Gebakte peerpoeding

Foto: Vrouekeur – Elmarie Knapton

Hier is ’n resep vir ’n vinnige gebakte peerpoeding vir koue dae

Deur MARLO KITSHOFF-CARSTENS

4 tot 6 porsies

Bestanddele

400 g (1 rol) skilferkorsdeeg

3 vars pere

100 g (1/5 blok) botter

2 50 ml (1 k) sagte bruinsuiker (Demerara-suiker)

KARAMELSOUS

125 ml (½ k) karamelkondensmelk

60 ml (4 e) room

30 ml (2 e) botter, gesmelt

knypie sout

handvol pekanneute, grofgekap (opsioneel)

LEES OOK: Gebakte appeltert

Metode

Stel oond op 220 °C.

  1. Rol skilferkorsdeeg dunner op meelbestrooide oppervlak uit. Plaas koekpan van 24 cm op skilferkorsdeeg en sny sirkel wat 5 cm groter is. Las skilferkorsdeeg waar nodig sodat jy groot, ronde skilferkorsdeegsirkel het. Bedek en hou in yskas tot benodig.
  2. Skil en halveer pere en verwyder klokhuis.
  3. Smelt botter en bruinsuiker oor lae hitte op stoofplaat en roer gereeld sodat suiker oplos. Voeg pere by en prut oor matige hitte vir ongeveer ses minute.
  4. Skep pere met gaatjieslepel in ronde koekpan. Rangskik pere in sirkel met holtes na onder. Giet oorblywende sous in koekpan.
  5. Plaas ronde, uitgerolde skilferkorsdeeg bo-op peerhelftes. Druk kante wat oorhang tussen pere en kant in om rand te vorm.
  6. Bak tert vir 10 minute by 220 °C. Verlaag dan temperatuur tot 180 °C en bak vir nog 18 minute of tot goudbruin bo-op.
  7. Laat bietjie in koekpan afkoel en keer uit op opdienbord met kors onder.
  8. Karamelsous Meng kondensmelk, room, botter en sout en sit saam met peertert voor. Sprinkel neute oor indien verkies.

Send this to a friend