Skrywer Clinton V du Plessis: Rekenmeesterdigter se woorde

clinton-du-plessis

As jy al Clinton V du Plessis se gedigte gelees het, sal jy dit nie sommer weer vergeet nie, skryf Luisa van der Linde

Foto Siddique Davids, Gallo Images

Vir sy jongste digbundel, Aantekeninge teen die skemeruur, is Clinton V du Plessis vir ’n gesogte ATKV-veertjie benoem en ná nege digbundels is dié digter-rekenmeester volgens ’n resensent besig om sy randfiguurstatus te verloor. Daar is só na hom verwys toe hy onder meer sy eie gedigte uitgegee het en ook geweier het dat André P Brink van sy werk in die Groot verseboek opneem. “Die ATKV-benoeming was ’n groot eer. Die wegskuif van randfiguurstatus moes seker die een of ander tyd gebeur, veral weens die blootstelling op sosiale media. Tog is ek steeds iemand wat nie graag saam in die koor wil sing nie – ek hou van my ruimte.

Buitestanderskap het vir my ’n eie bekoring, maar ek besef dit sal al hoe moeiliker raak om dit te behou,” gesels Clinton. “As een van vyf kinders was ek kleintyd nie juis aan skryf blootgestel nie, wel aan radio. Radio, anders as TV, wat eers hier rondom 1976 sy verskyning gemaak het, het baie met die verbeelding gewerk – intens luister en verbeel. Die bietjie leesstof wat daar was, was daardie Republikeinse Persboekies, oftewel fotoverhale,” sê hy. Clinton, wat sy hoërskoolloopbaan op Somerset-Oos begin het, het van standerd ses af geesdriftig begin lees. “Ek het in die hoërskool toegang tot boeke gehad en met absolute oorgawe begin lees – Keurboslaan, Die Uile, Die Buiter-reeks, Fritz Deelman, al daardie boeke. Daar het ek ook ’n eerste gedig geskryf en ’n ander een – as ek nou terugkyk, uiters sentimentele vers – is ook destyds in Patrys opgeneem.

Ek onthou dat ek later op Cradock in standerd nege en matriek soms vir ’n hele klompie skoolvriende Afrikaanse en Engelse opstelle geskryf het. Ek moes dan my skryfstyl verbloem om nie uitgevang te word nie!” Op Cradock het Clinton hom op meer ernstige literatuur begin toespits, soos Etienne Leroux, André P Brink, Jan Rabie en Breyten Breytenbach, maar ook baie Konsalik-boeke gelees, wat goeie ontspanningslektuur was. “As kind het ek nooit dagboek gehou nie, ek steun deurgaans baie sterk op my geheue. Jy sal sien dat die kwessies van ‘vergeet’ en ‘onthou’ sterk temas in veral die laaste drie bundels is. “My ma, Susan (91), leef nog. My pa is in 1996 oorlede. Goeie, eenvoudige mense wat altyd, ongeag die omstandighede, die beste vir hul kinders wou gee. Ek was die eerste uit die familie wat matriek geslaag het en hulle was baie trots.

Ek onthou toe my pa met sy laaste geld vir my en my jonger broer ’n windbuks gekoop het, ook ’n eerste fiets toe dit maar broekskeur gegaan het. Ek onthou ook hoe hartseer ek was toe Ma noodgedwonge die grammofoon moes verkoop. “Ek is ongetroud en het nie kinders nie, maar daar is wel ’n baie spesiale mens in my lewe, ’n muse en steunpilaar.” Clinton sê sy liefde vir die geskrewe woord was maar altyd daar, maar het danksy goeie Afrikaanse onderwysers begin bloei en blom. “Op laerskool was daar die Groepe-broers met hul keurige idiomatiese Afrikaans en in die hoërskool Maureen Meyers en Abe Smith wat voorgeskrewe werk toeganklik gemaak het.” Clinton se bundel wat hom die naaste aan die hart lê, is Rangeer. “Dit handel oor ’n tyd van stoom en stasies.

Die bundel is aan my oorlede pa, ’n spoorwegwerker, maar ’n man met ’n wye belangstellingsveld, opgedra. Hy het elke Sondag sy koerant gelees. Dit was ook my eerste nogal omvangryke bundel ná ’n langerige stilte. Met die bundel het ek gevoel ek gee ’n stem aan my pa, ’n stem wat andersins verlore sou gaan; wat sou verdwyn. Dit is ’n klein woordmonument aan hom.” Clinton beantwoord nog vrae:

Jy is ’n rekenmeester van beroep. Hoe versoen jy die wêreld van woorde met syfers?

Dit vul mekaar goed aan, want ek gebruik afwisselend my linker- en regterbrein.

Digter TT Cloete het in sy resensie oor jou eerste digbundel, Geloofsbelydenis van ’n kluisenaar, gesê: “Dis ’n waardeerlike debuut” en in “eenvoudige en direkte taal” geskryf. Wat dink jy is die rol van ’n resensent?

