Kies ‘n boek: Die wêreld van Charlie Oeng

kenjoustorie_charlie oeng

Willie Burger kyk na Etienne van Heerden se nuwe roman

Daar heers groot opgewondenheid as ’n nuwe roman deur Etienne van Heerden verskyn. Hy is immers een van ons “groot” Afrikaanse skrywers. Sy bekroonde roman Toorberg het in 1984 die eerste proe van magiese realisme in Afrikaans gebring, toe die een sentrale karakter in die roman, die magistraat, kort ná sy aankoms op die Karoodorpie om StamAbel loop, versigtig om nie op sy skaduwee te trap nie omdat almal weet ’n mens trap nie op ’n dooie se skaduwee nie. Daarmee het Van Heerden sy kenmerkende styl gevestig.

 

Sy kortverhaalbundel, Die liegfabriek, waarvan die titelverhaal later tot Casspirs en Campari’s gelei het, het skielik die afgelope tyd met die Bell Pottinger-storie oor “White Monopoly Capital” weer relevant geword. In die roman het ’n reklamemaatskappy die beeld van die destydse president van die apartheidstaat probeer poets soos wat Bell Pottinger die Gupta-Zuma-beeld probeer poets. Deur romans soos Kikuju en Die stoetmeester het die magiese realisme telkens weer opgeduik. Die Karoo as ruimte en temas van geregtigheid, waarheid, die onvermoë om met sekerheid te kan weet, en telkens ’n ondersoek van die verlede en van skuld het kenmerkend van Van Heerden se romans geword.

 

Vir my is Die swye van Mario Salviati, naas Toorberg, steeds hoogtepunte in sy oeuvre en waarin sy verbluffende vaardigheid as verteller geslyp is terwyl die steeds rykerwordende woordoordaad meer ingehoue is. Wat telkens opval, is die manier waarop nog en nog interessante stories, byna soos in die werk van Marquez of Rushdie, sommer so in die verbygaan op bladsy ná bladsy byna argeloos uitgegiet word, asof die bron vir stories onuitputlik is. Die wêreld van Charlie Oeng herinner ’n bietjie aan Dertig nagte in Amsterdam, maar die Karoo as kenmerkende ruimte staan weer sentraal. Hier verras egter ook die Hongkong-ruimte waarin ’n deel van die romangebeure afspeel. Die roman van 550 bladsye is ’n kragtoer van vertelling. Die begin van die roman het my aan Richard Ford se Canada herinner, waarin ’n volwassene ook terugkyk na ’n verskriklike gebeurtenis wat sy ouers getref het toe hy nog kind was.

 

Tian Kilian se ouers is vermoor, so word die leser al met die oopmaak van die boek meegedeel. Die moorde byna 500 bladsye later kom dus nie as verrassing nie, maar die verhaal boei die leser enduit met hoe by die moorde uitgekom word, en geleidelik word die konteks en redes en die gevolge van die moorde duidelik. Die verteller is Tian Kilian wat in ons tyd probeer om die moord op sy ouers in 1964 en veral die verhaal van hul moordenaar te ontrafel – om sodoende ook sy eie aandadigheid en skuld daaraan te ondersoek. Soos die magistraat in Toorberg moet hy agterkom hoe ontwykend die waarheid is. Skuld, aandadigheid, die effek van ’n ervaring van vernedering, van verontwaardiging, word geleidelik van talle kante ondersoek. Maar ook die gevare van kulturele appropriasie – iets waaroor deesdae so dikwels geskryf word, kom ter sprake.

 

Die titel van die roman vestig immers die aandag op die Chinese hoofkarakter – ’n vreemde en onkenbare persoon vir wie Tian juis probeer verstaan, omdat hy deur begrip van Charlie Oeng eintlik hoop om homself te verstaan, om sy ouers se dood finaal te kan verwerk. Maar Oeng is ’n Chinees en om oor ’n Chinees te skryf – as Afrikaner – is gewaagd. Sy besoek aan Hongkong en beskrywings van Oeng wat hy daarna maak, kan te maklik die toeristiese clichés van Chinese wees – die “Westerse” blik op die “Ooste” – soos wat kritiek die rolprent The World of Suzie Wong uit 1960 ook al aangedui het. Van Heerden kan stories inmekaarvleg soos weinig ander skrywers dit kan nadoen: Charlie Oeng se kinder- en jeugtyd in Amsterdam waar hy deur die Hollanders stief behandel is, sy werk as slagter (van diere, maar ook van mense in diens van ’n Chinese “triade”), sy oorlewingstryd tydens die Tweede Wêreldoorlog, sy worsteling om in ’n oorvol Hongkong te oorleef en sy uiteindelike vestiging in Suid-Afrika is al genoeg stof vir ’n boeiende storie.

 

Maar dan kruis sy pad met die Hollander Cor van Gogh (broerskind van die skilder) met ’n skildery van sy oom, en met die geheimsinnige en beeldskone “Sy”, die hakkelende vrou uit Istanbul wat hy op ’n skip na Suid-Afrika ontmoet. Hierdie stories word boonop deur Tian Kilian gerekonstrueer, wat self in ’n liefdesverhouding betrokke raak. Almal se verhale in die 1960’s raak mekaar – in ’n tyd waarin die Veiligheidspolisie disinformasie oor die dorpsprokureur, Tian se pa, versprei. Dit is ’n kragtoer van vertelling. Maar dan moet jy die krag hê om die “barokagtige oordrywing” wat soms net langer en verder aanhou as wat ’n mens bereid is om te lees, kan verduur, of jy moet jou maar daaraan oorgee. Ek het uiteindelik laasgenoemde gedoen en is deur die toorkrag van die vertelling meegevoer. Dit is een van die heerlikste boeke wat jy hierdie jaar gaan lees.

Send this to a friend