Kerrievispastei

Kerrievispastei is ideaal vir koue wintersaande

BESTANDDELE

6 porsies

VIS
375 ml (1½ k) groenteaftreksel
125 ml (½ k) witwyn
750 g (1 groot pak) stokvissteaks

KERRIEMENGSEL
bietjie olie
2 uie, fyngekap
2,5 ml (½ t) vars knoffel, gekap
5 ml (1 t) droë gemengde kruie
7,5 ml (1½ t) matige kerriepoeier
2,5 ml (½ t) borrie

WITSOUS
60 ml (4 e) botter
90 ml (6 e) koekmeel
375 ml (1½ k) afgemete aftreksel (van vis)
125 ml (½ k) volroommelk
250 ml (1 k) room
400 g (1 rol) skilferkorsdeeg
bietjie melk vir bo-oor

METODE
• Stel oond op 200 °C.

1 VIS Verhit aftreksel en wyn tot kookpunt.
2 Plaas vis in kokende aftreksel. Laat prut vir 10 minute. Skep vis met gaatjieslepel uit en skep in ronde oondbak met 22 cm deursnee wat met kossproei gespuit is.
3 Giet aftreksel deur fyn sif. Jy benodig 375 ml (1½ k) aftreksel. Hou eenkant.

4 KERRIEMENGSEL 
Verhit olie en soteer uie, knoffel en kruie saam tot uie sag is. Voeg kerriepoeier en borrie by. Roerbraai vir een minuut. Verwyder van hitte.

5 WITSOUS Smelt botter in kastol. Roer koekmeel by. Meng goed.
6 Voeg afgemete aftreksel en melk by terwyl jy gedurig roer. Kook tot dik.
7 Roer room by. Laat nog een minuut kook.
8 Meng kerriemengsel by witsous en skep oor vis.
9 Verf bokante van oondbak met water en plaas skilferkorsdeeg bo-oor.
10 Verf bietjie melk oor skilferkorsdeeg en bak vir 30 minute of tot ligbruin bo-op.

Send this to a friend