’n Resensent se vernaamste taak is om aan die leser ’n flits te verskaf om lig te maak in ’n teks. Nie alle resensente sien dit egter as hul vernaamste taak nie, veral in die Afrikaanse resensiewêreld is daar soms ’n geniepsige streep waar kleinlike vetes soms ’n resensie oorskadu.

Jy is bekend as iemand wat nie bang is om sy mening te lug nie. Met verwysing na Nathan Tantraal, Ronelda Kamfer en Jolyn Ph illips, voel jy daar is ’n klemverskuiwing wat bruin digters se plek in die Afrikaanse literêre son betref?

Sommige mense sal mening lug as uitgesprokenheid sien, maar ek dien niemand se gevestigde belange nie. Ja, daar is meer ruimte, meer nuwe stemme, maar jy kry tog nog daardie gevoel van dat daar ’n segment is wat “afgeskeep” word.

Watter onregte van die apartheidsera waarin jy grootgeword het, is vir jou die skreiendste?

Die krenk van jou menswees – die feit dat ek byvoorbeeld op Kookhuis nie die openbare biblioteek kon gebruik nie. Ek wou bitter graag Die groen ghoen van PH Nortje, wat oor die radio voorgelees was, lees. Daardie deurlopende gevoel van ontmensliking – jy is gemeet en te lig bevind, gegrond op jou velkleur en die tekstuur van jou hare.

Die Orde van die Beiteltjie is in 2015 deur Cordis Trust aan jou toegeken vir jou deurlopende ywer in die bevordering van dele van die Afrikaanse woordkuns. Vertel ons meer?

Die borgskap vir Aantekeninge teen die skemeruur verlede jaar het uit die destydse toekenning van die Orde van die Beiteltjie gevloei. Dr Fanie Marais van Cordis Trust het ’n goeie oor en oog vir wat in Afrikaans gebeur. Sy betrokkenheid gaan nie soseer oor watter voordeel hy uit daardie wisselwerking kan kry nie, maar liewer hoe hy die ander party kan help. Ek is dankbaar vir wat ek as gevolg van sy inset kon bereik. Ek het Fanie vanjaar vir die eerste keer op Oudtshoorn ontmoet.

Vertel ons meer oor jou werkswyse?

Dit het ongeveer twee jaar geneem om Aantekeninge teen die skemeruur te voltooi. Baie van die gedigte word in die dag geskryf (tussen die syfers deur). Ek skryf direk op my rekenaar. Saans is egter die beste tyd om te redigeer. Dit is die uitmergelendste deel van skryf. Dit dryf jou teen die mure uit totdat jy later besef, maar dit wat jy geskryf het, kan maar nou so bly – daar mag miskien beter maniere wees om dit te sê, maar basta. Ek skryf af en toe indrukstukke vir Litnet en werk altyd aan twee bundels. Ek is 55, sinies en het besluit om ’n tiende en laaste digbundel die lig te laat sien. Daarna wil ek iets anders skryf.

Baie van jou bundels bevat politieke elemente, waarvan die bekendste seker die gedig “Nuusberig” is oor die joernalis Suna Venter. Wat is jou gevoel oor die politieke situasie in die land tans? Sien jy digkuns as ’n wekroep tot aksie?

Ek het ’n lae dunk van politici – vreet en vergryp is oral die gemene deler. Die digter het nie buitengewone wysheid of direkte toegang tot die oor van magshebbers nie, maar ek dink jy kan probeer om aanhoudend genoeg geraas te maak. Iemand sal uiteindelik hoor. Altans, so hoop ek.

Wat lees jy self graag? Ek sien daar is verwysings na Pablo Neruda, Charles Bukowski en koerantknipsels. Lees jy net digkuns of die politiek van die dag of fiksie of niefiksie? Watter voor- en afkeure het jy as dit by lees kom?

Ek lees (bykans) alles, oor genres heen, Afrikaans, sowel as Engels, fiksie en niefiksie. Ek het seker 10 of 12 van Bukowski se digbundels en is ’n baie groot aanhanger. Jy sal my egter nie maklik met ’n selfhelpboek kry nie.

Watter liefdes het jy nog buiten lees en skryf?

Ek hou daarvan om binnelands te reis, nuwe plekke te verken, nie noodwendig net dié langs die hoofroetes nie. Op so ’n geleentheid reis ek dan graag per bus. Dis altyd ’n beter manier om die land se mense te leer ken en luister dan graag in op stories, menslike kwellinge, en so meer. Menslike kwellinge figureer sterk in Clinton se digkuns soos in sy gedig Smeul, wat uit die bundel Rangeer kom. Lees Smeul op www.vrouekeur.co.za Vir inligting oor bundelverkope, stuur ’n e-pos aan clintonvduplessis @gmail.com of kontak dr Fanie Marais van Cordis Trust by [email protected] co.za

Send this to a friend