LEES & STEM (April 2015): Die agterstallige paaiement

In elke winkel is die poppe snoesig en warm geklee met bypassende stewels en ’n handsak. Die pop in die een vertoonvenster trek onmiddellik Lulu se aandag, maar meer spesifiek die rooi jas, stewels en bruin leerhandsak.

Ronel Mostert

Haar oë val na die prys-etiket onder by die pop se linkervoet. Dit kan nie wees nie! Is hulle mal? Wie is bereid om dit te betaal? Sy sien vir Sandra in haar geestesoog en wonder wat haar man verdien. Anders as sy wat moet meng en pas, het Sandra elke dag ’n ander uitrusting aan.

Sy onthou skielik jy mag nie iemand anders se huis begeer nie, ook nie sy slaaf nie, ook nie ’n rooi jas, bruin stewels of ’n leerhandsak nie. ’n Verbyganger stamp aan Lulu en sy laat haar parkeerkaartjie val. Sy sien die tyd op die kaartjie en besef mismoedig sy sal al weer sewe rand moet opdok.

**************************

Later die aand strompel Lulu haar woonstel binne. Sy trek haar hakskoene uit en gooi dit eenkant neer. Sy begin na Fielies roep, maar kom gou agter dat haar kat weer soek is. Dit gebeur gereeld. Sy kan sommer sien hoe tannie Nienaber, op die tweede vloer, vir Fielies ongeoorloofde lekkernye voer. Sy aan die anderkant moet vanaand met 2 Minute Noodles tevrede wees.

Sy val op die bank neer. Met die dat sy haar voete op die koffietafel sit, stoot sy die hopie pos, wat sedert die vorige week al daar lê, op die vloer. Haar oog vang die wit koevert sonder die venstertjie. Voorop staan Per Hand en agterop is die prokureursfirma se naam gedruk. Haar hart sak in haar skoene.

Sy het nie baie skuld nie, maar die bank was tot op hede baie geduldig met haar motortjie se paaiement wat agter geraak het. Sy skeur die koevert oop.

**************************

Lulu sit in die wagkamer van De Wyk Prokureurs. Die brief het nie veel gesê nie, behalwe dat sy so gou moontlik ’n afspraak moet maak en meneer De Wyk moet kom sien. Sy vroetel senuagtig met die brief wat sy saamgebring het.
“Is u seker u wil niks drink nie,” vra die ouerige dame by die ontvangstoonbank.

Lulu knik haar kop. “Ja, dankie.”

Die vrou glimlag en tik weer verder. Die foon lui na ’n ruk en sy hoor haar sê: “Goed meneer.” Sy staan op en wys vir Lulu om saam te stap. Hulle stap verby ’n paar konsultasiekamers voordat die vrou liggies teen ’n swaar houtdeur klop en dit oopstoot.

“Meneer, Juffrou Brink is hier om u te sien.”

“Dankie, Mevrou. U kan haar maar instuur.”

Lulu stap die kantoor binne. Die man staan met sy rug na haar, besig om by die venster uit te kyk. Hy draai stadig om. Lulu snak na haar asem. Sy het in haar lewe nog nie so mooi man gesien nie. En van alles gaan hy haar oor die kole haal omdat sy die afgelope twee maande nie haar motor se paaiement betaal het nie.

“Sit gerus,” sê hy en wys met sy hand na die groot bruin leerstoel.

“Gaan dit oor my motor se paaiement?” vra sy dadelik.

Sy sien die frons en besef sy moet oor iets anders in die moeilikheid wees. Sy kan egter aan niks dink nie.

“Ek weet nie iets van u motor of dié se paaiemente nie.”

“Ek verstaan nie? Waarom wou u my dan sien?”

“Hoe lank het u my tante geken?”

“U tante?”

“Ja. Mevrou Nienaber. Sy het in dieselfde blok woonstelle gebly as u.”

“Hoe bedoel u, het? Het sy dan getrek?”

“Nee. Sy is vroeg verlede week skielik in haar slaap oorlede.”

“Ag nee!” sê Lulu geskok.

“Ja, dit is vir ons familie ’n groot hartseer.”

“Fielies…”

“Wie is Fielies?”

“My kat.”

“Dankie tog! Ek het nie besef dit is nie hare nie. Ek het die gedierte Maandagaand in haar woonstel gekry. Hy is by my. Ek sal hom aan jou terugbesorg.”

“Maar hoekom is ek hier?”

“My tante moes baie van jou gehou het. Inteendeel, ek dink sy moes besonders baie van jou gehou het.”

“Sy was dalk liewer vir Fielies as vir my,” sê Lulu en glimlag hartseer. Sy sien hom ook nou vir die eerste keer glimlag.

“Hoe dit ook al sy. My tante het my nog al die jare as haar eie kind gesien. Ook soos haar eie liefgehad.”

Lulu kyk op haar horlosie. “Meneer de Wyk, ek wil nie ongeskik wees nie maar my tyd is effens beperk. Ek moet oor ’n halfuur terug by die kantoor wees.”

