Hannes van Wyk

Tien vrae aan akteur, aanbieder en nou ook outeur, Hannes van Wyk

hannes_van_wyk

 Jy was vir onder meer vir ’n dekade Krynauw in Egoli: Plek van Goud. Mis jy sepies en die teater as jy nie daarin speel nie?

Ek het `n wonderlike tien jaar by Egoli gehad en sal enige tyd weer in ’n sepie speel; dit is vir my heerlik. Ek probeer om minstens een maal ’n jaar op die verhoog wees met ’n lekker toneelstuk, maar ek geniet kortflieks en aanbieding net so baie. Ek was al by ’n hele paar kortflieks betrokke: Die geheim van Nantes wat die beste kortfliek gewen het by die Silwerskermfees en ook Die Bach motief. Dit is vir my heerlik om met die jonger generasie te werk. Ek sal baie graag meer in flieks wil speel. Ek het verlede jaar in Verskietende Ster van Darryl Roodt gespeel en dit was vir my wonderlik.

Wat is jou slegste eienskap?

Sjoe, daar is baie. Ek kan nogal gou moerig word, maar ek word net so gou weer goed. Ek het nogal ’n klein hartjie en ’n groot deernis vir ouer mense en diere.

Wat is jou beste eienskap?

Ek dink ek is nogal baie lojaal, kom altyd op vir die “underdog” en probeer altyd goed doen (al kry ek dit nie altyd reg nie).

As ek jou vriende sou vra, hoe dink jy sou hulle jou opsom?

Hopelik lojaal en lief vir lag.

Wat maak jou kwaad?

Enigiets wat te doen het met dieremishandeling. Ek sal mense te lyf gaan as hulle diere mishandel, maar ek word ook vies vir mense wat laat kom. Dit dui vir my op nie respek vir ander se tyd nie.

Het jy ’n gewoonte wat jy probeer afleer?

Ja, maar daarvan kan ek jou nie vertel nie, hahaha.

Het jy ’n lewensleuse?

Die ou cliché: “Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê.”

Watter rolprent of boek het die grootste indruk op jou lewe gemaak?

Daar is ook ’n hele paar, maar as ek een kan uitsonder: Die boek “Die jaar toe my ma begin sing het” van Engemi Ferreira, wat ek jare gelede gelees het en toe ’n eenmanstuk daarvan gedoen het, het ’n indruk op my lewe gehad – veral die eerlikheid waarmee dit geskryf is.

Send this to a friend