Sjef: Suzanne Crozier

Suzanne-Crozier-(2)web

Suzanne Crozier is Vrouekeur se kosredakteur, die gewilde sjef van Die GROOT Ontbyt, GROOTfm 90.5 se gewilde ontbytprogram op kykNET

Deur MARYKE ROBERTS

Foto’s verskaf

Suzanne is een van die mede-direkteure en senior lektore by Maritha Steyn se Steyns Cullinary School.

Jy moet elke week nuwe geregte vir Vrouekeur hê en ook vir Die GROOT Ontbyt. Hoe hou jy dit vol?

Soms weet ek self nie, ek glo dat mens gebalanseerd moet leef. Ek oefen gereeld, probeer gesond eet, lees baie – natuurlik meestal oor kos, en doen weekliks pottebakkery. Ek gee vir myself ’n  spertyd wanneer sekere take moet klaarkom.

Waar kom jou nuwe idees vandaan?

Ek kry inspirasie van oral, die natuur, seisoene, my studente, my skoolkolegas en natuurlik die Vrouekeurlesers. Ek weet hoe dit voel om na ’n lang dag tuis te kom en kos op die tafel te moet sit.

Hoe verskil die mark tussen die twee en hoe besluit jy watter mark watter gereg sal geniet?

Vir my is die Vrouekeurmark en Groot Ontbyt-mark baie dieselfde. Marlo Carstens (Vrouekeur se vorige kosredakteur) het my geleer om altyd kos uit my eie koskas te maak, want dit is wat die leser sal doen. Vir Groot Ontbyt probeer ek altyd ’n tegniek aan die kykers leer, bv hoe om mayonnaise te maak.

Is jy nog senuweeagtig voor die kameras?

Ja, maar gelukkig nie meer bang-senuweeagtig nie, dis nou ’n opgewonde-senuweeagtig.

Wat is die mooiste woorde wat jy al om kos gehoor het?

Food is symbolic of love when words are inadequate,” Alan D Wolfelt

Dis ’n nuwe jaar – wat is die beste manier om jou koskas aan te pak, reg te skud of skoon te maak en weer aan te vul?

Pak alles uit. Gaan die vervaldatums na en gooi uit wat oud is of goggas in het. Ek sukkel altyd met my koring. Ek het ’n baie klein kombuis, so ek het plastiekhouers wat goed seël en alles het sy plek. Fokus op basiese bestanddele, ek het byvoorbeeld nie baie gegeurde soute en pakkies kos nie.

Watter basiese bestanddele moet jy in jou koskas hê om vinnig iets aan mekaar te slaan?

Maklik: Altyd pasta, basiliepesto en songedroogde tamaties.

Hoeveel terugvoer kry jy van Vrouekeur-lesers oor jou resepte en stuur hulle graag hul eie resepte in vir jou om te probeer?

Ek kry gereeld versoeke van lesers om sekere resepte te skryf bv. resepte uit Libanon. Ek kry nie baie van my lesers se resepte nie, maar sal dit baie geniet om van hulle op my Facebook-blad te hoor. @ChefSuza

Wat was sover die gewildste resep wat jy al in Vrouekeur gedeel het?

Kersfees 2017 se uitgawe met die Kersfees-seekos. Ek dink baie male vergeet ons dat SA omring is met die see en heerlike, vars seekos wat vars en lig is tydens die hitte van Kersfees kan voorberei.

Watter een bestanddeel kikker vir jou enige maal op?

Room, altyd room!

Waar kom jou belangstelling in kos vandaan en waar het jy jou opleiding ondergaan?

My pa sê altyd ek dit by my ouma Louise geërf. Ek het in ’n foodie-huis groot geword, waar ons altyd saam gekook het en met snaakse bestanddele eksperimenteer het. Ek het my formele opleiding by die Universiteit van Pretoria ontvang: Verbruikerswetenskap: Gasvryheidstudies.

LEES OOK: Sjef: Nadia Smith

Wat was die mees romantiese maal wat jy nog geniet het – vertel my daarvan?

