Kies ‘n boek: Nagmusiek deur Stephanus Muller

0

Daar is niks ‘gewoons’ aan hierdie meesterstuk nie

Willie Burger

Nagmusiek deur Stephanus Muller is die soort boek wat ‘n mens laat glo in die krag van die geskrewe woord, in die vermoë van taal om dinge gesê te kry wat eintlik onsegbaar is, maar wat, as ‘n mens versigtig genoeg daar rondom bly praat, tóg kommunikeerbaar word.

Daar is baie dinge wat eintlik onsegbaar is: ‘n lewe is een daarvan, want wat ‘n mens ook al oor jou eie of ‘n ander se lewe kwytraak, dit kan nooit ten volle reg aan ‘n mens laat geskied nie. Daar is te veel aspekte, te veel invalshoeke en gewoon te veel verborgenhede om regtig ‘n volledige weergawe van ‘n lewe te kan gee. Ook musiek is iets waaroor ‘n mens eintlik nie kan praat nie. Want die oomblik wat jy iets in taal probeer sê wat eintlik in ‘n ander medium bestaan – wat anders "kommunikeer" – is dit reeds ‘n leuen, ‘n poging om betekenis toe te ken en vas te pen wat nie in woorde verstaan kan word en vaspenbaar is nie.

Nagmusiek is tegelyk ‘n lewensverhaal en ‘n roman. Enersyds is dit ‘n biografie van die Suid-Afrikaanse komponis Arnold van Wyk (1916-1983). Andersyds is dit ‘n roman oor ‘n fiktiewe karakter, Werner Ansbach, ‘n musikoloog wat al jare lank worstel om ‘n biografie van Arnold van Wyk te skryf.

Ansbach sukkel, want hy is bewus van sy eie vooroordele, sy tekortkominge, sy onvermoë om sy onderwerp werklik te kan ken en om uit die magdom inligting wat hy versamel het, ‘n samehangende greep te probeer bied. Boonop sukkel hy met sy ma wat aan alzheimersiekte ly, met molle wat sy tuin omdolwe en met sy seksuele drange en verlange. Gevolglik is Nagmusiek eintlik ‘n soort "outobiografie" van die fiktiewe Ansbach waardeur ‘n besonder gedetailleerde, helder en boeiende lewensverhaal van die komponis Van Wyk tot stand kom.

Die beskrywing klink dalk verwarrend en mag die indruk wek dat Nagmusiek bloot die aaneenryging van ‘n klomp postmodernistiese truuks is, waardeur die grense tussen feite en fiksie, tussen fiktiewe karakters en werklike mense ondermyn word. Boonop bestaan Nagmusiek uit ‘n vermenging van verskillende tekssoorte soos dagboeke, geskiedenis, musiek-analises, foto’s (sommige afgedruk in die boek, ander as los foto’s daarin), fiksie, partiture, onderhoude, staaltjies en selfs wetenskaplike inligting oor molle, wat vervleg is.

Maar Nagmusiek is nie "gewoon" nie, ook nie "gewone" postmodernistiese foefies nie. In hierdie boeke word alles op só ‘n boeiende wyse saamgevleg dat ‘n meesleurende verhaal ook ontstaan.

Nagmusiek bestaan uit drie boeke wat in een boksie uitgegee is. En die boksie boeke, met hul talle foto’s en lyste en selfs die partituur van Arnold van Wyk se klavierkonsert, "Nagmusiek", in ‘n koevert agterin die een boek, is ‘n kunswerk. Fourth Wall Books het ‘n uitstalstuk hiervan gemaak – wat bydra tot die nadenke oor wat kuns eintlik is.

Die eerste twee dun boekies bevat al die voetnote en verwysings na die magdom feitelike inligting en maak die gebruik van Nagmusiek as ‘n naslaanwerk oor die musiek en lewe van Arnold van Wyk moontlik. Die derde boek van oor die 500 bladsye is die meesleurende roman/biografie/outobiografie – die onkategoriseerbare boek.

Om ‘n storie te vertel, is om sekere voorvalle te selekteer en in ‘n spesifieke volgorde te rangskik. Daarom is dit so moeilik vir Ansbach om Van Wyk se lewensverhaal te vertel. Elke besluit om een gebeurtenis op te neem, dit op ‘n spesifieke plek in die geheel te plaas, het ‘n ander betekenis van die voorval en van die geheel tot gevolg. Dit is verlammend om te probeer vertel sonder om op ‘n manier mag uit te oefen – sonder om jou eie idees op die onderwerp af te dwing. En om die storie te vertel sonder om die storie te vertel, is onmoontlik. Maar dit is juis wat Stephanus Muller in Nagmusiek doen.

Nagmusiek is ‘n diepgaande besinning oor wat dit beteken om te komponeer en om óór musiek te skryf, om oor ‘n mens se lewe te skryf, om hoegenaamd taal en verhaal aan te wend om ‘n greep op die wêreld te kry, oor die (on)betroubaarheid van herinnerings wat altyd neig om verhaal te word, oor die geweld wat ons die lewe aandoen met ons pogings om sin te vind deur te vertel, en oor kuns.

Dit is ‘n boeiende teks, soms baie droef en dikwels skreeusnaaks. Die enigste ander Afrikaanse skrywer met wie se werk hierdie vergelyk kan word, is Marlene van Niekerk – veral haar Memorandum. Ek is deurentyd aan WG Sebald se romans soos Austerlitz en The Emigrants herinner. Maar Nagmusiek is ook nie gewoon hiermee vergelykbaar nie. Jy moet dit self ervaar.

Lees ook dié

Daar is altyd hoop: Depressie

2shares 1Deel 1Twiet 0Google+ 0Pin 0Print 0E-pos Depressie kom in verskeie gedaantes voor en dis belangrik om dit te verstaan, sodat ons onsself en mense ...

Send this to friend