Genadedood: Wie se keuse is dit?

0

Dié omstrede onderwerp lok steeds heelwat reaksie uit, skryf Carla van der Spuy

Dit het party mense geruk toe die IVP-LP dr Mario Oriani-Ambrosini in Augustus 2014 ná ’n uitmergelende kankerlyding sy eie lewe geneem het. Die eens formidabele parlementslid is 15 maande tevore met ’n aggressiewe terminale longkanker gediagnoseer.
Hy het ook, terwyl hy doodsiek was, ’n vurige veldtog gevoer dat dagga vir medisinale gebruik goedgekeur word. In Suid-Afrika het die Suid-Afrikaanse Regskommissie al in April 1997 ’n wetsontwerp voorgestel wat aktiewe genadedood, asook selfdood met mediese bystand, aanbeveel het – natuurlik onder streng toesig en voorwaardes.
Passiewe genadedood is waar ’n dokter terugstaan en ’n ongeneeslike siekte toelaat om sy gang te gaan. Aktiewe genadedood kan in twee verdeel word: waar die dokter aktief ’n middel toedien wat die pasiënt doodmaak, en wanneer die dokter die pasiënt ’n middel of ’n apparaat gee waarmee hy of sy selfdood pleeg.
Die organisasie Dokters vir Lewe beskou passiewe genadedood nie werklik as genadedood nie, want dit is die siekte, nie die dokter nie, wat die pasiënt doodmaak. ’n Voorbeeld is om ’n breindoodpasiënt se ventilator af te skakel. Dignity SA beywer hulle vir die wettiging van genadedood, en selfs emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu het al tot die debat toegetree.
Daar is twee prosesse wat gevolg kan word in die poging om genadedood te wettig: ’n Hofaansoek deur ’n sterwende persoon, of konsepwetgewing, wat nooit parlement toe gegaan het nie, kan deurgevoer word. Prof Sean Davison, ’n komiteelid van die organisasie Dignity SA, sê talle mense sterf elke dag en elke uur ’n pynlike dood.
Prof Sean en Desmond Tutu is albei al self diep geraak deur mense ná aan hulle se lyding. Prof Sean was in die nuus toe hy sy ma, dr Patricia Ferguson (85), in 2006 in Nieu-Seeland help sterf het toe sy ’n verskriklike kankerlyding gehad het. Hy was onlangs weer in die nuus toe hy teenwoordig was toe sy vriend, dr Anrich Burger, gesterf het.
Dr Anrich was ’n kwadrupleeg en het konstante pyn verduur. Tutu het ’n meningstuk vir die Sondagkoerant City Press geskryf waarin hy sê dit is elke mens se reg om met waardigheid te sterf. Dr Mario het byvoorbeeld alles in sy vermoë gedoen in sy stryd teen sy siekte en die pyn. Hy het selfs alternatiewe Chinese behandeling op die proef gestel, maar sy liggaam was deurtrek van die kanker en sy lyding was ondraaglik.
Hoe anders kon sy laaste oomblikke nie gewees het as hy met waardigheid kon sterf met sy geliefdes om sy bed nie, het sy vrou, Carin, ná sy dood gevra. Ons dink immers nie twee keer daaroor om ’n troeteldier van sy pyn te verlos en “aan die slaap te sit nie”, het sy gesê. Hoe wanhopig moet ’n mens nie wees as jy geen ander uitweg sien as om te sterf deur jouself te skiet of jou polse te sny nie?
Die oorlewingsdrang is immers die mens se sterkste drang, meen voorstanders van hierdie omstrede kwessie. Dis dalk maklik om wetgewing teen genadedood te ondersteun en te sê slegs God het die reg om oor lewe en dood te besluit, maar vra vir enigeen wat al die trauma moes beleef om geliefdes pynlik aan ’n terminale siekte te sien sterf hoe moeilik dit is. Voorstanders van die kwessie sê terminale pasiënte se lyding word “danksy” mense en die wetenskap uitgerek, wat uiters traumaties vir die pasiënt sowel as sy geliefdes is.
Beteken dit dan nie dat die mens hom ook aanmatig om oor lewe en dood te besluit deur iemand kunsmatig aan die lewe te hou nie? Bevorder dit menseregte? En kan ’n mens werklik oordeel as ’n pasiënt wie se langdurige pyn sonder die hoop op verligting hom tot raserny dryf die dood as ’n uitweg kies?

