Kuns: Alexander Calder

calder arc of petals

Alexander Calder se Arc of Petals, 1941

 

Calder het sy idees geslyp tot komposisies in ragfyn vorms wat in volmaakte balans hang en beweeg, met dun metaalvinne, wat met die geringste lugstroompie van vorm kan verander

Deur Johan Myburg

Die Op-kuns (optiese kuns) van die 1950’s en die 1960’s het op velerlei vlakke van beweging gebruik gemaak – in eie reg bekend as kinetiese kuns – wat in die 1960’s sy hoogtepunt bereik het. Trouens, die wortels van kinetiese kuns – soos later vergestalt in die hangende, swaaiende, dartelende werke van Alexander Calder – gaan so ver as Dada en die Konstruktivisme van die 1910’s terug.

Streng gesproke verder terug, veral as ’n mens “kineties” eng sou lees as “beweging”. Dan sou die Impressioniste soos Claude Monet en Edgar Degas ter sprake kom wat heelwat met die beweging van die menslike liggaam op doek geëksperimenteer het. Vir die oomblik gaan dit egter oor kunswerke of onderdele van kunswerke wat inderdaad kan beweeg. Met ander woorde: Kuns wat verder gaan as die tradisionele statiese voorwerp wat optiese illusie of meganiese beweging met behulp van motore soos die Russiese kunstenaar Naum Gabo (1890–1977) se Standing Wave van 1919/’20 insluit.

Dié werk bestaan uit ’n enkele staalstaaf wat vertikaal op ’n voetstuk gemonteer is. Verskuil in die voetstuk is ’n motor wat, sodra jy dit aanskakel, die staaf tot ’n driedimensionele vorm “vervorm”. Dit is die rittelende deursigtigheid wat waarskynlik tot die titel van dié werk bygedra het. Die Switserse kunstenaar Jean Tinguely (1925–1991) het die droom van Dada voortgesit in sy beeldhouagtige masjiene wat hy as “metameganies” beskryf het. Tinguely het byvoorbeeld geglo masjiene is nie ’n hulp vir die mens nie, maar dat masjiene die mens mettertyd sal oorheers. En hy was nie eens met hedendaagse elektroniese en digitale vernuf vertroud nie! Nietemin was dit nie voor 1955 nie toe die uitstalling Le Mouvement in die Galeri Denise Rene in Parys aangebied is dat kunstenaars met dié belangstelling hulle as ’n groep gesien het.

LEES OOK: Kuns: Jackson Pollock’s Mural

Die Amerikaanse kunstenaar Alexander Calder (1898–1976) was die spil waarom die hele beweging gedraai het. Eers het Calder beweging met behulp van meganika bewerkstellig, daarna het hy met gemotoriseerde beweging begin eksperimenteer en eindelik sy bestemming in mobiele kunswerke gevind wat van die plafon hang, bekend as sy “mobiles”. Die betowering wat die sirkus vir Calder gehad het, het hom laat wonder waarom beeldhouwerk nie soos akrobate kan beweeg nie. Vandaar het hy sy idees geslyp tot komposisies in ragfyn vorms wat in volmaakte balans hang en beweeg, met dun metaalvinne, en wat met die geringste lugstroompie van vorm kan verander.

Dit is veral vir dié werke met verwysings na die Surrealistiese skilderye en beelde van Joan Miró en Jean Arp, waarvoor Calder bekendheid verwerf het. In 1941 het Calder se Arc of Petals, gemaak van geverfde en ongeverfde aluminium met staaldraad, die aandag van die Amerikaanse kunsversamelaar Peggy Guggenheim getrek. Dié werk het sy in die ingangsportaal van haar huis in Venesië gehang. In 2015 het die Poesjkin-staatsmuseum in Moskou ’n oorsiguitstalling van Calder se werk aangebied – die eerste uitstalling van dié kunstenaar se werk in Rusland. Soveel as 60 werke is vertoon, wat ’n besondere insig in Calder se werk gebied het. Verlede jaar het Tate Britain in Londen Alexander Calder: Performing Sculpture aangebied, ’n uitstalling wat spesifiek gefokus het op die manier waarop beweging, performance en die teater Calder se benadering tot kuns beïnvloed en bepaal het. Besoek die webwerf van die Calderstigting by www.calder.org

Send this to a friend