Kuns: Kuns deur die eeue

Johan Myburg

Die 17de eeu in Europa was die eeu van konflik. Dit was die tyd van die vestiging van kolonies die wêreld oor, maar eweneens die tyd van ’n bitter stryd tussen die Rooms-Katolieke Kerk en die groeiende Protestantisme. Waar die ou Grieke in die kunsgeskiedenis tot in daardie stadium taamlik eensydig die botoon gevoer het, het Rome met sý verstaan van die klassieke ideaal nou die middelpunt van die wêreld geword.

Barok, die era wat dikwels verkeerdelik as bisarre oordrywing en pure oordaad sonder enige struktuur gesien word, het juis in die orde van klassieke Rome sy vertrekpunt gevind.

Ja, die Barok van die 17de eeu was op die oog af emosioneel eerder as intellektueel en Barok-kuns is dalk ingespan om met goud en of klater die kroon – eers van die Kerk en toe van die Franse konings – te bevorder, maar uit dié tydperk het ook ander, strenger winste gespruit. Een daavan was ’n soberder blik op godsdienstige temas en ’n ander die ontwikkeling van die landskapskildery.

As Christus om en by 1600 in Die roeping van Matteus, geskilder deur Michelangelo Merisi da Caravaggio (1573-1619) verskyn, is Hy nie meer die geïdealiseerde figuur wat op ’n afstand gehou word nie. Iets van ’n reformatoriese blik op die persoon van Jesus begin reeds na vore kom.

Dis veral die werk van die Italiaanse kunstenaar Annibale Carracci (1560-1609) wat met sy uitbeelding van ’n religieuse tema in die Vlug na Egipte (1604) die aandag op die landskap gevestig het.

Wat opval, is nie net figure wat verdwerg word deur die landskap wat in soveel detail geskilder is nie, maar juis die orde en ordening in die landskap wat beklemtoon word. In dié opsig is Carracci as Barok-kunstenaar die wegbereider vir die latere naturalistiese landskapskildering.

Maar mettertyd is dit Parys wat by Rome as die draer van die Barokvaandel oorneem. En nêrens is die ordening van die landskap so doelgerig as juis by Versailles gedoen nie. André le Nôtre (1613–1700), bekend as ’n skilder, argitek en tuinboukundige, is aangestel om die tuinerye vir Louis XIV by dié paleis aan te lê.

Hoewel dié tuine met rojale parterres en oordadige fonteine gefatsoeneer is, het landskapskilders soos Poussin daarenteen fantasie vermy en eerder op heroïese weergawes van landskappe, geskik vir ’n koning gefokus.
Van Frankryk het die Barok na Spanje, Nederland en Engeland versprei.

Die bekendste eksponent van die Spaanse Barok is Diego Rodríguez de Silva y Velasquez (1599-1660) en sy bekendste werk is waarskynlik Las meninas (1655), ’n enigmatiese skildery waarin die kunstenaar verbeeld word terwyl hy besig is om ’n skildery van die koning en die koningin te maak. Van dié twee sien ’n mens net die weerkaatsing in die spieël op die agtergrond.

In Nederland is onder die meesters van dié land se Goue Eeu Peter Paul Rubens (1577-1640), Rembrandt van Rijn (1606-1669), Carel Fabritius (1622-1654), Jan Steen (1626-1679) en Jan Vermeer (1632-1675).
Waar Rubens die skilder van die kontrareformasie was en wie se werk in Rooms-Katolieke kerke en paleise gehang het, het Rembrandt se protestantse sentimente meer in die Amsterdamse omgewing ingepas waar hy hom in 1624 gaan vestig het.

Hoewel Rembrandt Italië nooit besoek het nie – hy het aangevoer hy is te besig om te reis – het hy sy lewe lank inspirasie in drukwerk en gravures van Italiaanse meesters gevind. Caravaggio se gebruik van lig en donker in skilderye is deur Rembrandt bemeester en verfyn.

Engeland se koning Charles I het twee Vlaamse skilders na sy hof genooi: Anthonij van Dijck (1599-1641) en Peter Lely (1618-1680). Uit dié twee se portrette blyk veral aspekte van die mode van die tyd: mans geklee in kant en satyn, en vroue met strikke en linte.

Nietemin verbeeld Van Dijck die koning as ’n Engelse heer eerder as ’n uitspattige eweknie vir byvoorbeeld die Franse koning, ’n monarg wat ten alle koste die goddelike reg van die monargie wou beklemtoon.

(hooffoto)

Annibale Carracci se Vlug na Egipte, 1604 (122 x 230 cm). Dié werk hang in die Doria-Pamphili-galery in Rome.

Send this to a friend