Klassieke klanke: Manuel de Falla

manuel-de-falla

manuel-de-falla

Manuel de Falla se bekendste werk is seker sy Noches en los jardines de España, musiek waarin die hart van Spanje so duidelik hoorbaar is

Deur JOHAN MYBURG

In ’n doodloopstraat teen die hang waarop die Alhambra soos ’n juweel in die kroon van Granada sit, staan die nederige huis waarin die Spaanse komponis Manuel de Falla van 1921 tot 1939 gewoon het.

Dié carmen, ’n tipiese Spaanse huis met ’n private tuin agter ’n hoë muur wat nie van die straat af sigbaar is nie, is in die 1960’s in die Museo Manuel de Falla omskep. Jare gelede het die museumgids, ’n entoesiastiese señora, my een someroggend op besoek aan die huis na die kas onder die trap geneem en emfaties gewys na die plek waar Falla wegkruipplek vir die digter Federico Garcia Lorca aangebied het. Ek wou dit graag glo, want die ruimhartige komponis het by meer as een geleentheid mense in nood onderdak geneem.

Die gids het egter aangedik, het ek later besef. Manuel de Falla y Matheu (1876–1946), gereken as die vernaamste Spaanse komponis van die 20ste eeu, het hom ná jare in Parys in Granada gevestig. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het hy na Madrid teruggekeer en hom in 1921 in Granada in die provinsie Andalusië, waar hy in Cadiz gebore is, gaan vestig. Hy en sy suster het in die huis onderkant die Alhambra gaan woon. In 1920 het hy saam met Lorca ’n projek begin om die inheemse Andalusiese flamenco en cante jondo, vertaal as “diep liedere” (wat ook die inspirasie vir Lorca se verse was), te bevorder.

LEES OOK: Klassieke klanke: Johannes Brahms

Met die uitbreek van die Spaanse Burgeroorlog in 1936 is Lorca vir sy liberale sienings geteiken. Ondanks Falla se pogings om Lorca van die nasionaliste te red, is dié in Augustus daardie jaar deur genl Francisco Franco se magte vermoor. In 1939, nadat Franco die Spaanse Burgeroorlog gewen het, het Falla hom in Argentinië gaan vestig, waar hy in 1946 dood is. Sy oorskot is die volgende jaar in die katedraal in Cadiz begrawe. Tydens Falla se studiejare in Madrid het sy liefde vir die musiek van Andalusië, in besonder flamenco en cante jondo, spoedig deurgeslaan.

Onder sy vroeë musiek tel verskeie zarzuelas, liries-dramatiese werke waarin spraak sowel as sang gebruik word. Nietemin was sy eerste groot werk die eenakteropera Die kort lewe (La vida breve) (1905) wat in 1913 die eerste keer opgevoer is. Van sy bekendste werke het Falla tydens sy tweede verblyf in Madrid geskryf: die nokturne vir klavier en orkes, Nagte in die tuine van Spanje (Noches en los jardines de España) (1916); die ballette Liefde, die towenaar (El amor brujo) (1915) en Die driehoekige hoed (El sombrero de tres picos) (1917), wat Serge Diaghilev, met stel- en kostuumontwerp deur Pablo Picasso, op die planke gebring het.

Sy Noches en los jardines de España, musiek waarin die hart van Spanje so duidelik hoorbaar is, het Falla in 1909 begin as nokturnes vir klavier, maar dit tot sy huidige vorm uitgebrei met drie tuine wat in musiek verbeeld word: die jasmyngegeurde tuine van die Generalife neffens die Alhambra (“En el Generalife”); ’n ongetitelde tuin waarin ’n eksotiese dans plaasvind (“Danza lejana”); en danse in die tuine van die Sierra de Córdoba met sy bekendste inwoner, die Sufi-wysgeer Ibn Masarra (“En los jardines de la Sierra de Córdoba”). Daar is verskeie knap opnames van dié deurdagte werk beskikbaar wat al as “intiem tragies” beskryf is, hoewel dié van die Spaanse pianis Alicia de Larrocha onder die bestes tel.

Send this to a friend