Hy kug effens. “Soos ek gesê het, my tante het nog al die jare my belange op die hart gedra —”

“Meneer De Wyk, kan u vir my sê waarom ek hier is?”

“Ons moet trou!”

“Ons moet wat?”

“Trou . . .”

Lulu spring van haar stoel af op. “Is jy gek?”

“Sit asseblief.”

Lulu gaan sit weer.

“Ek is my tante se enigste erfgenaam, onderworpe daaraan dat ek met ene Lulu Brink trou.”

“Wie sê so?”

“Sy!”

“Jy kan nie ernstig wees nie. Dit klink soos ’n storieboek.”

“Toe nou nie. Ek erf alles op voorwaarde dat ek nog binne die volgende twee weke met jou trou.”

Lulu lag histeries.

Sy hoor hom saggies sê: “Ja, dit is nogal snaaks.”

“Ek kan nie hierna luister nie.” Lulu gryp haar handsak en storm by die deur uit.

Sy hoor hoe hy agterna roep, maar steur haar nie daaraan nie.

Sy sluit haar motortjie met bewende vingers oop en sit eers met haar kop op die stuurwiel voordat sy haastig kantoor toe ry.

**

Lulu vryf oor Fielies se rug. Sy kyk na die pand aan haar linkerhand. Witgoud. Sy hou daarvan. ’n Groot diamant sou in elk geval onvanpas gewees het. Sy kan nog steeds nie glo sy het haar laat ompraat nie. Vyf miljoen is egter nie te versmaai nie. Vyf miljoen in ruil vir ’n jaar van haar lewe.

Sy kom gewoonlik ’n kwartier voor Renier by die huis. ’n Uur is egter verby en hy het nog niks laat weet nie. Alhoewel hulle vanoggend saam besluit het om vanaand ’n wegneemete te kry begin sy tog kos te maak. Sy is honger en hý het in elk geval geen maniere nie.

Toe sy die groente van die stoof aftrek, hoor sy die voordeur klik.

“Iets ruik lekker!”

Lulu trek haar voorkop op ’n plooi. “Het jy iets soos ’n foon?”

“Ja, maar die battery is pap. Tannie Vy het vergeet om dit te charge.”

“Tannie Vy?”

“Ja, my sekretaresse.”

“Ek het kos gemaak.”

“Ek kan sien. Dit lyk ook lekker.” Hy soen haar op haar voorkop. “Ek gaan net gou my pakkies bêre.”

Lulu kan nie glo hy dat hy haar so pas op die voorkop gesoen het nie. Mens sou sweer hulle is al jare getroud. Hulle het die afgelope week skaars ’n paar woorde met mekaar gepraat. En nou dit.

“En hoe was jou dag?”

Nou het sy als gehoor. “Soos altyd.”

“Kom sit eers ’n bietjie,” sê hy met ’n breë glimlag.

“Waar was jy? Het jy gedrink?”

Renier lag.

“Dit is nie snaaks nie. Ons moet nog vir ’n jaar saambly en dit is hoe jy jou na die eerste week gedra.”

“Dalk het die eerste week my gewys my tante het my tog verstaan.”

“Wel, ek moet nog baie van jou leer en duidelik weet jy bitter min van my.”

“Wel, ek weet dat jy netjies is. Dat jy stiptelik is. Jy kan lekker kosmaak. En ek is mal oor die geur van jou parfuum.”

Lulu bloos. Sy wil nie vir hom sê dat sy nou vir die eerste keer geld het vir ’n goeie parfuum nie. Sy staan op. “Die kos word koud. Ek gaan inskep.”

Hulle eet in stilte. Na ete help hy met die skottelgoed.

“Ons maak nogal ’n goeie span.”

Lulu kyk op en sien die ondeunde trek in sy oë. Hy bly vir haar bitter mooi. Maar hy hoef dit nie te weet nie.

“Ek gaan bad,” sê Lulu.

“Kan ek jou rug kom was?”

“Moenie vir jou stuitig hou nie.”

“Dit voel asof ek jou al jare ken.”

“Ek gaan nie vir jou praatjies val nie. Ons het ’n deal.”

“Ek is nie van plan om iets sonder jou toestemming te doen nie.”

“Is jy seker jy het nie gedrink nie?”

Renier lag weer. “Hoekom dink jy ek het gedrink?”

“Jou belaglike voorstelle. Wat anders?”

Fielies kom skuur teen sy been. “Selfs Fielies is na ’n week al lief vir my. Hoekom vat dit jóú so lank?”

Lulu gooi haar hande in die lug. “Jou arrogansie ken geen perke nie.” Sy hang die vadoek op en stap na haar kamer.

Op haar bed is twee geskenksakke. Sy is nuuskierig. Sy kyk eers of Renier nie dalk agter haar is nie en loer vinnig in die sakke.

In die een sak is die rooi jas en in die ander sak die stewels en die bruin leerhandsak. Fielies kom skielik teen haar skuur.

Sy hoor hoe die water in die bad loop …

Send this to a friend