Die storie agter die storie – 9 November 2012

Ons boekeredakteur Willie Burger
kyk dié week na intertekstualiteit

Ons boekeredakteur Willie Burger kyk dié week na intertekstualiteit

“Daar is niks nuuts onder die son nie,” waarsku die Prediker in sy eerste hoofstuk. En in die slothoofstuk vermaan hy: “My seun, wees versigtig! Daar kom nie ’n einde aan die skryf van baie boeke nie.” As ’n mens albei hierdie wyshede saamlees, is die implikasie dat al die eindelose boeke niks nuuts bevat nie; dat elke boek eintlik ’n herskrywing van vorige boeke is. 

Die verteller in Laurence Sterne se Tristram Shandy (’n roman in nege dele waarvan die eerste in 1759 verskyn het) vra: “Shall we for ever make new books, as apothecaries make new mixtures, by pouring only out of one vessel into another?” Sy vraag bevat eintlik vir die belese leser reeds die antwoord, want Sterne het hierdie vraag uit Robert Burton se boek uit 1621 Anatomy of Melancholy afgeskryf!

In ’n resensie het die digter Henning Pieterse onlangs geskryf: “Alle digters steel. Dit is ’n gegewe; sommige steel en verwerk net beter as ander.” Die Prediker, die verteller in Tristram Shandy, Robert Burton en Henning Pieterse is almal in ’n sekere sin reg. ’n Heeltemal “nuwe” boek kan nie geskryf word nie. In enige roman of gedig is daar talle ander romans of gedigte op die een of ander manier teenwoordig. Julia Kristeva, ’n Franse teoretikus, het ’n hele teorie hieroor ontwikkel en die naam “intertekstualiteit” daaraan gegee. Hoewel dié woord eintlik aan haar ingewikkelde teorie gekoppel word, het dit wyd inslag gevind, sommer ook in die algemene media.

Intertekstualiteit gaan in die wydste sin van die woord oor sake soos die invloed van een skrywer op ’n ander. Dit sluit ook aanhalings in, en enige ander opvallende of subtiele ooreenkomste met of verwysings na ander tekste.

’n Voorbeeld: Die ou Duitse legende oor ’n baie intelligente man wat ’n ooreenkoms met die duiwel aangaan om sy eie ambisieuse planne te bereik, is vir baie jare mondeling oorgelewer. Dit is in 1587 vir die eerste keer opgeteken as Historia von D Johann Fausten. Later, in 1604, is die Faust-verhaal tot ’n drama verwerk deur Christopher Marlowe as The Tragicall History of the Life and Death of Doctor Faustus. Byna 200 jaar later (1808) het Goethe sy beroemde drama Faust geskryf en Thomas Mann se roman Doktor Faustus verskyn in 1949. In Afrikaans het Anna M Louw in haar roman Vos (2000) ook van die Faust-verhaal gebruik gemaak.

Eben Venter se roman Horrelpoot is vol verwysings na en aanhalings uit Joseph Conrad se novelle Heart of Darkness. Karakters se name stem ooreen, telkens is daar aanhalings uit Conrad se boek en die verhaalgebeure is ook ’n reis na die hart van kolonisering.

In gevalle soos hierdie word ’n bekende voorgangerverhaal gebruik. Die leser herken die verhaal en word geboei deur vrae oor hoe die “bekende” vertelling in hierdie omstandighede aangepas gaan word. Telkens help die leser se kennis van die “bronteks” hom of haar om nuwe moontlikhede in te sien.

Kristeva se teorie behels egter veel meer as aanhalings, invloede, ooreenkomste en verwysings. Vir haar beteken intertekstualiteit dat elke teks nie in isolasie, op sy eie, betekenis kan hê nie, maar dat die betekenis ontstaan juis uit ooreenkomste en verskille met ander tekste.

Wanneer ons lees, soek ons altyd (onbewus) ooreenkomste met ander, vorige boeke wat ons gelees het. Ons verstaan immers nuwe inligting deur ’n proses waarin ons die nuwe kennis met al ons vorige kennis integreer. Soms is daar in ’n teks talle leidrade wat spesifieke ander tekste by lesers wil “oproep” om sodoende betekenis aan die teks te gee.

Dikwels gebeur dit baie subtiel. Hierdie week se rubriek is oorgeneem en kry betekenis teen die agtergrond van die Bybel, Sterne, Goethe, Pieterse, Kristeva, Louw, Venter … 

Send this to a friend