Brei ’n baadjie vir ’n kleinding

’n Baie maklike patroon wat vir ’n seun of dogter gebrei kan word

Deur CHRISTA SWANEPOEL Foto ELMARIE KNAPTON

Moeilikheidsgraad: *

Wat het jy nodig?

  • 2 (2, 3, 3) balle ELLE PURE GOLD CHUNKY (100 g) in een kleur of 1(1; 2; 2) balle in Glamour (A) en 1 bal elk in Soft Lilac (B) en Lily (C)
  • 5,5 mm-naalde
  • 3 knope

Grootte

6(12; 18; 24) maande

Spanning

15 ste en 21 rye = 10 cm met 5,5 mmnaalde

Afkortings

don – draad om naald; ms – mossteek (1ste ry: r1, aw1, herh tot einde. 2de ry: regs al die aw-ste en aweregs al die r-steke); RK – regte kant; tes – tesame; vmeer – vermeerder; vmin – verminder; weersk – weerskante

Brei-inligting

Trui word deurgaans in mossteek gebrei. Kies kleure vir seun of dogter soos verkies. Wissel kleure af soos verkies of 8 rye A, B en C vir voorpante en agterpant en 6 rye elk vir moue soos op foto.

Aanwysings

Agterpant

Stel 40 (44, 48, 52) ste op en werk in ms en 8 rye elk kleurstrepe en res van trui in A tot agterpant 15(18; 20; 23) cm lank is. Plaas merkers weersk van laaste ry om moue aan te dui. Gaan voort tot agterpant 27(30; 34; 38) cm lank is van begin af. Heg af.

Linkervoorpant vir meisie of regtervoorkant vir seun

Stel 23 (25, 27, 29) ste op en werk in ms en kleurstrepe soos agterpant tot werk 15(18; 20; 23) cm lank is. Plaas merker aan sykant om mou aan te dui. Gaan voort in ms tot werk 22(25; 29; 33) cm lank is, eindig aan voorkant. Vlg ry: heg 8 ste af dan 1 st in elke alt-ry 5 keer. Gaan voort oor 10(12; 14; 16) ste sonder om te vorm tot 27(30; 34; 38) cm soos agterpant. Heg af. Merk op hierdie pant plek vir knope 2,5(5; 7,5) cm van nek af ondertoe.

Regtervoorkant vir meisie en linkervoorpant vir seun

Stel 23 (25, 27, 29) ste op en werk soos eerste helfte, maar maak knoopsgate regoor merkers vir knope soos volg: Meisie: r1, r2tes, don, ms tot einde. Seun: ms tot laaste 3 ste, don, r2tes, r1. Voltooi verder soos eerste voorpant, maar spieëlbeeld daarvan vir halsvorming.

Moue

Stel 24(24; 28; 28) ste op en werk in ms en kleurstrepe van 6 rye elk, gaan voort in ms met A en vmeer 1 st aan weersk van elke 8(6; 8; 8)e ry 6(8; 8; 10) keer. 36(40; 44; 48) ste. Gaan voort sonder om te vorm tot mou 15(18; 20; 25) cm lank is. Heg af.

Kappie

Met C stel 44 ste op. 1ste ry (VK): r22, tel lus voor vlg st op en r hierdie lus, r22. Merk middelste st met stukkie breidraad. Gaan deurgaans voort in rs en vmeer 1 st aan weerk van middelste st in elke RK-ry 8(10; 10 ;10) keer. Gaan voort sonder om te vorm tot kappie 19(20; 21; 23) cm lank is (brei laaste stukkie in B indien verkies). Heg af.

Om te voltooi

Met regte kante opmekaar, werk skouernate toe. Vou moue lengtegewys in die helfte, plaas vou op skouernaat en werk in posisie tot by merkers. Werk sy- en mounate toe. Vou kappie met regte kante op mekaar en werk naat bo-op toe. Met regte kante op mekaar, werk kappie van sowat 2,5 cm van voorste rand af rondom vas tot weer 2,5 cm voor ander voorste rand. Werk knope aan.

Send this to a friend