Sit jou beste voetjie voor

Tye verander, maar nie die belangrikheid van goeie maniere nie. Lees meer in ons 16 Mei-uitgawe hieroor

ANSJA FERREIRA

Volgens Courtenay Carey, medestigter en direkteur van The School of Etiquette in Sandton, behels etiket nie meer net watter mes en vurk jy moet gebruik nie, maar ook die fyn kuns om met mense oor die weg te kom. “Etiket leer jou hoe om gemaklik en vol selfvertroue in enige sosiale situasie te voel,” sê sy.

Courtenay sê 45% van volwassenes sukkel met sosiale angs en 75% sukkel daarmee wanneer hulle ‘n partytjie bywoon waar daar vreemdelinge teenwoordig is.

As jy gemaklik en vol selfvertroue is, het jy ook die vermoë om ander mense op hul gemak te stel, sê Courtenay. As jy hierdie vaardigheid aanleer, sal dit baie aspekte van jou sosiale en korporatiewe lewe verbeter. As jy iemand kan help om gemaklik, goed of gelukkig te laat voel, sal hulle van jou hou, jou ondersteun, jou help en sal jy die “kontrak” kry wanneer dit ter sprake is. Etiket is om te leer hoe om ander mense te behandel, maar om dit te doen, leer jy ook om jouself te bemagtig, sê Courtenay.

Volgens Courtenay is tafeletiket op ‘n logiese proses gegrond en daarom sal dit nie sommer verander nie. Sy stel voor dat jy ‘n geskenk of ‘n bottel wyn vir die gasvrou neem as sy jou vir aandete genooi het.

Sy beveel ook aan dat jy nooit die eerste persoon by ‘n geselligheid moet wees nie en ook nie die laaste een wat vertrek nie en beslis nie albei nie. Die gasvrou is dalk nog besig met die laaste voorbereidings en wanneer jy te vroeg daar aankom, plaas jy nog meer druk op haar omdat sy jou nou moet onthaal.

Wanneer die gasvrou of gasheer teen die einde van die aand koffie aanbied, is dit ‘n “stille” teken dat dit tyd is om te vertrek.

Lynne Landman, ‘n kommunikasiekundige gee ook ‘n paar algemene sosiale media-etiket- en sakewenke:

• Positiewe stories oor werkgewers, kollegas, kliënte en projekte is aanvaarbaar wanneer jy van die sosiale media gebruik maak om kommentaar te lewer. SoRg net dat jy nie iets privaats deel nie. Die deel van iets positiefs skep ‘n goeie gevoel tussen jou en jou onderneming.

• Prys gerus jou werkgewer op sosiale media. Dit dra die boodskap oor dat jy trots is om vir jou werkgewer te werk.

• Maak seker jou spelling en taalgebruik is reg wanneer jy iets wil pos. Dit skep ‘n slegte indruk wanneer SMS-taal of verkeerde spelling op sosiale media gebruik word.

• Moet nooit vir ‘n kliënt beloftes maak wat jy nie kan nakom nie.

• As jy vir iemand gesê het jy sal binne ‘n uur ‘n kwotasie verskaf of hom oor haar terugskakel, doen dit. Daar is niks so irriterend vir ‘n kliënt as om agter jou aan te bel nie.

Kontak Courtenay by [email protected] of besoek http://www.etischool.co.za
Kontak Lynne by [email protected] of www.zpr.co.za

Send this to a friend