Spur se nuwe spyskaart vir kinders

spur_se_nuwe_spyskaart_vir_kinders

Spur is dekades lank al een van die gewildste familierestaurante in Suid-Afrika. Hoe dan anders met hul heerlike spyskaart wat spesiaal vir kinders sorg, speelareas en die Secret Tribe-klub. En nou het Spur besluit om selfs beter vir hul grootste aanhangers te sorg met ’n heerlike, gesonde kinderspyskaart.

Pierre van Tonder, Spur se hoof-uitvoerende beampte, sê “Ons neem die verantwoordelikheid vir die gesondheid van families wat ons restaurante besoek baie ernstig op: van die bestanddele wat ons gebruik tot die voorbereiding van die kos en die netheid van ons restaurante. Ons het reeds heelwat veranderinge op ons spyskaart aangebring, soos ons ‘better-for-you’-opsies, verlaagde sout-inhoud en 98% van die produkte op ons spyskaart is hormoon- en MSG-vry.”

Met die better-for-you-opsie kan Spur-besoekers skyfies en aartappel-gesiggies ruil vir gesonder opsies soos slaai of groente en melk in stede van gaskoeldrank.

Kids give their opinion on the new Spur kiddies menu as Pierre van Tonder looks on
Die Groep se hoof-uitvoerende beampte, Pierre Van Tonder,
luister na die kinders se eerlike terugvoer.

Spur bied ook ’n aanlyn-toep op hul webwerf aan waarop die voedingswaarde van al die items op die spyskaart beskikbaar is. Die toep sal jou ook laat weet indien een van jou opsies ’n allergeen bevat.

Met die skepping van die nuwe, gesonder kinderspyskaart wil Spur hul gesonder opsies ’n stappie verder vat. Dié keer wil Spur die opinie hoor van die ouers wie se kinders by Spur eet. “Ons het reeds ’n baie handige wenk by ons ma’s gekry – om groente in die kos weg te steek!” sê Van Tonder.

“Een van ons voorgestelde spyskaartitems het ’n minimum van 15% weggesteekte groentes. En om selfs beter vir die gesondheid van ons jonger besoekers te sorg, bied ons nie meer die ‘upsizing’ van enige disse of koeldranke nie.”
Hulp is ook ingeroep van onafhanklike dieetkundiges en voedingkundiges om Spur se nuwe spyskaart saam te stel.
Die nuwe spyskaart met gesonde opsies vir kinders sal vanaf Desember 2015 in uitgesoekte Spurs beskikbaar wees.

 

Spur

Send this to a friend