So baie stories, so min tyd

Sy twyfel elke dag oor haar vermoëns, erken die bekroonde skrywer Marita van der Vyver, maar verklaar onomwonde dat dit veel moeiliker is om ’n gelukkige, gebalanseerde kind groot te maak as om ’n boek te skryf

Deur MARE TTA BELLINGAN Foto ROBERT HAMBLIN

Sy’s die skrywer van trefferboeke soos Griet skryf ’n sprokie, Wegkomkans, Dis koue kos, skat en Hanna Hoekom en nou gaan Vrouekeur-lesers ook elke tweede week van die maand ’n rubriek uit haar pen lees. Dié rubriek “Letterlik” skop hierdie week af en Marita is mateloos opgewonde daaroor: “Ek gaan oor lees en die wonderwêreld van boeke skryf. Enige regte egte boekmaniak het mos ’n soort sendelingsdrif om ander mense ook tot lees te ‘bekeer’, so hierdie nuwe rubriek laat my voel soos ’n kind wat in ’n lekkergoedwinkel toegesluit word. Ek kan my geluk nie glo nie en ek weet nie wat om eerste te kies nie.” Sy beantwoord ’n paar vrae:

Twyfel jy ooit in jou vermoëns as skrywer en hoe kom jy dit te bowe?
Ek twyfel elke enkele dag. Ek oorkom dit deur eenvoudig aan te hou skryf, want selftwyfel is soos ’n perd wat jou aanmekaar afgooi. Enige ruiter weet tog jy moet dadelik weer op die perd klim en verder ry, anders gaan jy te bang word om dit ooit weer te doen.

Het jy ’n spesifieke skryfroetine?
Ek is nie van nature verskriklik gedissiplineerd óf geroetineerd nie, maar trou en kinders kry, het my in dissipline en roetine ingeboender. Ek moes eenvoudig leer skryf terwyl die kinders op skool en my man by die werk is, anders sou ek nooit enige boek kon klaar skryf nie. So ek skryf vyf dae van die week, omtrent agt uur per dag, terwyl man en kinders nie hier is nie. Selfs noudat nog net die jongste van ons vier kuikens in die nes is, is dit die roetine wat ek volg.

Wat geniet jy die meeste omtrent die skryfproses en voel jy soms uitgeskryf?
Om die storie uit te dink – voordat ek dit amptelik begin skryf – wanneer alles nog moontlik is. Ek het nog nooit uitgeskryf gevoel nie, dis eerder ’n geval van te veel stories wat ek nog wil skryf, te min tyd om alles geskryf te kry …

Is daar ’n boek wat jy wens jy geskryf het?
Elke keer as ek ’n boek lees wat my tot in my hart tref – en dit gebeur nogal gereeld – wens ek ek het dit geskryf. Maar ek lees bitter selde ’n boek weer. Daar is net te veel wonderlike boeke wat ek nog wil lees, en te veel nuwes wat aanmekaar verskyn, en te min tyd in ’n enkele lewe om alles te lees.

Jy het ’n bedrywige lewe, hoe kom jy by alles uit … en wat skeep jy af?
Ek het prioriteite – kom ons sê maar net lees is baie hoog op my lysie en afstof/stofsuig baie laag.

Ons vroumense stoei maar lekker met die ouderdom – is dit iets waaraan jy jou steur?
Ek wens ek kon sê ek is bo sulke ydelhede verhewe! Maar ek is maar net so ydel soos enige ander vrou. Dis swáár om te sien hoe dele van jou lyf wat glad en styf was, al hoe papper en vol plooie word. Maar ek weier om my knie te buig voor die diktatuur van ewige jeug wat net al hoe erger word. Ek wil nie aan myself laat sny en skuur en skaaf om 20 jaar jonger te lyk nie. Ek baklei vir ’n samelewing waar ouer vroue na waarde geskat word. En steeds sexy gevind kan word. Met grys hare en plooie en al.

As jy terugkyk op jou lewe, waarop voel jy die trotsste en wat sou jy dalk anders benader het?
My kinders is my grootste trots. Dis baie moeiliker om ’n gelukkige, gebalanseerde kind groot te maak, met wie jy deurgaans ’n goeie verhouding behou, as om ’n boek te skryf. Glo my maar. Daar is baie dinge wat ek anders sou gedoen het, maar ek wroeg nie oor gemorste melk nie. Ek hoop eerder ek het geleer om die melkbottel volgende keer beter vas te hou.

Die huwelik het sy uitdagings, wat is dit wat jou en Alain se huwelik stande hou?
’n Groot dosis geluk – dat ons mekaar enigsins ontmoet het, met ons toetentaal verskillende agtergronde, voel klaar soos ’n wonderwerk – en ’n gedeelde humorsin en heelwat gedeelde passies soos lees, musiek en fliek. Ons gun mekaar ook oorgenoeg tyd op ons eie. Dis juis die ruimtes in ons saamwees wat ons saamwees verryk.