Teenstrydige menings Maar vir talle, veral gelowiges, is genadedood ondenkbaar. Teenstanders van genadedood is bekommerd dat die wettiging daarvan sodanig kan ontaard dat die mens homself aanmatig om oor lewe en dood te besluit. Op ’n webtuiste skryf ds André van den Berg dat genadedood selfdood is. Hy kritiseer aartsbiskop Desmond Tutu as hy sê: “Wie versoek dat sy lewe voortydig beëindig word, pleeg selfdood en oortree die sesde gebod. “Die woord ‘genadedood’ is eintlik misleidend.
Dit behoort eerder selfdood of lewensbeëindiging genoem te word. Ons het egter gewoond geraak aan lelike dinge wat in mooi papier toegedraai word.” Hy sê voorts: “Die moontlikheid van genadedood kom ter sprake wanneer daar menslik gesproke ’n definitiewe aanduiding van ’n naderende dood is.” Hy meen egter die lewe is die somtotaal van ons besluite en vra dan of God ons ’n vrye wil gee om self oor die lengte van ons lewe te besluit.
Hy meen daar is geen ruimte in die Woord wat ons toelaat om indien ons ly en sterwend is, ’n bietjie gouer te sterf nie.” Dignity SA vra dat mense wat terminaal siek is, minder as ’n jaar het om te leef en by hul volle verstand is, die keuse gegun moet word om met die hulp van ’n onafhanklike paneel genadedood te kies.
Prof Willem Landman, ’n direkteur by Dignity SA, nie-uitvoerende direkteur by Ethics SA en buitengewone professor aan die Universiteit Stellenbosch, sê dié organisasie vra nie net vir wettiging in die geval van terminale siektes nie, maar ook in gevalle van onomkeerbare en onuithoubare lyding soos motorneuronsiekte.
Hy wys ook daarop dat enigeen mediese behandeling mag weier; selfs al is dit lewensondersteunend. Enige behandeling teen jou wil of sonder jou toestemming is ’n miskenning van jou outonomie, dit mag op aanranding neerkom en is strydig met die konstitusionele regte op liggaamlike integriteit (selfs al is dit die toediening van antibiotika teen jou wil).
Prof Willem sê: “Om verstaanbare redes verskil mense radikaal van mekaar oor die etiek – die reg of verkeerd – van ondersteunde selfdood en genadedood op grond van verskillende persoonlike en godsdienstige oortuigings.
Só is die beëindiging van onomkeerbare en ondraaglike lyding of om met menswaardigheid te sterf, die belangrikste oorwegings vir sommiges van ons. Vir ander gaan dit daaroor om God se wil uit te voer. “Met laasgenoemde moet ons baie versigtig wees. Daar is baie godsdienstiges wat die reg op ondersteunde selfdood en genadedood as in ooreenstemming met God se wil interpreteer.
Net soos ons deur medisyne en chirurgie die duur van ons lewe en die manier van ons sterwe mag manipuleer, mag ons die lewe onder sekere omstandighede verkort. “Pogings om ondersteunde selfdood en genadedood te wettig of te dekriminaliseer gaan egter nie oor ons persoonlike of godsdienstige oortuigings nie, maar wel oor wat ons Grondwet toelaat of verbied soos dit neerslag vind in ons openbare beleid of wette – net soos in die geval van beëindiging van swangerskap, burgerlike huwelike, poligamie, of die doodstraf.
“Die vraag in al hierdie gevalle is eenvoudig: Watter grondwetlike regte het Suid-Afrikaanse burgers ten spyte van hul persoonlike en godsdienstige verskille? Met ander woorde, ons Grondwet beskerm ’n reg om sekere praktyke te beoefen of verbied sekere praktyke as strydig met ons menseregte, al bots dit met sommige van ons se persoonlike en godsdienstige oortuigings.
Dus is die relevante vraag: Het ons ’n grondwetlike reg op ondersteunde selfdood of selfs genadedood? “Daar is baie sterk grondwetlike argumente daarvoor en dit is waarskynlik so dat ons gemenereg op hierdie punt strydig met die (meer onlangse) Grondwet is sodat dit verander sal moet word om sodoende lydende, terminaal siek mense se regte te erken.
“Dit staan uiteraard enigeen vry om nie ondersteunde dood te kies as dit met hul diepste oortuigings bots nie, maar enigeen wat ander wil verbied om so ’n opsie uit te oefen, moenie hul persoonlike en godsdienstige oortuigings aan ander wat van hulle verskil, probeer opdwing nie, maar die Grondwet laat praat. Laasgenoemde is uiteraard op die ou end vir die konstitusionele hof om oor te beslis.”
Willem sê dis nie net Dokters vir Lewe wat passiewe genadedood nie werklik as genadedood beskou nie. “Dit kan egter as verwarrend beskou word om onttrekking of weerhouding van lewensondersteuning as genadedood te sien. Dis gewoon gesonde mediese praktyk om die natuurlike sterwensproses sy gang te laat gaan en nie futiele behandeling toe te pas om mense langer te laat leef nie.”

Waar is dit wettig?

Terwyl die debat oor genadedood voortwoed, is bystand met die sterwensproses in min lande wettig. Switserland, België, Luxemburg, Nederland en die state Oregon en Washington in Amerika beskik almal oor wetgewing wat selfdoodbystand en genadedood op die een of ander manier goedkeur.
’n Skrywer, komediant, aktrise en kampvegter vir mense met gestremdhede, Liz Carr, het hierdie ses plekke besoek om eerstehandse inligting oor die onderwerp te verkry. Tydens haar ondersoek het sy in Oregon te hore gekom van ’n kankerpasiënt wat na alle waarskynlikheid van die Dood met Waardigheid-wetgewing gebruik sou maak.
Haar gesondheidsplan het geweier om vir chemoterapie te betaal, maar het geen probleem met bystand met selfdood gehad nie …

Lees ook dié

Verandering, die een konstante

0shares 0Deel 0Twiet 0Google+ 0Pin 0Print 0E-pos Sommige mense vrees verandering terwyl ander weer daarop floreer, maar kan jy hierdie vrees verander? vra JB Roux ...

Send this to friend