Die gemaskerde breier: Ek bring hulde

Ek glo jy kan by elke mens wat jou pad kruis iets leer, of die persoon dan by jou …

Skool was nie te sleg nie, maar dit was ook nie die opwindendste tyd in my lewe nie. Daarom was dit loutere vreugde toe ons daardie laaste eksamenvraestel kon ingee en ek die laaste keer my skoolklere kon afstroop. Dit was wel hartseer om ‘n paar goeie vriende te groet. Een daarvan my kamermaat in die koshuis, Patrys.

Ons het twee vriende gehad wat teen al die skoolreëls in soms by die seunskoshuis weggeglip het en voor saans se studietyd ons by die tennisbaan tussen die twee koshuise ontmoet het. Dan het ons gekuier en proviand van die huis af gedeel. Een van hierdie maats was Neels Grobbelaar. Die ander een se naam kan ek nie eens onthou nie.

Na skool het ek maar een keer my vriendin weer gesien en Neels het oor die jare in die vergetelheid verdwyn. Toe, sowat ‘n jaar gelede, hoor ek by familielede dat iemand hulle op Facebook gekontak het en na my soek. Dit was Neels wat mense met my relatief skaars nooiensvan gekontak het.

Byna 50 jaar nadat ons mekaar laas gesien het, ontmoet ons twee gryskoppe vir koffie. Hy vertel dat hy ‘n paar jaar tevore sy vrou verloor het. Soos “oumense” doen, vra ons na mekaar se gesondheid uit. Hy vertel dat hy ‘n terminale longsiekte “met ‘n onuitspreeklike naam” het. Ek vertel hom dat ek onder meer kanker en ‘n paar ander struikelblokke in my lewe oorwin het.

Daarna het ons nog so drie keer saam koffie gedrink en geëet. Verder het ons so nou en dan met sosiale media gesels. Ek het gou agtergekom dat hy met aandagtigheid leef. Weens sy siekte het hy elke kans aangegryp. Gereeld het die foto’s op Facebook verskyn: By die see, op safari êrens in ons land, op ‘n toer in Namibië en foto’s uit vreemde lande. Hy het ‘n toergidskursus gedoen en mense landwyd rondgevat.

Hy het ‘n paar “kinders” aangeneem wat hy deur skool en universiteit gehelp het. Soms laat weet hy “hierdie pensioenaris is so bevoorreg want ek sit op my stoepie in die son en lees”. Hy stuur foto’s van sy tuin waarop hy so trots is en selfs soms brei- en hekelpatrone wat hy op Pinterest raakgesien het (hy het geweet dat ek gedurig aan die brei en hekel is).

Vra ek hoe dit gaan, was hy altyd reg met ‘n pittige antwoord: “Ek moet nou al met my groot kar ry om my pille by die apteek te gaan haal.” Of: “Ek ry nog baie rond, maar meestal dokter toe.” Die laaste boodskap: “Ek wou die naweek gaan kamp het, maar het weer longontsteking.”

Toe een oggend kort daarna die boodskap op sy Facebook-blad: Geagte familie en vriende van Cornelius Grobbelaar. Dit is met groot hartseer dat ons julle in kennis stel dat Cornelius vanoggend hemel toe is …
Dankie, Corn, vir wat ek in hierdie kort tydjie by jou geleer het: om voluit te lewe; om selfs in slegte tye positief te bly; om na ander uit te reik en te help en tot die einde my humorsin te behou. Ek bêre daai patrone en sal aan jou dink as ek dit brei of hekel.

Ouma se blokkie

Gebruik kleure en dikte breidraad van jou keuse
Met A maak 5 ks en gs in 1ste st om ring te vorm.
1ste rdte: 3 ks, 2 lb in ring, (3 ks, 3 lb) 2 maal in ring en eindig met 3 ks, gs in 3de ks aan begin.
2de rdte: gs tot in 3 ks-sp, (3 ks, 2 lb, 3 ks, 3 lb) in ks-sp 1 ks, *(3 lb, 3 ks, 3 lb) in vlg 3 ks-sp, 1 ks, herh van * rondom en gs in 3de ks aan begin. Breek draad af.
Heg B in enige 3 ks-sp en gaan soos volg voort:
1ste ry: 3 ks, 2 lb in ks-sp, 1 ks, 3 lb in 1 ks-sp, 1 ks, (3 lb, 3 ks, 3 lb) in vlg 3 ks-sp, 1 ks, 3 lb in vlg 1 ks-sp, 3 lb in vlg 3 ks-sp, draai.
2de ry: 4 ks, 3 lb in 1 ks-sp, 1 ks, 3 lb in vlg 1 ks-sp, (3 lb, 3 ks, 3 lb) in hoek-sp, 1 ks, 3 lb in vlg 1 ks-sp, 1 ks, 3 lb in vlg 1 ks-sp, 1 ks, 1 lb in 1st lb aan begin.
Heg C in 1 ks-sp aan beg en gaan soos volg voort:
1ste ry: 3 ks, 2 lb in ks-sp, 1 ks, 3 lb in 1 ks-sp, 1 ks, 3 lb in vlg 1 ks-sp, 1 ks, (3 lb, 3 ks, 3 lb) in vlg 3 ks-sp, 1 ks, 3 lb in vlg 1 ks-sp, 1 ks, 3 lb in vlg 1 ks-sp, 1 ks, 3 lb in laaste 3 ks-sp, draai.
2de ry: 4 ks, 3 lb in 1 ks-sp, 1 ks, 3 lb in vlg 1 ks-sp, 1 ks, 1 lb in vlg 1 ks-sp, 1 ks, (3 lb, 3 ks, 3 lb) in hoek-sp, 1 ks, 3 lb in vlg 1 ks-sp, 1 ks, 1 lb in vlg 1 ks-sp, 1 ks, 3 lb in vlg 1 ks-sp, 1 ks, 1 lb in 1st lb aan begin.
Gaan so voort met volgende kleure tot so groot soos jy vierkant verkies.
OPSIONEEL
Rond af met wit rondom hele vierkant met (3 lb, 3 ks, 3 lb) in hoeke en 3 lb met 1 ks tussenin oor reguit rande.
Werk vierkante aan mekaar met klein verkantjies aan begin na mekaar toe.

Send this to a friend