Wat is vir jou die lekkerste en ook die uitdagendste van mawees?
Die lekkerste was van altyd af om boeke en tale en woorde saam met hulle te ontdek. Nou nog, met my 17-jarige Mia wat al hoe wyer begin lees, gee dit my ’n onbeskryflike bevrediging as sy mal is oor ’n boek waaroor ek ook op haar ouderdom mal was. Die uitdagendste is om die kommunikasiekanale dwarsdeur die tienerjare oop te hou. Ek dink g’n ma het die reg om raad uit te deel oor hoe om kinders groot te maak voordat sy ’n paar kinders deur hul tienerjare gesleep en gesoebat het nie.

Kinders word groot … Hoe geniet jy hierdie fase en dink jy die leë nes gaa n erg wees?
Dis een van die grootste belonings van ouerskap as jy sien hoe jou kinders verander in die soort grootmense met wie jy self graag vriende sou wou wees. Omdat daar sulke groot ouderdomsgapings tussen my en Alain se vier kinders is, het hulle die huis so in vlae verlaat, sodat ons gewoond kon raak aan ’n nes wat geleidelik leër word. Nou waardeer ek elke dag van Mia se laaste jaar in die huis, want ek weet hoe gou dit verbygaan. Maar ek en Alain sien ook uit na tyd op ons eie ná soveel jare waarin ons altyd deur kinders omring was!

Het jy ooit kon dink dat jy eendag ’n suksesvolle skrywer sou word wie se boeke selfs verfilm word?
Ek het daaroor gedroom toe ek op skool was, maar dit het so vergesog geklink dat ek dit teenoor niemand sou erken nie. Wanneer ek deesdae by skole oor my kinder- en jeugboeke gesels, probeer ek altyd die boodskap oordra dat drome kán waar word.

Is ’n boek min of meer klaar geskryf in jou kop wanneer jy begin?
O nee, alles is nog oop wanneer ek begin, veral die einde. Ek het wel ’n vae eindbestemming in gedagte, maar dit verander gewoonlik langs die pad. Ek skryf dalk hoofsaaklik om die einde van my eie storie te leer ken.

Waaraan werk jy tans?
Ek is pas klaar met ’n nuwe roman, Misverstand, wat in Maart bekendgestel word. Dis die eerste keer dat ek ’n manlike hoofkarakter in ’n volwasse roman het – toevallig in dieselfde jaar as wat ek ook vir die eerste keer ’n manlike hoofkarakter in ’n jeugroman, Al wat ek weet, aangedurf het. Ek vermoed die woedende tiener-kletsrymer Gabriel Lombard in die jeugboek was goeie oefening vir die mismoedige middeljarige skrywer Willem Prins in die “grootmensboek’. Albei hierdie karakters het diep onder my vel ingekruip, amper teen my sin. Ek hoop natuurlik hulle gaan dieselfde impak op my lesers hê.

Wat lees jy op die oomblik en het jy gunstelingskrywers?
Ek lees Karin Brynard se Tuisland, met groot genot, want die karakters praat die heerlikste, “annerlikste” Noord-Kaapse Afrikaans. Ek het dosyne gunstelinge: Margaret Atwood, Alice Munro, Joyce Carol Oates, Hilary Mantel, Toni Morrison, Anne Tyler … ag, die lys gaan aan en aan, en dis maar net die vrouename wat eerste opkom. Ek kan aan net soveel mansname ook dink.

Wanneer voel jy soos die kat se snor?
As een van my kinders my uit die bloute komplimenteer. Niks kom naby dít nie!

Wat is jou ideale vakansie en saa m met wie – en wat geniet jy glad nie?
Ek het die siel van ’n outydse ontdekkingsreisiger, want ek is op my gelukkigste as ek ’n land of streek wat ek glad nie ken nie vir die eerste keer ontdek, verkieslik saam met my lewensmaat. Ek pes moderne kampeerterreine met luukse woonwaens en blêrende musiek en raserige mense en gemeenskaplike badkamers. As ek nou rêrig móét kampeer, verkies ek dit heeltemal rof, in die vrye natuur, weg van ander mense en elektrisiteit en geraas.

Kry jy ooit tyd om jouself te bederf?
O, ek máák tyd om myself te bederf. Soms net deur alleen in ’n mooi koffiekroeg te sit en ’n pragtige patisserie-kunswerkie saam met ’n koppie koffie te bestel en deur ’n glanstydskrif te blaai. Dan sien ek weer kans vir die lewe as ek daar uitstap.

Wat is jou grootste swakhede?
Sjokolade. Mooi onderklere. Sjokolade. Boeke. Sjokolade. Interessante lappe wat ek op reise oral op aarde aanskaf. O ja, en sjokolade, natuurlik.

As jy vandag vir jou 16-jarige self kon raad gee, wat sou dit wees?
Leer om vir jouself te lag. Dit maak alles makliker.

Is daar ’n talent wat jy graag sou wou hê?
Ek sou graag die blues met ’n stem soos Janis Joplin s’n wou sing. Omdat sangeresse my fassineer – die idee dat jy mense met net jou asem en jou stembande kan betower.

Jy kuier gereeld in SA, is daar iets wat altyd in jou tas is wanneer jy huis toe gaan?
Volkoringbeskuit! Jy kry dit glad nie in Frankryk nie.

Send this to a friend