deur die KVBA (CCMA) en die Arbeidshof uitgevang.

Volgens Phil is daar moontlik ’n aantal redes vir die feit dat werkgewers nie aan die voorgeskrewe wetgewing voldoen nie:

  • Die vereiste konsultasieprosedures kan ’n tydrowende en duur proses vir die werkgewer wees, veral as dit uitgekontrakteer word.
  • Werkgewers beskik nie altyd oor die nodige fondse om skeidingspakkette uit te betaal nie.
  • Werkgewers misbruik sogenaamde afleggings om van ongewenste werknemers ontslae te raak en nie omdat operasionele redes dit vereis nie.
  • Werknemers beroep hulle nie altyd op die korrekte prosedures nie. Hoewel werknemers die betrokke wetgewing goed genoeg ken, glo hulle nie dat dit op hulle van toepassing is nie of hulle ontvang swak regsadvies ten opsigte van afleggingswetgewing en implementeringstrategie. Ivan wys ook daarop dat die howe werksverlies deur middel van aflegging as iets beskou wat nie die werknemer se skuld is nie. Om hierdie rede sal die howe nie huiwer om die regte van diegene wat afgelê is, te beskerm nie en werkgewers behoorlik laat opdok as hulle van die reg afwyk.

Soms ‘n bedekte seën

Susan Bloemhof “Ek het twee keer in my lewe my werk verloor. Die eerste keer het ek nie geweet ek werk vir skurke nie. Die tweede keer was ek deel van ’n produksie-afdeling van ’n uitgewery wat toegemaak het. Jy gebruik jou kennis en vat iets kleins totdat iets groters verbykom.”
Nicholas Smith “Bankrotskap in ’n maatskappy het veroorsaak dat 2 000 mense gedurende 1986 hul werk verloor het. Almal het rondgeskarrel om werk te vind. Ek het besluit dat die regte ding na my toe sou kom en ek het verskeie aanbiedinge ontvang. Dit het bevryding meegebring waardeur ek my ander talente kon ontgin. Leef net in ’n staat van dankbaarheid. Dis ’n waarborg.”
Mariëtte Buys “Ek was in 2011 ook aan die ontvangkant van afleggings. ’n Mens besef nie vooraf wat die finansiële en emosionele implikasies hiervan is nie. Ek het my stokperdjie (fotografie) in ’n lonende onderneming omskep en het nooit teruggekyk nie!”
Belia Lourens “Ek het in verskillende administratiewe poste in die gevangenisdiens (DKD) gewerk. Ná 14 jaar het ’n politieke geding om my kop losgebars toe my man na ’n ander standplaas bevorder is waar ek weer in ’n administratiewe pos geplaas is. Daar was ongelukkigheid oor my plasing, intimidasie en selfs dreigoproepe. My angs het in major depressie oorgesit. Uiteindelik het dit alles daartoe gelei dat ek my sanggraadeksamen deur Unisa voltooi het.” Dié helingsproses het jare later haar beroep geword. Belia het ’n gewilde sanger geword en het al ’n Tempo-benoeming vir beste vroulike gospelsangeres gekry en en het al meer as 150 optredes landwyd gedoen. “Ek kyk vir geen oomblik terug nie en lei ’n lewe vol dankbaarheid. Jare nadat ek weens gesondheidsredes op verpligte pensioen moes gaan, het ’n hele paar van die vakbondlede van destyds aan my deur kom klop en om verskoning gevra. Dit was lekker om mekaar in die oë te kon kyk – hulle met verligting en ek sonder pyn en baie meer sonskyn.”

Send this to a friend