Help! My maat mors geld

Jy het jou tande geslyp vir daai oorsese vakansie waarvoor jy en manlief al so lank spaar, maar toe kom hy met ’n stel peperduur gholfstokke by die huis aan. Hoe hanteer ’n mens sulke geldgeskille?

Deur LUISA VAN DER LINDE

Vra paartjies en die meeste van hulle sal sê dat hulle al een of ander tyd oor geld, of die gebrek daaraan, gestry het. Jy wens dalk jou man is minder impulsief as dit by duur kopies kom of jy dink dalk jou vrou gee te veel geld op klere en skoene uit. Hoe dit ook al sy, finansies kan ’n lelike twispunt in verhoudings word.
André Diederichs, sakedeskundige en skrywer, is die hoof- uitvoerende direkteur van Family Business Association of South Africa (FABASA). Hy sê daar word gereken dat finansiële kwessies die primêre rede vir 90% van egskeidings is. “Finansiële sake moet deursigtig en verantwoordelik bestuur word. Geld as sulks is nie sleg nie, maar as jy té lief vir geld word, is dit die wortel van alle kwaad.”
André meen daar is drie hoofredes hoekom daar in ’n verhouding konflik oor geld bestaan: die verskil in bestedingspatrone, ontmagtiging en ’n gebrek aan kommunikasie tussen die verhoudingsmaats. As een maat spaar en die ander maat bestee, sal daar konflik wees. “Wees baie versigtig om nie skuld te maak nie. In Suid-Afrika spandeer die gemiddelde huishouding R7,80 aan krediet vir elke R10 wat hulle verdien.
Dit is glad nie ’n goeie gewoonte nie,” sê André. Van die redes hoekom mense swig en meer geld uitgee as wat hulle wou, is impulsaankope, gierigheid of om by vriende of bure by te hou. “Ons lewe in ’n tyd van kitsbelonings. Mense wil nou hê en eers later betaal. Soos miere moet ons ook leer om in goeie tye hard te werk en te spaar vir swaar tye wat voorlê.
Party mense sukkel doodeenvoudig met finansies omdat hulle te lui is om te werk.” André sê mense word in verhoudings ontmagtig as een maat al die geldsake hanteer. “Dis nie goed nie, tensy die ander party ’n kompulsiewe en onverantwoordelike koper is.
Die beste manier om harmonie in die huishouding te hê, is om konsensus te bereik oor hoeveel geld myne is, hoeveel joune en hoeveel ons s’n saam is,” sê André. Kommunikasie is nog ’n probleem. André meen as een party nie presies weet hoe en waar die geld aangewend word wat min raak nie, kan die ander party verwytend raak. Deursigtigheid en eerlikheid oor hoe geld spandeer word, help om konflik te vermy.

My geld, jou geld Dr Hermann Liebenberg, Vrouekeur se raadgewende sielkundige, sê dis nie altyd nodig dat huweliksmaats se finansiële situasie op alle vlakke deursigtig hoef te wees nie. “Konteks is altyd belangrik.
My praktykervaring is dat meer vroue ’n probleem met hul spandabelrige mans het, as wat mans vroue het wat geld uitmors. “ ’n Egpaar behoort maandeliks ’n gesamentlike bedrag vir die verpligte uitgawes beskikbaar te stel. Besluit van die begin af wat elkeen se pro-rata-bydrae gaan wees.
Dit behoort ’n sekere persentasie spaargeld vir onverwagse uitgawes in te sluit.” Hy voel dat ’n paartjie binne die konteks van ’n verhouding die reg tot onafhanklike uitgawes het en dat ’n persoon in ’n huwelik wel afhanklik van sy of haar maat kan wees, maar steeds ’n onafhanklike identiteit kan hê as dit by geldbesteding kom.
“Baie moderne mense word vandag aan dubbelinkomste-huishoudings blootgestel. Die oorskot van die individuele geld wat oorbly nadat die gesamentlike bedrag geld vir noodsaaklikhede en die huishouding bepaal is, behoort die individu s’n te wees om te spandeer soos sy of hy wil.
“Daar is natuurlik uitsonderings, maar ek ervaar oor die algemeen dat as albei se geld in een rekening betaal word, dit tot konflik en manipulasie bydra wat in ’n magstryd kan ontaard – veral ten opsigte van die pro-rata-bydrae tot die gesamentlike uitgawes.
As julle vooraf besluit hoeveel elkeen tot die gesamentlike uitgawes moet bydra, bied dit elkeen die geleentheid om ’n vlak van outonomiteit ten opsigte van sy of haar persoonlike keuse van uitgawes te behou.
Dr Hermann sê al is twee mense in ’n verhouding lief vir mekaar en al respekteer hulle mekaar of is hulle afhanklik van mekaar, bly elke mens uniek. “Emosionele afhanklikheid in ’n gesonde verhouding is vir my belangriker as finansiële afhanklikheid.” Hy vertel ’n paartjie behoort minstens jaarliks elkeen se bydrae te hersien omdat bonusse en salarisverhogings nie altyd dieselfde is nie.
“Dit sal ook help dat verhoudingsmaats voorbereid is wanneer krisisse opduik sodat hul geldelike posisie nie onbeheerbare afmetings aanneem nie.”

