Wynmaker: Pieter Carstens

Pieter Carstens Slanghoek Kelder

Pieter Carstens is die keldermeester van Slanghoek Kelder in die Breedekloofvallei buite Worcester. Hy en sy vrou, Alta, dogter Pia en seun Nicol woon net langs die kelder.

Deur: Maryke Roberts

Foto: verskaf

Hy het Keldertegnologie by Elsenburg Landboukollege naby Stellenbosch studeer. Voor hy in 2002 by Slanghoek aangesluit het, was hy werksaam by Boland Kelder, Ashton Kelder, Koelenhof Kelder, Groot Eiland Kelder en McGregor Kelder.

Kom jy uit ’n wynmaakfamilie?

My oupa aan my ma se kant was ’n wingerdboer en my pa het wel vir ’n kort tydjie terwyl ek baie klein was, ’n drankmaatskappy bestuur, maar dit is die naaste wat ons familie aan die bedryf gekom het. 

Hoekom wynmaker?

Wingerdboerdery het reeds van kleins af ’n baie groot indruk op my gemaak, veral wanneer ons op my oupa se plaas in Goudini gaan kuier het. Later het ek ook verskeie vakansies op die plaas gaan kuier en gehelp snoei, skoffel en ander boerderytake verrig. Dit was egter nie finansieel haalbaar om ‘n plaas te koop nie en daarom het ek besluit dat ek steeds goeie blootstelling aan die wingerd sal kan kry as ek ’n wynmaker word en daarmee saam kan ek dan ook my kreatiewe kant uitleef deur wyn te maak.

Waar kom jou belangstelling in wynmaak vandaan?

Die kuiers op my oupa se plaas het ’n baie groot rol gespeel. Behalwe die fisieke werk waarmee ek daar gehelp het, het die klein glasies wyn wat ons as kinders saam met ete geniet het, ook ’n aantrekking tot hierdie edele produk bewerkstellig. Hoewel daar op daardie stadium nie meer wyn op my oupa se plaas gemaak is nie, was die parskuipe en wyntenke steeds daar en ons as klein kindertjies het graag in die tenke gespeel. Wyntenke het van daardie dae af ’n baie groot indruk op my gemaak.

Hoe het jy by Slanghoek beland?

Ek het vir die pos aansoek gedoen omdat Slanghoek Kelder reeds toe al ’n toonaangewende kelder in die Suid-Afrikaanse wynbedryf was en omdat die Breedekloofvallei so geskik is vir die verbouing van topgehalte druiwe  én omdat dit seker een van die mooiste valleie in Suid-Afrika is. ’n Mens kan nie anders nie as om heeltyd die teenwoordigheid van ons Skepper aan te voel wanneer jy  tussen die majestueuse berge is wat die vallei omring nie.

Watter een toekenning staan vir jou uit? 

Wyn is ’n natuurlike produk waaroor ons eintlik bitter min beheer het. Ons is wel toegerus met kennis, ondervinding en ’n kreatiewe aanvoeling om die wynmaakproses te begelei, maar wanneer dit kom by sekere prosesse soos rypwording in die wingerd en gisting in die kelder, is dit in die Skepper se hande. Ons is baie bewus van die natuur en die Skepper se werk in die wynmaakproses en daarom – ons internasionale en plaaslike toekennings ten spyt – bly ons altyd nederig en dankbaar vir elke een. Dit is daarom baie moeilik vir my om net een toekenning uit te sonder, want die grootste prys is eintlik die druiwe waarmee ons geseën word.
Wat is jou gevoel oor wynkompetisies en neem julle gereeld deel?

Wynkompetisies lewer beslis ’n goeie bydrae tot die bedryf en daarom neem Slanghoek Kelder gereeld deel aan sekere kompetisies. Die geldigheid en etiese beginsels van sommige wynkompetisies kan egter bevraagteken word. Daar is onnodig baie wynkompetisies in die Suid-Afrikaanse wynbedryf en dit dra daartoe by dat die verbruiker verwar word en dat toekennings nie die gewig dra waarop dit aanspraak maak nie.
Hoe voel jy oor die plaas se beeld onder die publiek?

