Kinders & dissipline

0

kinders_dissipline

JB Roux gesels met Anchen Witthuhn, skrywer van die boek Change your child’s behaviour, oor kinders se gedragsprobleme

JB Roux

Dis enige ouer se nagmerrie: Jy stoot ‘n trollie in die supermark – en skielik gooi jou neulende kleuter haarself op die vloer neer en skop en skree so hard as wat sy kan. Die ander mense in die supermark staan en wonder hoe jy die situasie gaan hanteer, maar jy het geen idee wat om te doen nie …

WEN Change your child’s behaviour

As sulke optrede nie gereeld plaasvind nie, sê Anchen Witthuhn, skrywer van Change your child’s behaviour, voel die kind waarskynlik net nie “sy- of haarself” nie. Die kind is dalk moeg of voel siekerig.

“Die beste is om self kalm te bly en te vergeet van die mense om jou. Tel jou kind op en druk hom of haar teen jou vas en laat die kind besef jy weet hy of sy voel nie lekker nie. ‘n Kalm, paaiende benadering is altyd die beste.

“Nadat jy jou kind oortuig het dat jy verstaan hoe sy of hy voel, kan jy jou kind se aandag probeer weglei deur ‘n geselsie aan te knoop en dalk snaakse opmerkings te maak terwyl jy jou inkopies so gou moontlik probeer afhandel. As sulke gedrag gereeld voorkom, is daar onderliggende probleme wat aangespreek moet word.”

Nog ‘n probleem wat gereeld onder jong kinders voorkom, is ‘n voortdurende stryery met boeties en sussies.

“Dis belangrik om, weer eens, te bepaal wat die werklike rede vir so ‘n gedragspatroon is. Dis tyd vir die hele gesin om byeen te kom en elkeen kans te gee om hulself konstruktief uit te druk. Jou kinders moet weet hoe om hul emosies te verwoord; die ander gesinslede moet leer om dié emosies te respekteer. Die idee is om jou kind in boeties en sussies se skoene te plaas en te vra hoe jy sou voel as iemand so iets vir jóú gesê het. As een van die kinders se gedrag teenoor sibbe onaanvaarbaar is, moet toepaslike dissiplinêre maatreëls toegepas word.

“Soos ‘n groeiende aantal ouers is ek teen lyfstraf gekant. Dit is ‘n onaanvaarbare manier om ‘n kind se gedrag in toom te hou. Die groeiende aantal navorsingstudies wat hieroor gedoen word, wys dat lyfstraf geensins opbouend is nie. Lyfstraf benadeel jou kind emosioneel én psigologies. Dit laat ‘n kind verneder voel en laat haar voel dat sy deur haar ouers verwerp is. Navorsing het verder bevind die stres wat deur lyfstraf of net die moontlikheid van lyfstraf veroorsaak word, ‘n hormonale reaksie in jong, ontwikkelende kinders veroorsaak. Dit kan hul gesondheid benadeel – op die kort- én op die langtermyn. Ek glo sterk dat indien ouers hiervan bewus is, hulle nie lyfstraf sal toepas nie. Ek wil ouers aanmoedig om die gevolge van dié soort dissiplinêre aksie goed na te vors en alternatiewe, opbouende metodes te vind om sekere aspekte van hulle kinders se gedrag in ‘n bepaalde rigting te stuur.

“Dit is ook nie nodig om op jou kind te skree nie. Om te skree is ook ‘n vorm van aggressie en daar mag geen aggressie wees wanneer kinders ter sprake is nie. ‘n Ferm stemtoon is meer as genoeg.

“Moet ook nie wanneer jy jou kind dissiplineer, enigiets doen wat as wreed beskou kan word nie. Daar is ouers wat byvoorbeeld, wanneer ‘n kind ‘n woede-uitbarsting het, haar in ‘n kas of kamer toesluit om haar te kalmeer. Dit is nie aanvaarbaar nie. In ‘n situasie soos hierdie het jou kind liefde nodig.

“Jong kinders met gedragsafwykings kan ander kinders byt, slaan, skop en rondstamp, veral wanneer hulle nie hul sin kan kry nie. Soms kan die kleinste dingetjie so ‘n uitbarsting tot gevolg hê. Kinders soos dié daag dikwels gesag uit. As die situasie nie effektief benader word nie, word die probleem erger: Die warrelwind word ‘n tornado en nog later ‘n orkaan. As jy nie daar is om jou kind te lei en op die regte manier te dissiplineer en meer sinvolle uitlaatkleppe vir die kind se woede te skep nie, sal dit alles erger maak.

“Ek gesels baie met die ouers van kinders wat veranderende gedragspatrone toon. Kinders soos dié kry dikwels gemengde boodskappe van hul ouers en dit verwar hulle. Sulke ouers probeer boonop om dié kinders se gedrag te verander. Die kinders hoor in die proses baie negatiewe dinge oor hul gedrag pleks daarvan dat daar klem op hul góéie gedrag geplaas word. Ouers moet geleer word om hul kind se optrede effektief te verander deur ‘n positiewe uitkoms aan die kind voor te hou en die klem te plaas op die uitskakeling van gemengde boodskappe en om te sorg dat die kind positiewe terugvoering kry.”

Baie ma’s het ‘n voltydse werk en ‘n kinderoppasser se sieninge oor dissipline en roetine verskil dikwels van dié van die ouers. Volgens Anchen moet probleme in dié opsig van die begin af geïdentifiseer en aangespreek word. “Dit is belangrik vir kinders dat daar standvastigheid is.”

Nog iets wat Anchen in haar boek bespreek, is ontspanningstegnieke: Dis ‘n goeie idee om kalmerings- of ontspanningstegnieke deel van ‘n kind met woede-uitbarstings se daaglikse roetine te maak. Onthou dat jou kind ‘n emosioneel ontstuimige tyd deurmaak en dat dit nie oornag gaan opklaar nie. Daaglikse kalmeringsaktiwiteite sal jou help om ‘n kalm omgewing te skep en die onstuimigheid in jou kind se gemoed te laat bedaar. Afgesien daarvan leer jy jou kind ‘n belangrike lewensvaardigheid.

Leer jou om dié tegnieke daagliks toe te pas en deel van sy of haar roetine te maak, skryf Anchen. Jy kan die kind ook leer om die ontspanningstegnieke toe te pas wanneer sy of hy ook al voel dit nodig is. So kan jy die kind aanmoedig om na sy of haar eie emosionele behoeftes om te sien. Dit is jou kind se “ek-tyd” waarin sy haarself tyd gee om tot ruste te kom en te ‘ontlaai’.

Om TV te kyk, is nié ‘n goeie vorm van ontspanning nie. Laat jou kind liewer in die kamer na strelende musiek luister, verkieslik instrumentele musiek. Kuns is nog ‘n goeie vorm van ontspanningsterapie. Gee jou kind kreatiewe vryheid. As jy jou kind byvoorbeeld iets wil laat teken, laat die kind teken wat sy of hy wil en hoe sy voel, pleks daarvan om haar voor te sê.

* Change your child’s behaviour deur Anchen Witthuhn (Struik Lifestyle)

 

Lees ook dié