Bou jy of breek jy?

0

kind_bou

Jou kind se selfbeeld is baie belangrik vir sy of haar toekoms. Maar jou insette is van kardinale belang

 

Deur ZERELDA ESTERHUIZEN

 

Jou selfbeeld is iets wat jy jou res van jou lewe met jou saamdra en wat jy van jouself dink, beïnvloed dikwels ander mense se dunk van jou.

‘n Goeie selfbeeld is op soveel vlakke noodsaaklik, maar hoe bou jy dit by kinders?

Jim Taylor, skrywer van die boek Your Kids Are Listening: Nine Messages They Need to Hear from You sê jou selfbeeld word gebou as jy geliefd en veilig voel en as jy bevoegdheid ontwikkel.

 

Bewys jou liefde

Kinders moet hoor dat hul ouers lief vir hulle is. Wys ook vir hulle jou liefde deur hulle in die aand dalk voor bedtyd ‘n soentjie te gee en ‘n drukkie in die oggend voor skool. Wees vir jou kinders ‘n veilige hawe en verseker hulle van jou onvoorwaardelike liefde.

Let op jou woorde

Wees altyd positief as jy oor jou kinders praat en moet veral nie oor hulle kla as hulle binne hoorafstand is nie. Dit kan jou kinders se selfbeeld aftakel as hulle verkleineer word.

Pasop vir kassies

Ouers is dikwels geneig om hul kinders te etiketteer. “Dis nou my uitblinkerkind, sy presteer so goed op skool en hierdie is my besige seuntjie. Hy wil net speel.” Jou besige kind hoor dus van kleins af dat hy nie presteer en nie goed kan doen op skool nie? Moenie iets onregverdig om jou kinders se nekke hang nie.

Gee verantwoordelikhede

Almal wil voel asof hulle nodig is en of hulle behoort. Kinders ook. Gee vir jou kinders ouderdomsgepaste takies in die huis. Jou driejarige kan dalk vuil klere in die mandjie gooi en jou vyfjarige kan borde kombuis toe neem. Wys waardering vir dit wat jou kinders doen.

Moenie hul gevoelens gering ag nie

Stel belang in wat jou kinders vir jou vertel en moenie als as belaglik afmaak nie. Hulle wil weet dat wat hulle sê, is vir Ma en Pa belangrik om te hoor.

Prys hulle

As jou kinders presteer, sê vir hulle hoe goed dit is en hoe trots jy is, maar wees ook versigtig met te veel lofbetuigings. Jim sê as ‘n mens kinders prys as hulle dit nie verdien nie, stel jy vir hulle ‘n laer standaard. As jy jou kind sê sy doen fantasties sal sy haarself nie langer druk nie. Selfvertroue kom van iets doen, probeer, misluk en weer probeer.

Staan terug

Soms is dit nodig vir kinders om self iets te oorkom en dis moeilik vir ouers om net terug te staan en te sien hoe hul kinders met iets worstel. Jou kind se selfbeeld word egter gebou as hy self iets vermag, risiko’s neem, oplossings vind en deursettingsvermoë toon.

Dissiplineer regverdig

Ja, kinders volg nie altyd die reëls nie en moet dan sekere gevolge dra, maar die manier hoe jy dit hanteer, het ‘n invloed op hul selfbeeld. Skree jy? Beledig jy? Hulle kan later glo hulle is stout kinders wat in elk geval niks reg kan doen nie …

Stel bereikbare doelwitte

Kinders wat voel hulle dat hulle iets bereik het, se selfbeeld groei. Moedig jou kind se onafhanklikheid aan deur bereikbare doelwitte te stel.

 

BRONNE: http://meta4kids.com.au, www.todaysparent.com

Lees ook dié

Send this to friend