Skaaprib- of skaapnekpotjie

Riaan Cruywagen kuier al jare in ons sitkamers en voel vir menige Suid-Afrikaner soos ’n ou bekende. Hy deel sy resep vir ‘n skaaprib- of skaapnekpotjie met ons

6 tot 8 porsies

Bestanddele

2 kg skaapribbetjie of skaapnek
250 ml (1 k) koekmeel
2,5 ml (½ t) fyn swartpeper
Aromat
genoeg olie
3 uie, grofgekap
5 ml (1 t) vars knoffel, gekap
genoeg sout
700 g (1 sakkie) klein heel aartappeltjies
275 g (1 pakkie) klein mielies
300 g (1 pakkie) klein worteltjies
350 g (1 pak) groenbone
140 g (1 pakkie) Chinese ertjies in dop (mangetout)
5 00 g (1 pak) botterskorsie, in blokkies gesny
bietjie kaneelsuiker
125 ml (½ k) sojasous
125 ml (½ k) goeie rooiwyn

LEES OOK: Geurige skaapboud vir Vadersdag

Metode

  1. Meng koekmeel, swartpeper en 10 ml (2 t) Aromat saam in vlak bakkie.
  2. Rol vleis in gegeurde koekmeel.
  3. Verhit olie in ysterpan. Braai skaapvleis aan albei kante tot bruin. Haal uit.
  4. Braai uie en knoffel in dieselfde olie waarin vleis verbruin is.
  5. Spuit binnekant van potjie goed met kleefwerende middel en maak potjie redelik warm.
  6. Pak skaapvleis sodat dit bodem en wande van potjie bedek. Skep uie en knoffel oor vleis.
  7. Pak nou groente in lae op skaapvleis. Sprinkel bietjie sout en Aromat tussen elke groentelaag.
  8. Sprinkel klein bietjie kaneelsuiker oor botterskorsies.
  9. Giet sojasous en rooiwyn eweredig oor alles.
  10. Maak potjie toe en moenie oopmaak voor minstens 2 uur verstryk het nie.
  11. Sorg dat pot stadig prut (met gas kan jy dit perfek stel).
  12. Daar sal later ’n waterseël met lugborreltjies om deksel se rand ontwikkel, dan weet jy pot is mooi op dreef.
  13. Toets ná 2 uur met vurk of aartappels sag is. As aartappels deursteek, is hulle gereed.
  14. Bedien saam met rys.

Send this to a friend