Dr Hermann beantwoord ’n paar vrae

Hoe ontduik paartjies die finansiële voorbeeld uit hul kinderjare? In een huis was dit dalk ondenkbaar om handelsnaamklere te koop en in ’n ander die norm? Dit kan gebeur dat ouers soms geldpatrone aan hul kinders oordra. Die realiteit is dat die moderne mens se finansiële sake komplekser is en minder ruimte vir byvoorbeeld ’n enkelinkomste laat. Om hierdie rede het die nuwe generasie nodig om ’n nuwe perspektief oor inkomste, uitgawes en onvoorsiene finansiële druk te bespreek – veral wanneer hulle besluit om hul huishouding verantwoordelik vanuit een gemeenskaplike geldbron te bestuur.
Wanneer is dit nodig om professionele hulp in te win? Wanneer twis en konflik selfs op finansiële vlak manifesteer, kan die raad van ’n terapeut ingewin word. Só kan daar objektief vasgestel word of finansies werklik die twispunt in die verhouding is en of daar ander bydraende faktore is wat onmin veroorsaak. Sielkundiges is nie finansiële kundiges nie, maar die onderhandelinge wat soms deel van die gesamentlike uitgawe-bydraes gedoen moet word, kan sinvol deur ’n terapeut gefasiliteer word.
Werk verhoudings waar mense tit for tat speel? “As jy gholf speel, gaan ek skoene koop. As jy R500 van ons geld spandeer, moet ek ook R500 kry.” Nee, maar ongelukkig is geld dikwels die sweep waarmee verhoudingsmaats mekaar slaan in ’n poging om probleme of ’n gemis op ’n ander vlak van die verhouding te probeer aanspreek.
Watter wenke sal jy vir paartjies gee wat oor geld baklei? Ek stel gewoonlik ’n meer onafhanklike finansiële bestuur voor met ’n gesamentlike basisbron vir uitgawes en spaardoeleindes. Só word ’n gesonde balans in die verhouding geskep. Wees ook versigtig dat rusie en konflik oor geld nie ’n verskuiwing is van ander sielkundige en verhoudingsprobleme wat dan op finansiële vlak uiting vind nie. Emosionele konflik word dikwels na finansiële aspekte verplaas en soms ook as straf teenoor mekaar gebruik, veral waar dit by die tit-for-tat-verhoudingsprobleme kom. As twee volwassenes ’n gesonde emosionele verhouding het, is die kanse baie groter dat elkeen ’n regverdige bydrae tot die huishouding se gesamentlike finansiële verantwoordelikhede sal lewer en só twis sal uitskakel.

Maryna de Beer, ’n Gautengse berader, stel die volgende voor wanneer jy en jou maat oor geldsake verskil

  • Konfronteer jou maat so kalm as moontlik sonder om hom of haar te beskuldig.
  • Jy kan van jou maat verwag om te erken waar hy of sy te veel spandeer het, om om verskoning te vra as dit julle in ’n moeilike posisie geplaas het en om te onderneem om verantwoordelikheid te aanvaar.
  • As daar ernstige verkwisting was, kan die artikels teruggeneem word en die skuldige se finansies ingeperk word.
  • As dit ’n aanhoudende probleem is, kan die huweliksmaat van die spandabelrige party eis dat sy of haar maat op emosionele vlak (berading) of finansiële vlak (skuldberading) professionele hulp kry.
  • Albei huweliksmaats moet deel hiervan wees, totdat die spandabelrige persoon se gedragspatroon verander het.

BRONNE: André Diederichs: [email protected] of besoek www.andrediederichs.co.za; Maryna de Beer: [email protected]

Send this to a friend