Botter vs margerien

Kenners verskil steeds oor wat die gesondste is. Dalk is droë brood nog ons voorland, skryf Carla van der Spuy

Daar is niks lekkerder as ’n dik laag plaasbotter op varsgebakte brood nie. Koningskos! Vir talle smulpape moet restaurante ook liefs die ware Jakob eerder as die namaaksel bedien. Hokaai, waarsku sekere kenners, smeer liewer margarien op jou broodrolletjies.
Dit is baie beter vir jou hart. En as jy regtig beter keuses vir die gesondheid van jou hart wil maak, sal jy op die uitkyk wees na produkte wat met die Hartstigting se stempel spog. Hy glo geen snars daarvan nie, sê Piet Roos, ’n apteker van Florauna in Pretoria- Noord.
Hy meen margarien wat daarop aanspraak maak dat dit gesond is, is ’n groot kullery. “Die naam is reg en die hartjie is reg en mense sal enigiets doen om hul hart gesond te hou,” sê hy en voeg dan by: “Die waarheid is dat margarien kankergewend en ongesond is. Botter is beter. As iemand my ’n margarientoebroodjie gee, gooi ek dit weg.” Hoe dan nou? Wie moet ons glo? Die een dag lees ons margarien is beter as botter, net om die volgende dag weer te hoor dis net mooi andersom. Daar word te veel teenstrydige boodskappe aan verbruikers gestuur.
Kom ons kyk na navorsing wat beweer margarien is ongesond. Op www.ausfoodnews.com.au word berig oor ’n studie deur Amerikaanse wetenskaplikes onder leiding van prof John M Davis van die National Institute of Health wat in die British Medical Journal gepubliseer is.
Daarin word beweer deur margarien in plaas van botter te eet, jy jou risiko vir hartsiekte en hartaanvalle kan verdubbel. Die Amerikaanse navorsers het ’n studie wat van 1966 tot 1973 in Sydney, Australië, gedoen is, ontleed aangesien dit die enigste beheerde studie was wat op een poli-onversadigde vet, omega-6, gefokus het. Hierdie studie het altesaam 458 mans tussen 30 en 59 jaar wat voorheen hartaanvalle gehad het, ontleed.
Die helfte van die mans in die studie het geen dieetraad ontvang nie terwyl die ander helfte aangeraai is om botter te verruil en om hul poli-onversadigde vetinname oor ’n tydperk van drie jaar met 15% van hul totale energieverbruik te verhoog. ’n Herondersoek na die vroeëre studie het bevind dat die liggaam poli-onversadigde vet soos omega-6 in aragidoonsuur omskep, wat tot inflammasie kan lei, wat ’n leidende oorsaak van hartsiekte is.
Die webwerf www.newsmaxhealth.com skryf ook in ’n artikel oor botter versus margarien dat margarien nie beter as botter vir jou hart is nie; inteendeel, dis glo slegter.
Dit is volgens ’n studie wat oor ’n tydperk van 40 jaar gedoen is. Miljoene Amerikaners het hierop gereageer deur botter met margarien te vervang wat van omega-6-poli-onversadigde groenteolie gemaak is. Die artikel lui dat diegene wat dieetraad gekry het en versadigde vette in hul dieet met poli-onversadigde groenteolie vervang het, het ’n 16% hoër voorkoms van sterftes as gevolg van hartsiekte gehad vergeleke met 10% onder diegene wat aangeraai is om nie hul dieet te verander nie. Dr David Brownstein, skrywer van Natural Way to Health, wat as een van Amerika se voorste holistiese dokters beskou word, het mense ook teen die gevare van margarien gewaarsku en het vir Newsmax Health vertel hy is glad nie verbaas oor hierdie studie nie.
Hy sê die gevolge van die oorskakeling na poli-onversadigde en gehidrogeneerde omega-6-olies is dat hulle met meer kanker en chroniese siektes asook hoër vlakke van hartsiektes sit. Hy sê gehidrogeneerde omega-6 is ’n “verskriklike bestanddeel” wat vermy behoort te word, en dit is waarvan margarien gemaak word. Hy meen poli-onversadigde groenteoliesmere is nie gesonde plaasvervangers nie en dat hulle nie goed onder verhitting reageer nie. Hulle verander almal in transvette.
Volgens hom is botter en ander versadigde vette baie gesonder vir die liggaam as poli-onversadigde groenteolies, veral as dit teen hoë temperature gebraai word. Om olies aan hoë hitte bloot te stel, kan die chemiese struktuur van die olie verander en veroorsaak dat die olie onaangenaam smaak en vol transvetsure word.
Dit is nie die geval met versadigde vette nie. Hy sê versadigde vette is gesonde vette wat deur al die selle van die liggaam benodig word om hul struktuur te behou. Daarom beskou hy botter as ’n veel beter keuse as groente-olies.
’n Artikel op die webtuiste www.dailymail. co.uk besing ook die deugde van botter terwyl margarien glo “chemiese gemors” is. Botter smaak nie net beter nie, dis ’n natuurlike produk wat al eeue deur die mensdom geëet word. Hoekom dit gaan verruil vir margarien wat ’n hoogs sintetiese en onaangename konkoksie met bymiddels en goedkoop, laegraadse olie is, word gevra.