Dit mag nou vreemd klink, maar my mees romantiese maal was nie saam met iemand nie. Ek was  baie lank enkellopend, en so het ek myself in ‘n piepklein restaurantjie in Rome bevind. Daar het ek die lekkerste pizza, pasta en ‘n glas wyn geniet. Ek het weer twee jaar later die restaurant probeer soek, maar kon hom nie kry nie. Hy’s weg, en ek koester daardie maal diep in my hart.

Wat is die een dis wat jou vriende of familie telkemale voor vra? Ongeluk-aartappels. Klein aartappeltjies liggies opgekook, en dan plat gedruk op ’n bakplaat met botter, roosmaryn, tiemie, sout en peper, bak tot bros.

Wat was jou slegste maal ooit, vertel my daarvan?

Definitief toe ek in Korea gewoon het – van 2012 tot 2014. My Koreaanse vriende wou my bederf deur een van hul spesiale disse te eet: lewendige seekat. Ek het een hap gevat en dit was asof ek ’n uitveër met sout eet. Ek kon vir jare daarna glad nie seekos eet nie.

Watter drie bekende mense sal jy nooi vir aandete en hoekom?

Oprah Winfrey – want sy is net ’n ongelooflike mens met so baie wyshede. Anthony Bourdain – hy is die ultimate foodie. Ek dink hy kan jou vir weke besig hou met al sy kosstories. Die Groot Ontbyt-aanbieder, Su-an Muller Marais – sy is slim, snaaks, hou van kos en wyn en kan met enigiemand gesels. Ek weet ook sy sal die partytjie aan die gang kan hou terwyl ek in die kombuis doenig is.

Wat sal op die spyskaart wees?

Ek sal tradisioneel Suid -Afrikaans kook. Vir voorgereg: my pa se bekende groentesop met tuisgemaakte potbrood en botter. Hoofgereg: Karoo-lamtjops met ’n kruiekors, ongeluk-aartappels, groenbone en pampoenkoekies. Vir nagereg sal ek tuisgemaakte amarula-roomys, mini-malvapoedings en appeliefie-salsa bedien.

Wat is jou doodsonde met kos – eet jy skelm grondboontjiebotter uit die bottel of so-iets?

O genade! KFC se zingerwings. Ek sal sommer middernag ry en vir my gaan koop…ssjjj, moet vir niemand sê nie.

Wat is jou gunstelingwyn en met watter dis drink jy dit graag?

Hermanuspietersfontein se Swartskaap. Ek sal dit saam met alles drink behalwe seekos. In daardie geval, sal ek eers my wyn drink, dan my seekos eet.

Wat was ’n sjefshoogtepunt vir jou?

Toe ek in 2017 as die Galliova Opkomende Kosskrywer van die Jaar benoem was. Dit was asof jare se harde werk en opoffering op een oomblik neergekom het.

Watter kombuisgereedskap het jou lewe verander?

Die nederige deegskaper, sonder hom kan ek niks doen nie.

Waar is jou gunstelingkosbestemming?

Italië, Turkye en Thailand

Het jy ’n gunstelingkookboek?

Julia Child. The Art of French cooking

Wie het jou al jou beste raad gegee?

My pa: “My kind, leef met ’n lied in jou hart.”

 

Suzanne se randrekker-hoendergebak vir die plat nuwejaarsbeursies:

4 Porsies

Bestanddele

1 ui, gekap

5 ml (1 t) fyn knoffel

250 g (1 pakkie) sampioene, gekap

4 hoenderborsies

125 ml (½ k) koekmeel

10 ml (2 t) paprika

sout en peper

800 g (1 groot bottel) tamatiepastasous

 

Metode

Stel oond op 180 ˚C. Verhit bietjie olie en braai ui en knoffel tot sag. Gooi sampioene by en braai verder tot sag. Skep uit in oondbak.

Kap hoenderborsies effe platter; meng meel, paprika, sout en peper saam.

Rol hoender in meelmengsel en braai tot goudbruin. Gooi pastasous oor sampioene en sit hoender bo-op.

Bak vir 20 minute of tot borrelend. Bedien met pastarys en gestoomde groente.

Randrekker-hoender-(1)web

 

 

Send this to a friend