KIES ‘N BEROEP: Veearts

loopbane

Is jy lief vir diere? Sal jy die een wees wat ‘n afvlerkvoëltjie versorg? Wil jy graag help as jy ‘n beseerde of siek dier sien? As jy “ja” op hierdie vrae antwoord, is veeartsenykunde dalk die beroep vir jou.

Lindi Herbst

‘n Veearts se “pasiënte” is in die algemeen katte en honde, maar veeartse sien ook byvoorbeeld om na voëls, reptiele en plaasdiere. Daarbenewens gee ’n veearts aan eienaars raad oor hoe om na hul troeteldiere om te sien ten opsigte van gesondheid, inentings, higiëne en kos.

Ongelukkig is dit ook ‘n veearts se taak om diere wat te oud of te siek is uit te sit.

Daniel Groenewald werk as ‘n veearts in Port-Elizabeth. “Ek het met baie troeteldiere grootgeword,” vertel hy. “Ek het ook beseerde diere huis toe gebring om te versorg. Dit was nog altyd my begeerte om ‘n beroep daarvan te maak.”

Opleiding

‘n Paar instellings in Suid-Afrika bied opleiding vir voornemende veeartse aan. As jy ‘n BA-graad in veeartsenykunde by die Universiteit van Pretoria oorweeg, is dit belangrik dat jy met wiskunde en natuur- en-skeikunde in hoër graad gematrikuleer het.

Biologie is opsioneel, maar dit word sterk aanbeveel. Die keuringsproses is baie streng en dit sal jou vyf en ‘n half jaar neem om die graad te voltooi.

‘n Ander opsie is ‘n BVM.Ch-graadkursus van ses jaar in veeartsenykunde by die Mediese Universiteit van Suid-Afrika (Medunsa).

Daniel het by die Universiteit van Pretoria studeer en sy prakties by Onderstepoort voltooi. “Die hoogtepunt van die graad was die prakties – dis een ding om die teorie te leer, maar om dit prakties toe te pas, is iets heeltemal anders,” meen hy.

“Die prakties laat studente ook toe om seker te maak dat hulle die regte beroep gekies het.”

Inkomste

‘n Veearts se salaris hang af van die tipe werk wat hy doen. Daniel het sy eie praktyk. “In só ‘n geval hang jou salaris af van die hoeveelheid pasiënte wat jy sien en wat ‘n besoek behels,” verduidelik Daniel.

“Dus is dit belangrik dat jy ’n goeie diens lewer om te sorg dat die eienaars weer hul troeteldiere na jou toe sal bring. Dan kan jy seker wees van ‘n baie suksesvolle onderneming.”

As jy nie jou eie praktyk wil open nie en eerder as ‘n veearts by ‘n instelling, soos ‘n dieretuin, wil werk, sal jou salaris wissel van tussen R20 000 na R30 000 per maand.

Voordele

As jy op veeartsenykunde as beroep besluit, is daar verskeie moontlikhede. Jy kan jou eie praktyk open of jy kan besluit om eerder op navorsing te fokus.

Andersins kan jy ook as ‘n veearts by ‘n dieretuin of akwarium werk. Dit laat jou ook toe om oorsee te gaan werk as jy sou wou.

“’n Hele paar veeartse wat ek ken het werksgeleenthede in lande soos Amerika en Nieu-Seeland gekry en geniet dit om daar te werk,” vertel Daniel. “Boonop verdien hulle meer geld as in Suid-Afrika.”

Wat vir Daniel baie lekker van die werk van ‘n veearts is, is dat hy sy passie vir diere daagliks kan uitleef.

“Daar’s nie een dag wat vir my soos werk voel nie. Ek geniet die interaksie met die diere en boonop is dit ‘n wonderlike gevoel om te weet dat jy gehelp het om ‘n dier se pyn te verlig of om ‘n bydrae tot sy gesondheid te maak, in die gevalle van inentings.”

As jy dié beroep betree, kan jy verseker wees dat daar nie een dag sal verby gaan wat jy verveeld is nie.

“Daar is baie mense wat hul troeteldiere vir roetine-inentings bring, maar daar is ook altyd gevalle waar diere ander soort behandeling verg,” meen hy. “Elke dier het sy eie persoonlikheid en dit is lekker om op ‘n daaglikse basis daarmee te doen te kry.”

Nadele

Soos met enige mediese beroep, is daar ook dikwels erge noodgevalle. “Dit maak nie saak hoeveel keer ek met so ‘n geval te doen kry nie, dit bly vir my erg,” sê Daniel.

“Dit is ook nooit lekker om ‘n dier uit te sit nie – ek sou sê dis vir my die ergste deel van die werk. Ek het soveel simpatie met die eienaars wat hierdie moeilike besluit moet neem, maar dis belangrik dat jy jouself daarvan distansieer.”

Hy kry ook selde kans deur die dag om ‘n oomblik te rus. “Die spreekkamer is amper heeltyd vol en ek sien tot 20 pasiënte per dag,” vertel hy.

“Om seker te maak ek sien almal voordat ons toemaak, werk ek soms ure aanmekaar, maar ‘n mens raak aan die lang werksure gewoond.”

Veeartse kry ook dikwels met moeilike “pasiënte” te doen – ‘n dier wat in pyn is, is immers nie in die beste bui nie!

“Ek het al dikwels met aggressiewe honde en katte te doen gekry,” meen Daniel. “Sommige van hulle wil jou net byt of krap, want hulle hou niks daarvan om veearts toe te kom nie, maar dan moet jy net al jou moed bymekaar skraap, kalm bly en doen wat jy moet. Ek was al dikwels gebyt of gekrap, maar ‘n mens hanteer dit maar soos wat dit gebeur.”

Raad

  • ‘n Veearts kry dikwels te doen met erg beseerde diere, soos dié wat raak gery is. Dis dan belangrik dat jy kophou en op jou werk fokus.
  • Om diere te sien wat ly en selfs om hulle uit te sit, is alles behalwe maklik. Dan moet jy jou emosies onder beheer kan hou.
  • Jy kry net baie diere te doen. As jy ‘n fobie vir byvoorbeeld reptiele het, moet jy dit eerder nie oorweeg om ‘n veearts te word nie, want jy gaan beslis nie net oulike katjies behandel nie.
  • ‘n Veearts moet begrip kan hê en geduldig wees.
  • Maak seker dat jy nie allergies vir enige diere is nie!

Kontakte

 

Send this to a friend