DIE GEHEIM VIR SUKSES

Droom jy nog altyd daarvan om jou eie onderneming te besit? Wel, vandag (15 November) is internasionale entrepreneursdag. Twee vroue gee raad

 

geheim_sukses
DEUR: Zerelda Esterhuizen

Jy wens vir die dag wat jy jou eie baas kan wees, maar hoe? Dit kos geld en wat van jou salaristjek? Tog is daar soveel mense wat dié groot risiko geneem en met vlieënde vaandels geslaag het.

Janine Janse van Rensburg (37) is die stigter en eienaar van Poise Brands, die verspreider van Mii Cosmetics, Juliette Armand, Mio en Mama Mio in Suid-Afrika en sub-Sahara Afrika.

“Daar is ‘n hele paar dinge wat belangrik vir entrepreneurskap is, maar ek glo dat een van die belangrikste is dat jy superpassievol moet wees oor wat jy doen,” sê sy.

“Passie is so aansteeklik en dit maak dat mense saam met jou wil werk. Die ander ding is dat ‘n mens mooi na jou sente moet kyk, maar terselfdertyd altyd die beste beeld van jou onderneming oordra. Hoë standaarde, ‘n goeie produk en ‘n span wat jou passie, visie en werksetiket deel, bind die hele suksespakket mooi saam.”

janine

Janine

Harde werk, deursettingsvermoë, vertroue en geloof, is die hoofbestanddele vir suksesvolle entrepreneurskap, sê Denise Koortzen (29), medestigter en mede-ontwikkelaar van Kgalagadi Lodge in die Kalahari.

“’n Mens slaag nie altyd met jou eerste probeerslag nie, aanvaar dit en begin van voor af as dit moet,” sê Denise.

“Ek glo ook harde werk is noodsaaklik as jy iets in die lewe wil bereik. Ek glo aan goeie verhoudings in die werksplek. ‘n Gelukkige werker is ‘n produktiewe werker. Wees gedissiplineerd, georganiseerd, gemotiveerd en wees by alle aspekte van jou onderneming betrokke.”

denise

Denise

Wenke vir entrepreneurs

Denise sê:

  • Doen intensiewe navorsing voor jy enige onderneming aanpak: Wat wil jy begin? Watter produk of diens gaan jy verskaf? Besluit oor jou primêre mark, ligging van jou onderneming en neem natuurlike elemente in ag.
  • Gee jouself voluit aan die beplanning van die onderneming. As daar nog sulke ondernemings in jou omgewing is, sorg dat joune beter is en druk jou unieke stempel op jou onderneming af. Kompetisie is goed, dit hou ? mens op jou tone. Jy moet selfvertroue hê in dit wat jy doen.
  • Sit ‘n goeie sakeplan uiteen om potensiële beleggers te trek as jy nie al die aanvangskapitaal het nie.
  • Wees op die hoogte van verwikkelinge in jou bedryf, nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal. Lees wyd.
  • Doen waarvoor jy lief is, want ‘n mens moet gelukkig by die werk wees.

Janine sê:

  • Wanneer jou hart vinnig begin klop as jy dink aan ‘n idee is dit gewoonlik ‘n goeie teken dat jy op pad is om iets groots te doen. Moet egter nie onverantwoordelik wees nie – doen jou navorsing en maak seker dat jy die regte produk/diens aan die regte mark teen die regte prys gaan verskaf.
  • Wees altyd konserwatief met jou geld, nie net wanneer jy begin nie. Moenie onnodig spandeer nie en maak seker dat waar jy wel spandeer, daar een of ander vorm van opbrengs is.
  • Betaal jouself reg van die begin af ‘n salaris – werk dit in jou bedryfskapitaal in, want jy moet kan oorleef. Moet egter nie sommer geld uit jou onderneming trek nie. Baie entrepreneurs sien hulself en die onderneming as een entiteit en meng dan werksuitgawes met persoonlike uitgawes en dan ontstaan kontantvloeiprobleme. Wees gedissiplineerd.
  • Wees bereid om hard te werk en wees bereid om te delegeer anders gaan jy uitbrand en niks vir jou onderneming beteken nie.
  • Fokus op jou sterk punte en neem mense in diens wat dit kan doen wat jy nie kan nie.
  • Dit moet pret wees, moenie vergeet hoekom jy jou onderneming begin het nie.
sukses

Send this to a friend