As dieetkundige moet jy ’n passie hê om ander mense te help, skryf Lindi Herbst
Die meeste mense wil graag in een of ander stadium gesonder eet en ’n bietjie gewig verloor. Ander kort weer ’n spesifieke voedingsplan as gevolg van ’n siekte soos diabetes. Dis hier waar ’n dieetkundige se hulp van groot waarde kan wees. Dieetkunde behels egter baie meer as net om pasiënte te help om gewig te verloor of om mense se eetgewoontes aan te pas. Dit behels ook om mense oor gesonde eetgewoontes en voedingsterapie op te voed. Ons gesels met Rachelle Pretorius, ’n geregistreerde dieetkundige, by ’n hospitaal in Evander.
VOOR- EN NADELE Haar werk as dieetkundige is baie bevredigend vir Rachelle. “Dis altyd lekker om te sien hoe pasiënte vordering maak,” sê sy. Dis vir haar ook wonderlik om mense te help. “As dieetkundige weet jy dat jy ’n verskil in mense se lewe kan maak.” Die feit dat dit vir ’n dieetkundige moontlik is om privaat te praktiseer, beskou sy as nog ’n voordeel. Boonop werk sy ’n werksdag van 08:00 tot 16:00. Daar is verskeie rigtings waarin ’n dieetkundige kan spesialiseer. “Dieetkunde bestaan uit drie aspekte, naamlik terapeuties, voedseldiensbestuur (waar jy in die kombuis werk en spyskaarte uitwerk) en gemeenskapsvoeding,” sê Rachelle. Die minder lekker deel van die beroep, voel Rachelle, is dat dieetkundiges oor die algemeen nie die professionele respek kry wat hulle verdien nie, veral van dokters af. “Hulle dink nie ’n dieetkundige se werk is belangrik nie en beskou jou nie as ’n mediese professionele persoon nie,” sê sy. ’n Groot frustrasie vir dieetkundiges is die feit dat daar soveel misleidende inligting oor kos en voeding in die media is. “Mense word verkeerdelik oor veral gewigsverlies ingelig. Onakkurate inligting word versprei en mense weet nie wat om te glo en wat nie,” vertel Rachelle. Daar is nie op die oomblik geleentheid vir groei in dieetkunde nie omdat die beroep relatief nuut in Suid-Afrika is.
OPLEIDING Rachelle het BSc Dieetkunde aan die Noordwes-Universiteit studeer. Dis ’n vierjaargraad, wat by die meeste universiteite aangebied word. Studente moet vir ’n jaar verpligte gemeenskapsdiens doen. “Jy kan vra as jy op ’n spesifieke plek geplaas wil word en as jy gelukkig is, word jou versoek toegestaan,” sê Rachelle.
INKOMSTE Die salaris wissel afhangende van jou posvlak. “In die jaar wat jy verpligte gemeenskapsdiens doen, verdien jy ’n basiese salaris van ongeveer R12 000 per maand,” sê Rachelle. “Daarmee saam kry jy byvoordele, soos ’n pensioenfonds, medies en ’n huistoelaag.” As jy klaar is met jou gemeenskapsdiens, kan jy verwag om enigiets tussen R13 000 en R15 000 per maand te verdien. As jy besluit om jou eie praktyk te begin, hang jou salaris af van hoeveel kliënte jy het en hoe besig jy is.
RAAD n Gaan sien ’n geregistreerde dieetkundige om te sien wat dit als behels. n Jy moet bereid wees hard te werk en ’n passie hê om ander te help. n Jy moet in ’n hospitaalopset met siek mense kan werk, waar jy vir pasiënte spesiale eetplanne uitwerk. n Daar is heelwat uitdagings, soos om met babas in neonataal te werk. n Jy moet goed in ’n span kan werk. n Die werk is soms emosioneel veeleisend, veral in ’n hospitaal.
KONTAKTE Die Vereniging vir Dieetkunde in Suid-Afrika (ADSA) – www.adsa.org of 011 789-6621; Noordwes-Universiteit (www.puk.ac.za); Universiteit van Stellenbosch (www.sun.ac.za); Universiteit van die Wes-Kaap (www.uwc. ac.za); Universiteit van Pretoria (web.up.ac. za); Universiteit van KwaZulu-Natal (www. ukzn.ac.za); Universiteit van die Vrystaat (www.ufs.ac.za); Universiteit van Kaapstad (www.uct.ac.za) Vk