Maak tyd vir jou mense

maak_tyd_vir_jou_mense

Ansja Ferreira gee in die 15 Januarie-uitgawe wenke vir gesinstyd. Ons kyk hier na hoekom ouers by hul kinders betrokke moet wees

Die waarde van ‘n betrokke vader

Volgens Mariana Muller, ‘n lewensafrigter, toon studies jy kan op drie maande reeds onderskei dat jy ’n ma én pa het.

“En navorsing toon as albei jou ouers by jou opvoeding betrokke is, hét ‘n kind ’n voorsprong, waarskynlik beter kognitiewe en motoriese vaardighede, is gesonder en beter aangepas, kan probleme beter oplos, en het meer selfvertroue en empatie. Nie net pa’s nie, maar ook ma’s kan emosioneel onbetrokke wees. Pa’s voel baie keer dat hulle die geld inbring en dan nie nodig het om ‘n groot rol by opvoeding te speel nie,” sê sy.

In Life Without Father: Disappearing Dads are Destroying our Future (Free PR, 1996) gebruik David Popenoe die metafoor: “Ma gee die wortels, Pa die vlerke.”

Albei ouers het ‘n belangrike doel in kinderopvoeding. Psychology Today verwys na vaderskap as ’n unieke en komplekse verskynsel met reusagtige gevolge vir die kind se emosionele en intellektuele groei.

Waarby is jou kinders betrokke:

Weet ons wat ons kinders doen? Baie ouers sal besluit ‘n sekere speletjie is onaanvaarbaar, terwyl ander sal glo as ‘n mens dit kan google, is daar geen gevare. Daar is baie teenstrydige antwoorde op die internet oor baie onderwerpe, en ouers moet self ‘n besluit neem of wat jou kind doen tot sy voordeel strek of nie.‘n Ouer kan net so besluit neem as hy/sy weet wat in sy kind se lewe aangaan,” sê Mariana. “Maak seker dat jy jou inligting op die internet van betroubare bronne kry.

Hoe skep jy lekker herinneringe vir jou gesin?

1. Volgens kenners is die geskenk van tyd wat jy saam met jou gesin deurbring die grootste geskenk wat jy aan jou gesin kan gee.

2. Skryf jou gedagtes neer en neem foto’s en video’s van spesiale geleenthede en alledaagse gebeure.

3. Skryf vir jou kinders ‘n nota of briefie en sit dit in hulskoolkosblik. Wys hoe baie jy omgee.

4. Gesinsvakansies is goud werd vir jou kind en baie mense se gunstelingherinneringe bestaan daaruit. Maak jou gesinsvakansie spesiaal deur ekstra moeite te doen.

5. Maak van elke dag ‘n herinnering vir iemand al is dit net ‘n kaartjie, blommetjie, ‘n oproep of ‘n kuiertjie.

6. Vang ‘n oomblik in tyd vas. Maak ‘n herinneringskapsule vir elkeen van jou kinders. Jy kan ‘n groot skoenboks, ‘n groot plastiekhouer of glashouer gebruik. Met die geboorte van elke kind kan jy artikel daarin plaas, dit duidelik merk en dit daarna verseël en bêre totdat jou kind 18 of 21 jaar oud is, waarna hy of sy dit op sy of haar verjaardag kan ontvang. Artikels wat daarin geplaas kan word, is:

  • Koerante en tydskrifte.
  • Nie-bederfbare items byvoorbeeld lekkers, pakkies koffie, pakkies suiker, ‘n botteltjie parfuum.
  • Kledingstukke wat die mode van die tydperk vasvang.
  • ‘n Brief wat jy spesiaal vir jou kind geskryf het wat hy 18 jaar later gaan lees.
  • ‘n Boodskap wat jy vir jou kind op CD of op DVD opgeneem het.
  • Gedigte, foto’s, ‘n CD met musiek.

SOURCES
freepik.com

Send this to a friend