As jy saam met ‘n boelie bly

Baie is al oor gewelddadige verhoudings geskryf, maar steeds bly soveel vroue by boelies, sê Louise Karsten

Dit het “onskuldig” begin, vertel Nita*. Haar man het soms net haar arm hard vasgedruk. Toe klap hy haar een dag. “Ek onthou nou nog die skok daarvan. Ek kon nie glo dat hy dit gedoen het nie. Ek kon selfs die skok op sy gesig gesien. Hy was vreeslik apologeties, maar dit het ’n maand of twee daarna weer gebeur. Dit het ’n patroon begin vorm. Ek het by die huis by die kinders gebly en was bang om hom te los, want waarheen gaan ek? Sou ek ooit werk kon kry? Ek het magteloos gevoel.”


Toe haar man egter gewelddadig teenoor hul kinders begin optree, was dit een te veel vir Nita. Sy het by haar suster gaan bly en het geleidelik weer die stukke van haar lewe opgetel. Vandag is sy geskei. Maar hoe funksioneer ’n gewelddadige verhouding? Hoe kan jy die gevaartekens raaksien en vroegtydig daaruit kom?
Bertus Preller, ’n prokureur wat in egskeidings spesialiseer, sê Suid-Afrika is ’n land met van die hoogste syfers van huishoudelike geweld in die wêreld. “Dit is ongelukkig die algemeenste skending van menseregte in Suid-Afrika.” Hy meen vroue word daagliks vermoor, fisiek en seksueel aangerand, gedreig en verneder, binne en buite hul eie huise.
“Na raming word een uit elke ses vroue in Suid-Afrika gereeld deur hul maats aangerand. In minstens 46% van hierdie gevalle word die kinders in die huis ook mishandel.” Volgens die departement van justisie is sowat een uit elke vier Suid-Afrikaanse vroue slagoffers van huishoudelike geweld.

Die dinamika

Caryl Wyatt, die skrywer van die boek Look Me in the Eye en die stigter van die blog en Faceboekblad Please, Abuse is no Excuse, was altesaam 25 jaar in twéé gewelddadige huwelike. Maar hoe beland ’n vrou in so ’n soort verhouding? “Uit ervaring en onderhoude met verskeie vroue is dit dikwels as gevolg van ’n swak selfbeeld. Ek het met geweld grootgeword en miskien op ’n onbewustelike vlak gedink ek kan nie ’n gewone, ordentlike man kry nie.
Ek het ’n man nodig gehad wat my gemaklik laat voel het met dit wat vir my bekend was.” Caryl meen vroue wat by ’n boelie bly, glo hulle verdien nie om gelukkig te wees nie en kies die mishandeling. “Sulke mans is dikwels baie aantreklik en verlei vroue met sjarme, geskenke en leë beloftes.” Sy vergelyk ’n gewelddadige verhouding met dwelmverslawing.
“Die misbruiker beloof jou die hemel en die aarde. Die verslaafde word aangetrek deur die beloftes en aanvanklik is daar goeie tye in die verhouding ook. Hoewel daar reeds ’n paar slegte ervarings is, bly die idee van die goeie tye aanloklik. “Party mense gebruik dwelms en besluit dan dit is nie vir hulle nie voor hulle verslaaf raak. Sommige vroue in gewelddadige verhoudings doen dieselfde. Ná een belediging verlaat hulle so ’n man terwyl ander vroue keer op keer terugkeer in die hoop om weer gelukkig saam te wees.”
Sy meen die man maak weer beloftes en wanneer die vrou nie aan sy verwagtinge voldoen nie, wys hy weer sy lelike kant. Cornelia van der Merwe, ’n Pretoriase psigiater, sê dikwels het slagoffers en aanranders wanfunksionele kinderjare gehad. “In hul kinderjare het die vrou en die man dalk geleer om sekere verdedigings op te bou en het sekere dele van hul oorspronklike heelheid prysgegee om te kan oorleef.”
Cornelia meen ’n mens is onbewustelik op soek na iemand wat daardie verlore dele van jou weer kan heelmaak en die trauma uit jou kinderdae kan genees. “Jy raak verlief op ’n persoon wat van die positiewe eienskappe het wat jy in jou ouers beleef het. Jou maat beskik oor negatiewe eienskappe wat hy nie vertoon nie, maar wat ook in jou ouers teenwoordig was. Jy dink jy het die volmaakte verhouding.” Sy gebruik die voorbeeld van Petrus* en Saartjie*.
Petrus kom uit ’n gesin waar sy pa militaristies was en nie respek vir ’n vrou getoon het nie. Petrus moes spring om alles vir sy pa reg te doen, maar hy is ook vir sy prestasies geprys. Hy het min emosionele nabyheid ervaar en is emosioneel afgeskeep. Hy het geleer dat ’n man se woord wet is. Saartjie se ouers was ook ongenadiglik streng en sy moes alles altyd perfek doen. Sy is selfs fisiek aangerand as ’n vorm van tugtiging. Sy is bang vir konflik, angstig en probeer om alles perfek te doen. Albei het dit as sogenaamde liefde beleef terwyl dit in der waarheid allesbehalwe liefde is.

