Kies ‘n boek: Wonderboom deur Lien Botha

Willie Burger kyk na Lien Botha se roman, Wonderboom

Willie Burger

Een van die uitsonderlikste romans in Afrikaans is Wilma Stockenström se Die kremetartekspedisie. In hierdie roman woon ’n vrou (wat nooit ’n naam in die roman kry nie) in ’n groot, hol kremetartboom. Sy slyt die laaste dae van haar lewe in die kremetartboom nadat sy as kind ontvoer en as slavin verkoop is.

Die gebeurtenisse speel in Afrika voor die Europese kolonisering af. Sy het verskeie eienaars gehad voordat sy uiteindelik deur haar geliefde vrygemaak word. Tydens ’n reis saam met hom na die binneland, op soek na skatte, word hulle in die steek gelaat en uiteindelik word haar geliefde deur ’n krokodil gevang. Só eindig sy alleen in die krematartboom. In Lien Botha, ’n gevestigde fotograaf-kunstenaar, se debuutroman sluit nou by Stockenström se roman aan. Vroeg in die roman is daar ’n opmerking dat Magriet, die sentrale karakter, haar man ontmoet het toe hy haar in ’n straat in Frankryk gesien viool speel het. Hy het haar daar in die vreemde genader nadat hy Stockenström se roman in haar sak gesien het.

In Wonderboom is die hoofkarakter ook ’n vrou. Magriet is ’n violis. Sy woon op Bettysbaai, maar in ’n ongespesifiseerde toekoms – in ’n tydperk nadat wet en orde in die land in duie gestort het. Voedselskaarste heers. Verskillende dele van die land staan onder beheer van verskillende “bendes”. Die Wes-Kaap word byvoorbeeld deur ’n skurk wat daarvan hou om mense te laat opstop en uitstal, Albino X, met ’n ysterhand regeer. Hy hou uitspattige partytjies waarop kunstenaars soos Magriet soms vermaak moet verskaf – en waarvoor hulle ten minste met kos vergoed word.

Soms kan sy ook by van die ander bevoorregtes viool speel, ryk mense wat steeds leef asof die grootste deel van die land se bevolking nie honger ly en in ellende leef nie. Sy het haar status as bevoorregte, vooraanstaande lid van die gemeenskap na haar man se dood verloor en in armoede versink. Sy besluit om na die noorde van die land te reis, na waar haar familie is. Reis is egter ’n moeisame onderneming in ’n land waar die infrastruktuur nie langer bestaan nie, en waar sy met verskillende gevare in elke gebied wat deurreis word, te doen kry. Die reis is egter – soos die meeste reise in die letterkunde – veel meer as bloot ’n moeisame tog van die Kaap na Pretoria waartydens sy haar onder meer moet vermom, gunste moet doen in ruil vir hulp, krioelende insekte moet trotseer, ’n lyk onherkenbaar moet vermink, en soms deur vreemde reisgenote vergesel word.

Benewens Stockenström se roman word ook talle ander literêre werke betrek – soos Etienne Leroux se Magersfontein o, Magersfontein! – uit die Afrikaanse literatuur, maar ook uit die wêreldletterkunde. Daar is ook baie verwysings na kunstenaars en natuurlik (Magriet is immers ’n violis) na musiek. Magriet besoek ook verskeie plekke van historiese belang langs die pad. Die verwysings na die verlede is belangrik, want uiteindelik raak dit duidelik dat Magriet besig is om haar geheue te verloor, dat demensie intree en dat al die herinneringe aan haar persoonlike lewe en ook die kollektiewe herinneringe – die land se geskiedenis – besig is om te vervaag. Sy maak gebruik van dagboekinskrywings om wal te gooi teen die groot vergeet, maar geleidelik word die verlede al hoe vaer.

Elke hoofstuk het ’n ander boomnaam of boomverwysing as titel – soos “Bloedboom”, “Diereboom”, “Oorlogboom”. Die slothoofstuk heet gepas, “Wonderboom”, haar uiteindelike bestemming met ten minste twee betekenisse wat aan die “wonder” geheg kan word – verwondering sowel as onsekerheid. Soos Stockenström se Die kremetartekspedisie, is hierdie ekspedisie van Magriet ’n poging om die verlede onder woorde te bring, ’n reis na binne en na buite. Dit is ook ’n roman waarin die aandag telkens op die taalgebruik self gefokus word. Soos die slavin, begeer ook Magriet om uiteindelik onderstebo aan die boom te hang – soos ’n vlermuis. Anders as in Die kremetartekspedisie, is die ruimte ’n baie herkenbare Suid-Afrika waarin talle van ons eietydse probleme vanuit verskillende kante belig word – van ekonomiese stelsels, armoede en kinderopvoeding, tot magsmisbruik, korrupsie en apatie. Sentraal staan die belang van herinnering, van kennis van die verlede – wat op verskeie maniere en deur verskeie kunsvorme ondersoek word.

By elke hoofstuk is daar ook ’n kunswerk wat iets van herinnering vasvat. Dit is aanvanklik ’n soort collage van kaarte, foto’s, briewe, boeke en ander artefakte wat saam as bolwerk teen die groot vergeet moet dien. Hierdie foto’s word geleidelik al hoe leër – namate Magriet se herinneringe vervaag – totdat slegs enkele blare by die laaste hoofstukke voorkom – slegs spatsels en patroon. Wonderboom is ’n boeiende leeservaring wat ontstellend is weens die reliëf wat aan ons eietydse ervarings gegee word, wat dikwels ook snaaks is – byna op ’n soort Ingrid Winterbach-manier – en wat indringend nadink oor die maniere waarop die verlede benut word om van die hede en van ons bestaan sin te maak.

Send this to a friend