Margarien sal ook nie geel wees as dit nie gekleur word nie. Maar, sê die dieetkundige dr Ingrid van Heerden, die geel kleurstof in margarien is gewoonlik skadelose plantaardige kleursel soos betakaroteen. Anika Barnard, ’n geregistreerde dieetkundige by die Hart- en Beroertestigting sê oor hierdie studies dat dit eensydig is om een of twee studies uit te lig en nie die volle omvang van navorsing in ag te neem nie.
“Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se aanbevelings, wat internasionale data bevat, is die belangrikste bron. Die WGO beveel aan dat versadigde vetsure met poli-onversadigde en mono-onversadige vetsure vervang word. “Hul aanbeveling is ook dat omega-3 en omega-6 belangrik is,” sê sy. Anika waarsku ook dat daar sorg aan die dag gelê moet word wanneer ’n mens na verskillende menings oor botter versus margarien luister.
Sy meen Piet die apteker, se mening is eensydig en dat sy aanmaning om liewer botter te eet onverantwoordelik is. “Dit is ’n alombekende feit dat die inname van versadigde vette, wat hoofsaaklik in produkte soos vleis, suiwel, botter en sekere tropiese olies gevind word, ’n mens se bloedcholesterolvlakke verhoog.
Daar is wêreldwye konsensus, soos ook in die WGO se aanbeveling te sien is, dat die inname van versadigde vette met onversadigde vette vervang moet word om hartvatsiektes te voorkom. “Die Hart- en Beroertestigting speel ’n rol in die stryd teen voorkombare hartvatsiektes wat hartaanvalle en beroerte insluit. Hulle poog om die publiek van geloofwaardige en betroubare voedingsinligting te voorsien, wat op die jongste wetenskaplike navorsing gegrond is.”
Sy sê as deel van ’n breër voedingonderwysinisiatief, bied die Hart- en Beroertestigting ook die Heart Mark-program aan. “Dit help verbruikers om koskeuses te maak wat gesonder vir hul hart is. Die Heart Mark-produkte word aan streng kriteria onderwerp. Hierdie kriteria volg internasionale standaarde en beperkings.
’n Produk soos sagte margarien sal slegs goedgekeur word as die versadigde vette, transvette en natrium (sout) laag genoeg is om as ’n gesonder opsie vir jou hart geklassifiseer te kan word. “Prakties gesproke beteken dit dat jou dieet op meer maniere moet verander as om bloot jou botter met margarien te vervang.
Om jou inname van versadigde vette te verlaag, moet ’n mens afgeroomde melk en jogurt gebruik, sigbare vet van vleis afsny, hoendervel verwyder en rooivleis minstens twee maal per week met vis vervang. Daar word ook aanbeveel dat ’n mens groente-olies en sagte margariensmere in plaas van botter of smeervet/ varkvet gebruik.
Maak seker dat jy genoeg gesonde vette inkry deur rou ongesoute neute en sade in jou daaglikse dieet in te sluit. Avokadopeer en grondboontjiebotter is ook gesonde opsies om te gebruik as smeer vir brood,” sê sy. Dieetkundige Ina van der Merwe verduidelik dat botter ryk aan versadigde vetsure is.
’n Mens kan botter tuis maak en geen onnatuurlike chemiese prosesse is nodig nie. “Margarien daarenteen, word van plantolies gemaak wat ryk aan poli-onversadigde vetsure is. Die onversadigde vetsure word dan kunsmatig versadig gemaak (hidrogenasie). Margarien bevat dus versadigde en onversadigde vetsure. Margarien kan ook transvette bevat. Sagte margarien bevat meer onversadigde vetsure.
“Plantolie wat ryk is aan poli-onversadigde vetsure kan ook by botter gevoeg word om dit sagter te maak. ’n Hoë inname van versadigde vetsure word aan baie siektetoestande gekoppel wat saam met die verhoogde inname van versadigde vetsure toeneem.” Sy glo dat dit ’n slegte gewoonte is om botter of margarien te gebruik.
“Kos moenie daarin gaargemaak word nie en ons moet dit ook nie by kos voeg nie. Brood wat outomaties met botter of margarien gesmeer word, is ook ’n onnodige aangeleerde gewoonte.” Soos Anika beveel sy ook aan dat mense eerder daarop moet konsentreer om gesonde natuurlike vette soos avokado, olywe en rou neute in die regte hoeveelhede te eet. “Botter of margarien behoort net by wyse van uitsondering in baie klein hoeveelhede gebruik te word. Dit maak nie ’n groot verskil watter een jy kies nie,” sê sy.
Dr Ingrid van Heerden stem saam dat al die inligting rondom botter en margarien besonder verwarrend is. Sy stem ook saam met Anika dat een studie wat op ’n handjievol mense uitgevoer is, nie sal deug nie. Slegs navorsing wat op groot skaal plaasvind en waarby honderde studies en honderde duisende mense betrokke is, is werklik geloofwaardig.
En terwyl voedingsnavorsers die raaisel rakende ons dieetvette uitsorteer om na die beste oplossing teen hartsiektes te kyk, kan ons maar gerus ’n verskeidenheid kossoorte eet, sê sy. “Ons kan maar ’n bietjie botter en ’n bietjie sagte margarien eet, maar in klein hoeveelhede.

Send this to a friend