Bly weg

Petro Theron van Families Suid-Afrika (Famsa) sê boelies het dikwels ’n lae selfwaarde en kan vroue fisiek, verbaal, seksueel, emosioneel en selfs finansieel mishandel. “Die boelie kan dalk op sekere vlakke suksesvol wees, maar het ’n diepgewortelde gevoel van verwerping.” Mans wat hoë aggressievlakke het, as kind of jong volwassene mishandel is of ’n onderliggende persoonlikheidsversteuring het, en nie behandeling daarvoor kry nie, moet die rooi ligte laat flikker.
“Iemand wat aan posttraumatiese stressindroom ly en nie behandeling daarvoor kry nie of ’n behoefte het om alles en almal om hom te beheer, kan ook moontlike mishandelingsgedrag openbaar.” Caryl sê daar is vroeë waarskuwingstekens in so ’n verhouding en dat vroue nie vir mishandelaars ’n tweede kans moet gee nie. “Enige man wat jou verneder, verkleineer en dreig en aggressief en dislojaal teenoor jou is, is gevaarlik.”

Die wet beskerm jou

Gesinsgeweld word deur die Wet op Gesinsgeweld 116 van 1998 beheer. Ingevolge die wet kan enige persoon wat aan huishoudelike geweld onderwerp word om ’n beskermingsbevel aansoek doen. Volgens adv Hishaam Mohamed, die streekhoof van die Wes- Kaapse departement van justisie en konstitusionele ontwikkeling, raak huishoudelike geweld nie net die lewensgehalte van die gesin nie, maar ook die struktuur van die gemeenskap. “Die toepaslike implementering van dié wet is daarom van kritieke belang.”
Hy sê die wet op huishoudelike geweld het dit ten doel om mense te bemagtig – veral vroue en kinders – om hul reg tot ’n veilige omgewing vry van enige vorm van geweld uit te oefen. ’n Beskermingsbevel verstryk nooit nie en is ’n bevel wat deur die hof uitgereik word en wat die aanvaller inlig wat hy nie mag doen nie. Jy kan ’n beskermingsbevel by jou landdroskantoor se gesinsgeweldafdeling kry.

Wat nou gemaak?

Caryl sê die genesingsproses ná ’n gewelddadige verhouding is van die uiterste belang. “Genesing is die moeilikste van als en daarom gaan so baie vroue terug na die boelie. Slagoffers benodig traumaberading. Baie slagoffers ervaar meer pyn in die genesingsproses as toe hulle saam met die mishandelaar geleef het.” Cornelia gee dié raad:
Ouers moet besef dat jy ’n kind nie op enige vlak mag misbruik, verwoes of mishandel nie, sodat hierdie kind nie later as volwassene geen idee het wie hy of sy is, geen grense het en al so verhard het dat hy of sy ernstige wandade pleeg nie. Kinders moet hooggeag word en sover as moontlik goed versorg word. Moenie ’n kind oorbeskerm of bederf nie.
Mense moet ophou wegskram van goeie en verantwoordelike terapie om hulle met trauma, wanopvattings en wonde uit hul kinderjare te help. Egpare moet betyds vir terapie gaan as iets ooglopend nie meer uitwerk nie. Pas die terapeut se voorstelle toe.
As jy jou maat/eggenoot vrees, is dit dringend tyd om hulp te soek. Enige geweld wat in die huwelik of teenoor ’n kind kop uitsteek, moet oombliklik hanteer word. Moenie allerhande verskonings uitdink oor hoekom dit aanvaarbaar is nie.
Petro sê ’n vrou wat in so ’n verhouding vasgevang is, moet eerstens erken dat sy mishandel word. Praat met ’n vertroueling daaroor en erken dit hardop.
Praat volgende met ’n professionele persoon wat jou kan help soek na die dieperliggende rede hoekom jy in so ’n verhouding is. Kry ’n beskermingsbevel teen jou aanrander.
As jy vir jou lewe vrees, trek onmiddellik uit wanneer hy nie tuis is nie, na ’n plek waar hy jou nie kan kry nie en waar jy ondersteuning van ander mense kan ontvang. Daar is hoop ná ’n boelieverhouding. Dis ’n lang pad, maar die lewe kán weer vir jou plesierig wees en jy kán genees. Begin net om vandag nog iets aan jou situasie te doen.

Send this to a friend