In ’n mark waar verbruikers aan soveel valse reklame blootgestel word, dink ek die verbruiker waardeer die outentieke waardes van Slanghoek Kelder: goeie produkte teen ’n goeie prys, wat wynliefhebbers sonder uitsondering beïndruk. Die beste van alles is dat ons wyne só geprys is dat verbruikers hul kelders sonder skroom kan vul met Slanghoek Kelder se wyne. So ja, ek sal sê om daardie rede is ons geliefd in die mark.

Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?

Om nie wyn vir jou eie smaakvoorkeure te maak nie, maar vir die smaakvoorkeure van die verbruikers.

Wat is volgens jou die grootste verskil tussen om vir ’n produsente-kelder te werk of ’n landgoed of enkelkelder?

Slanghoek Kelder is ’n privaat maatskappy wat nagenoeg 40 000 ton druiwe verwerk – waarvan elke druiwekorrel in die Slanghoek-vallei gegroei het – en wat dan as wyn aan verskeie wyn-handelsmerke in Suid-Afrika gelewer word. Een van die voordele van só ’n groot kelder is dat die groot verskeidenheid ons toelaat om regtig kieskeurig te wees wanneer ons die sap kies wat in ons privaat etiket (die Slanghoek Kelder-handelsmerk) gebotteleer word. Ons het dus eintlik ‘n landgoed-konsep binne ’n baie groter kelder, maar omdat die ekonomiese skaal van hierdie ooreenkoms help om die kostes te dra, kan ons landgoed-gehalte wyne teen bekostigbare pryse op die mark plaas.
Wat is die uitdagings om in 2017 wynmaker in Suid-Afrika te wees?

Die onlangse Nedbank Vinprodag het benadruk dat kelders in die huidige ekonomiese klimaat regtig onder druk is om beide waarde en die volume van hul wynverkope te laat toeneem – wat makliker is om te sê as te doen. Ek dink, en dit is ook onder die vergrootglas by dié konferensie geplaas, dat die meeste kelders se grootste uitdaging volhoubare groei is.

 Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?

Die geweldige hoë koste verbonde aan logistieke kanale en die monopolistiese aankoop-prosedure deur supermarkte, veroorsaak dat wynpryse onrealisties is aangesien almal in die ketting goeie winste maak uit wyn, maar die produsent kry nie ’n regverdige vergoeding vir die inhoud van ’n bottel wyn nie.
Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die a. gooi; b. stoor of berging; c. pasmaats met kos van wyn?

Ek is nie ’n voorstander van voorskriftelike wynverbruik nie, maar ek dink tog dat die stoor en berging van wyn meestal verkeerd gedoen word, aangesien ons klimaat in Suid-Afrika baie wissel. Wyn wil in gematigde omstandighede gestoor word en nie aan groot temperatuurwisselings blootgestel word nie. My voorstel is dus dat mense nie wyn onnodig lank moet stoor nie. Drink dit liewer – want ons maak in elk geval elke jaar nuwe wyn!
Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?

Daar is baie wynverbruikers wat veroordelend is en nie wyn van sekere oesjare, of streke of kelders drink nie.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou gevolg het?

Argitek

Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?

Chenin Blanc is ongetwyfeld ’n gunstelingkultivar omdat dit so veelsydig is.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?

’n Wyndief – dit is die pipet waarmee ’n wynmonster uit ’n vat getrek word!
Waarvan droom jy vir die toekoms?

 Dat Suid-Afrikaanse wyn weer so gesog in die buiteland kan raak soos wat dit was toe Vin de Constance na Napoleon uitgevoer is.

 

Send this to a friend