Hoe vier jy Kerstyd?

0

Ons lesers deel spesiale tradisies

San-Mari Burger (21) van Ashton: Kersvieringe gebeur Oukersaand, my pa lees Bybel en ons sing Kersfeesliedjies en eindig altyd met Stille Nag. Ons woon Kersdag gewoonlik die kerk by en ek geniet dit. Kersfees is nie Kersfees vir my as my pa op Oukersaand nie uit die Bybel vir ons lees nie. Kersfees is ook nie Kersfees as my ma nie die eerste noot met die Kersliedere insit nie. Darem sing my ma mooi!

Wilmie van Heerden (38) van Pretoria: Wanneer ons saam met familie kuier gee ons gewoonlik net geskenke vir die niggies en nefies, nie vir die grootmense nie. Ons is nie die musikaalste familie nie, maar osn het ‘n boekie met die spesiaalste liedere. Ons kinders kry kans om tydens die sang musiekinstrumente te speel.

Debbie de Jager (40) van Vanderbijlpark: Ons leer ons seun, Nathan, dat ons vir mekaar geskenke gee omdat ons nie vir liewe Jesus ‘n fisieke geskenk kan gee nie en ons gehoorsaamheid aan Hom is ‘n groot geskenk. Ons glo ook om dit sprokiesagtig vir hom te hou. Hy weet ook dat Kersvader vir hom ‘n geskenkie onder die boom sal kom los. Ons glo nie aan duur geskenke nie. Behalwe by jou kinders kan ‘n mens partykeer oorboord gaan net om daardie gelukkige gesiggie te sien! Mens skeep jouself eintlik af as dit by jou kinders kom, maar ai, dis tog te lekker. Ons sit al deur die nag ‘n boud in die oond word wakker met dié lekker geure.

Marietje Badenhorst (52) van Jacobsdal: 0ns gee regtig net as gesin vir mekaar iets en ons probeer net iets te gee wat die persoon nodig het of baie graag wil hê.

Richard King (67) van Johannesburg: Vir ons familie is geskenke uitdeel ‘n Oukersaand-speletjie. Ons koop ‘n paar geskenke van sowat R10 elk. Dit word toegedraai en dan uitgedeel sonder dat die ontvanger enigsins ‘n benul het wat daarin is. Elke persoon kry ‘n kans om ‘n geskenke te kies. Daarna kan jy die geskenke, nog ongeopen, probeer uitruil. Geskenke word dan oopgemaak en jy kry weer kans om geskenke te ruil. Kinders veral raak nogal verontwaardig as jy ‘n nuwe karretjie/poppie omruil vir ‘n koekie seep! Alles word natuurlik ná die tyd maar tog na die regte persoon uitgeruil.

Lente Graupner (72) van Pretoria: Die kleinkinders kry ietsie kleins op Oukersaand. As die kleinkinders gaan bad, kom “Kersvader” en sit die geskenke onder die boom neer. Kersdag is dit ‘n ander geval. Die dogters bederf my en ek hulle. Die kleinkinders kry geskenke by ooms en tannies en by hul ouma. Die geskenke is nooit uitspattig nie, soms is geskenke iets kleins soos heerlike sjokolade of ‘n stel pragtige kouse. Die geskenke gaan meer oor die gedagte as die geskenk self, want die grootste geskenk wat ons gekry het is Jesus. Dis ‘n bonus as ons Kersfees kan kerk toe gaan. Op Kersdag speel ons pragtige musiek, vertel stories, swem saam die kleinkinders en geniet al die tradisionele geregte soos koekstruif.

