Sit jou naam bo-aan jou lysie

Die artikel op bl 16, “Selfsug vs selfsorg”, bring my by hierdie week se skrywe uit. In die uitgawe van 6 Januarie het ons elkeen ons motto’s vir 2017 gegee. Myne was kort en kragtig: “Leef lig.”

Dié besluit het ek nie ligtelik of oornag geneem nie. Ek dra doelbewus nie aan onnodige bagasie nie. Ons almal laat soms toe dat ons eie bagasie en ander se drama ons gebukkend laat loop. Ek is oortuig daarvan dat dit wat ’n mens toelaat, gaan aanhou. As jy in enige verhouding uitgebuit, verwaarloos of onsigbaar voel, is dit tyd om te sê: “Hokaai, tot hiertoe en nie verder nie.” Of dit nou in jou verhouding met jou lewensmaat, ouers, kinders, vriende of in ’n werksomgewing is – om as vanselfsprekend aanvaar te word en nie na waarde geag te word nie, is ontoelaatbaar.

As jy toelaat dat ander jou aan jou selfwaarde laat twyfel, is dit tyd om grense te stel. Dis selfsorg – gewis nie selfsug nie. Ons het onlangs op kantoor ’n prettige vraelys op ons splinternuwe webwerf voltooi en een van die vrae was: Dink aan vyf mense wat belangrik in jou lewe is en kies ’n kleur vir elkeen. Die kleure waaruit jy kan kies, is geel, oranje, wit, groen en rooi. Aan die einde van die vraelys meet jy jou antwoorde aan die waarde en betekenis van dié kleure. Die kleur “rooi”, volgens dié speletjie, se betekenis is: Die een wat jy met jou hele hart liefhet. So kies ons almal ons vyf mense en hul dienooreenkomstige kleure. Ek stuur die speletjie ook aan my dogter en ontmoet haar ná werk vir ’n glasie wyn. Sy wil weet wie my vyf mense is en voor ek haar kan antwoord, sê sy: “Jy’t jouself as een van die vyf gekies, nè?” Ja, natuurlik, sê ek. “Ek het dit geweet,” is haar antwoord. “En watter kleur het jy by jou naam gesit?” wil sy verder weet. Rooi, sê ek. Ek weet dit is net ’n speletjie en ’n mens kan geen wetenskaplike waarde daaraan heg nie, maar hoeveel mense sou hul eie naam op die lysie gesit het?

Hoekom voel ons skuldig as ons tyd, geld, energie aan onsself bestee? Hoekom sukkel ons om “nee” te sê? Hoekom laat ons toe dat mense oor ons loop? Ek dink dis omdat ons nie genoeg kere ons eie naam heel bo-aan ons lysies sit nie! Ek het lank gelede in my lewe geleer om baie van myself te hou. Nie omdat ek dink ek foutloos of perfek is nie, maar gewis ook nie omdat ek arrogant of selfsugtig is nie. Die feit van die saak is, ek is die enigste mens van wie ek nooit kan ontsnap nie. Ek moet vandat ek begin asemhaal het totdat ek ophou asemhaal, met myself saamleef. Dis mos baie beter om vir jouself lief te wees as jy tot aan die einde van jou dae met jouself opgeskeep is.

My kinders en my geliefde lag altyd vir my as ek sê: “As ek myself ontmoet het, was ons beste vriende.” In die proses het ek ook geleer dat nie almal oor my gaan voel soos wat ek oor myself voel nie; inteendeel, maar dit werk andersom ook so. Ek kan ook nie van almal hou nie. En dis oukei. As jy van jouself hou (met jou geite en giere) en jou morele kompas jou toelaat om met jouself saam te leef, is dit makliker om van ander (met hul geite en giere) te hou. En as jy na jouself omsien en tyd en energie vir jouself gun, gaan jy tyd en energie hê vir die ander belangrike mense op jou lysie.

Send this to a friend