Sjefs: Frans Groenewald

Gabriëlskloof, ’n wyn-en-olyfplaas op die Swartrivier Pad, vanaf die N2 net anderkant Botrivier, se sjef, Frans Groenewald, het pas ’n Kosblik-ervaring bekendgestel wat besoekers uitnooi om die plaas se idilliese ligging op die koppie in die Overberg, al fresco styl te geniet.

Maryke Roberts

Die boks van seisoenale smulgenot lok jou na buite om in dié landgoed se salige binnehof een te word met die natuur, terwyl jy kommervry op die gras, weglê aan heilsame, vars voorbereide happies vanuit die kombuis.

Die restaurant en proekamer loop uit op ’n lowergroen grasperk en ’n paar dammetjies, wat die perfekte oase bied vir jou om jou kombers te kom sprei en jou skoene uit te skop vir ’n luilekker middag, vêr weg van die gejaagde lewe. Gabriëlskloof is nie jou tipiese piekniek-plaas waar jy tussen hordes sambrele moet veg vir jou plekkie nie. Die nuwe ‘piekniek-styl middagete in ’n boks’ oftewel Kosblik-ervaring, is meer vir daardie intieme buitelugkuiers weg van die gewoel.

Waar kom jou belangstelling in kos vandaan en waar het jy jou opleiding ondergaan?

My ouers het as stokperdjie ’n spysenieringsbesigheid gehad. Ek het verdere opleiding ontvang by Kevin Warwick se Warwick Chef School.

Wat was die romantiese maal wat jy nog geniet het?

Ek en my vrou het op my 30ste verjaarsdag in Santorini, Griekeland, in ’n klein restaurantjie wat oor die water kyk, gaan eet. Hemels.

Wat is jou terugval dis as jy vinnig iets moet kook?

Bees stroganoff, dis altyd geurig en bly ’n gunsteling.

Wat is die een dis wat jou vriende of familie telkemale voor vra en jy oor en oor moet maak?

Die lieflikste trippel-sjokolade brownies, of my beesstertpotjie.

Hoe sal jy jou kosstyl tuis beskryf?

Heeltemal te ontspanne!

Wat was jou slegste maal ooit?

Seekos risotto saam met my vriend Juan: ons het nie water of aftreksel gehad nie. Toe kook ons dit slegs met goedkoop witwyn. Dit was aaklig!

Wat is vir jou belangrik by die bediening van kos?

’n Mooi gedekte tafel, met lapservette, goeie wyn en goeie geselskap.

Watter drie bekende mense sal jy nooi vir aandete en hoekom?

Raimond Blanc, een van my groot sjefshelde, Laurika Rauch, een van my groot helde van kindsbeen af en Nelson Mandela, hy is ’n inspirasie en ’n wêreld ikoon.

Wat sal op die spyskaart wees?

Kreefstert op ’n bisque risotto, beesfillet Wellington en my ma se souskluitjies. Dis die kos vir konings!

Wat is trooskos vir jou en hoekom?

Melktert, as kind het ek altyd melktert-pap geëet en toe ek oorsee gewerk het, was dit my trooskos as ek huis toe verlang het.

Wat is jou lewensleuse?

Leef en laat leef.

Is daar een dis wat jou vrou maak waaroor jy mal is en waarvoor jy gereeld vra as jy nie lus is vir kook nie?

My vrou se spaghetti bolognaise.

Watter een bestanddeel kikker vir jou enige maal op?

Vars roket en parmesaankaas.

Wat is jou gunsteling kookboek?

Die Larousse Gastronomic! Leer Franse klassieke disse.

Wat is jou doodsonde met kos, eet jy skelm grondboontjiebotter uit die bottel?

Ek eet braaivleis van die rooster af voor ek opdien!

Wat is jou een geheim vir ’n lekker bredie of sop?

Gebruik tuisgemaakte aftreksel.

Wat is jou gunsteling kosbestemming?

Frankryk , Italië en Griekeland

Is daar een dis wat jy nie eet nie en ook nie graag berei nie?

Ja beslis, enigiets met paling in.

Wat is jou gunsteling wyn en met watter dis drink jy dit graag?

Gabriëlskloof se Five Arches saam met Bees Wellington.

Watter kortpad het jy ontdek wat jy met lesers kan deel?

Jy kan jou risotto so ’n paar minute voor die tyd kook en dan laat afkoel. As jou gaste kom, dan neem dit net minder tyd om klaar te maak.

Wat is jou gunsteling kombuisgereedskap?

My messestel en roomysmasjien.

Hoe voel jy oor botter en eendvet?

Ek geniet dit om met albei te kook; my opleiding is Frans-georiënteerd. So ons hou van confit en bottersouse.

Watter wyn geniet jy om mee te kook en te drink?

Ek het geleer jy sit in jou pot wat jy in jou keel ook sal gooi. So enigeen van Gabriëlskloof se wyne is fantasties!

• Vir meer inligting en besprekings, bel (028) 284-9865 of stuur ’n epos na [email protected]

Sjef Frans Groenewald van Gabriëlskloof Landgoed buite Botrivier se resep vir aartappel en artisjoksop met Prosciutto skyfies en truffelolie

SOURCES
Verskaf

Send this to a friend