EK ONTHOU DIé KERSFEES IN BESONDER

San-Mari, Ashton: Een Kersfees toe ek vier of vyf jaar oud was het een van my ooms soos Kersvader aangetrek. Al die niggies en nefies het ons longe uitgegil vir Kersvader om te kom. Vanuit die bamboes verskyn daar toe hierdie rooi pak met ‘n sak vol geskenke. My boetie (twee jaar jonger as ek) begin toe histeries gil toe Kersvader nader kom. My ma probeer met alle mag hom kalmeer deur te sê hy is net hier om vir ons geskenke te bring, maar niks werk nie. Toe herken ek my oom se horlosie aan hierdie sogenaamde Kersvader en begin self gil: “Kersvader is Frans-Willem. Frans-Willem is Kersvader! Boetie, hou op huil. Kyk sy horlosie, dis net Frans-Willem.”

Wilmie, Pretoria: Kersfees wat ek as kind onthou, was ook wonderlik en ‘n baie lekker tyd, maar dit het soveel meer waarde gekry die dag toe ons eie gesinnetjie begin groei het. Die samesyn raak net elke jaar lekkerder en lekkerder.

Debbie, Vanderbijlpark: Kersfeesjare wat ek onthou en wat altyd by my sal bybly, is as jong dogter. Ons is ‘n groot gesin en my tannie, oom en al die kinders was altyd Kersfees saam. Ons het ‘n groot agt sitplekmarmereetkamerstel gehad en oor Kersfees was die tafel gesaai met al die persente. Ons het nie eers omgegee vir ‘n boom nie daar was in elk geval nie plek op die tafel nie! Persente vir ‘n kind is tog maar te lekker en natuurlik varkboud met vetkoeke en ‘n appelkooskonfyt bring soveel memories terug.

Debbie, Vanderbijlpark: Ek wil graag saam met Nathan koekies bak, alhoewel hy nie regtig belangstel in die kombuis nie. My ouma Koekies se huis het dwarsdeur die jaar altyd soos Kerskoekies geruik. Selfs na haar dood het ek ‘n bak met haar koekies ingehad wat niemand mag eet nie. Ek wou net af en toe daaraan ruik en herinneringe terugbring.

Marietjie, Jacobsdal: Die Kersfees wat ek nooit sal vergeet nie, is 1998. Ek was hoogswanger en my man se familie was almal op die plaas. Oukersaand het ek gevoel iets is nie pluis nie. Op pad hospitaal toe het ek my skoonouers laat weet ons is onderweg kraaminrigting toe. My skoonpa het gesê ek kan nog nie gaan nie, ek moes nog ‘n skaapboud gaarmaak! Ons het nog lank daarna baie lekker gelag. Jané is die oggend net na 12:00 gebore. Kersdag het die pediater vir ons gesê Jané is ‘n Downsindroomkind – die grootste Kersgeskenk wat ek nog ooit gekry het.

Richard, Johannesburg: Ek onthou veral die eerste Kersfees saam met my skoonouers. Dit was die eerste geleentheid dat ek ‘n groot gedeelte van die familie en ook hulle vriende ontmoet het. Daar was omtrent ‘n klomp mense, almal het op een of ander manier slaapplek gekry – kinders in ‘n krismisbed. Ons is almal vroeg saam kerk toe en het daarna heerlik saam gekuier. Kostafels wat kreun onder die disse. Laatmiddag het ons almal onder ‘n groot wilgerboom gelê en stories geluister.

Lente, Pretoria: Ek onthou veral een Kersfees. Dit was nog die goeie ou dae waar gesinne nog tyd gemaak het om saam vakansie te hou. Dit was ‘n tyd waar die waarde van Kersfees nog eenvoudig en ongekompliseerd was. Die spesifieke Kersfees was op Nylstroom. Almal was daar. Boeties, sussies, ma’s, pa’s, kinders en kleinkinders, niggies en nefies. Dit was ons laaste groot Kersfees voor gesinne oor die see gaan bly het, my Ma en Pa was nog so gesond, sussies was jonk en kinders was nog klein en onskuldig.

kersfees

Lees ook dié

Bak gesonde muffins

Muffins kan gesond wees! • 24 muffins BESTANDDELE 2 ekstragroot eiers 125 ml (½ k) avokado-olie 187 ml (¾ k) Huletts Sugalite 500 ml (2 ...