Wynmaker: Suzanne Coetzee

Suzanne Coetzee is die wynmaker van Nuiba Wyne

Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf

Suzanne koop druiwe uit die Piekenierskloof en maak die wyne in die Clos Malverne-kelder, waar sy voorheen vyf jaar lank wyn gemaak het.Nuiba is ’n San-woord wat “liefde” beteken en dis die naam van die Namibiese plaas buite Gobabis waar haar pa grootgeword het en wat hul familie vir jare besit het. Haar ouers het die plaas in 2010 verkoop, en dit was die natuurlike naam vir haar wyne.  Sodoende kon die plaas vir altyd deel wees van haar wese.

Suzanne is getroud met Charl Coetzee, keldermeester by Babylonstoren. Hulle het vier pragtige dogtertjies waarvan die oudste ses jaar en die jongste vyf maande oud is. Die Coetzees woon tans nie op ’n plaas nie, maar die droom is daar.

Het jy enige byname in die wynbedryf of op die plaas?
Mense is geneig om my Suzie te noem, maar ek is nie so mal daaroor nie.

Hoe het jou belangstelling in wyn begin. Was dit moeilik as vrou?
Ek het met wyn grootgeword – dit het altyd ’n belangrike rol in ons huis gespeel. Ek kan nie een ete onthou waar daar nie wyn aan tafel was nie. Ek het ook op ’n plaas (nie ´n wynplaas nie) grootgeword, so die landbou-omgewing was ’n natuurlike oorweging vir my. Ja, dit was moeilik as vrou. Ek is klein en petite en ek het altyd gevoel mense gee my nie ’n regverdige kans as vroue-wynmaker nie, want ek lyk nie noodwendig na die rol nie.

Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
My eerste werk was as parshulp/assistent by Porcupine Ridge-kelder en dit het enigiets in die kelder behels .. pype sleep, algemene parsaktiwiteite, versnitte opmaak en vele meer.

Hoe het jy in jou huidige pos beland en hoe lank is jy al daar?
Ek maak tans my eie wyn, en my eerste oes was in 2016. Benewens my eie wyn, werk ek ook op ’n konsultasiebasis vir ’n paar ander kelders.  Ek het in 2015 daarmee begin, nadat ek my permanente wynmakerswerk by Clos Malverne opgegee het.

As jy geweet het wat die stand van die wynbedryf met droogtes en inflasie is, sou jy dalk ’n ander beroep gekies het?
Heel moontlik. Ek is ’n kreatiewe persoon met ondernemingsgees, wat baie bevrediging vind in nuwe uitdagings en projekte in die besigheidswêreld.

Kry jy teenstand as vrouewynmaker of is dinge nou meer geslagsgelyk in die wynbedryf?
Nee, geen teenstand nou meer nie!  Ek dink daar is defintief baie vordering gemaak in terme van geslagsgelykheid in die wynbedryf.

Wat glo jy is die uitdaging of eise vir ’n wynmaker in SA in 2019?
Om relevant te bly.

Watter kultivar dink jy is die plaas se vlagskip en in watter kultivar lê die plaas se toekoms?
Nuiba-wyne se toekoms lê in versnitte.  Dit was nog altyd my sterk punt en ek sal daarop bly fokus. Ek is veral passievol om pinotage met interessante kultivars te versny.

Hoe voel jy oor die beeld van jou wyne onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?
Die beeld wat ek van Nuiba-wyne probeer uitstraal, is dat dit wyne is wat gebore word uit ’n spesiale plek. Die konsep is nie net fisies nie (druiwe van die Piekenierskloof is spesiaal), maar ook emosioneel gebore, omdat ek graag iets wou skep om my ware self uit te beeld. Ek sal graag wil sien dat my wyne ander mense inspireer om hul ware self te ontdek en te vier en in hulself te glo.

Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Mens moet nederig bly. Alles in die lewe is genade, selfs as jy ’n goeie wyn maak, is dit ook genade.  Die les wat ek as wynmaker geleer het, is om nooit terug te sit en te verwag dinge gaan net gebeur nie.  Deur harde werk en genade maak mens vordering in die regte rigting.

Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf?
Ek het ’n minder-is-meer-benadering. Ek glo daarin om die oorsprong van die druiwe in die wyn uit te beeld. Minimale inmenging; ek probeer die vrug koester wat daar is en nie die wyn te veel te manipuleer nie.

Wat beplan jy vir die wynreeks die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte ens?
My planne is om eers te fokus op die vier wyne wat ek reeds maak, en om ’n volhoubare mark vir hulle te skep. Wanneer dit gevestig is, sal ek daaraan dink om uit te brei, maar ’n MCC is heel waarskynlik deel van my toekoms.

Van watter beroep het jy op skool gedroom?
´n Moeilike een! Toe ek baie klein was, wou ek my eie wildsplaas hê!

Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Ek het nog nooit met cinsaut gewerk nie en dit sal baie interessant wees om die beste daaruit te probeer bring.

Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Toe ek en my man begin uitgaan het, het hy baie aande by my in my woonstel in die Paarl kom kuier. Ons het gesels sonder om oor tyd bekommerd te wees en ons het bottels wyn opgedrink!

Wat was sover jou grootste oorwinning as wynmaker?
Om my nek uit te steek en dapper genoeg te wees om my eie wynprojek aan te pak. 

Wat is jou mooiste woorde rondom wyn of die wynmaakproses?
“Leë glase is gevul met goeie herinneringe.”

Watter een van jou wyne is jou grootste oorwinning?
My Third Post Cape blend. My eerste oesjaar het baie goed presteer, en ek was baie in my noppies daaroor.

Watter aspek van die wynmaakproses fassineer jou?
Versnyding, dit is waar my kreatiwiteit blom. Dit is so lekker om rond te speel met veranderlikes wanneer mens versnitte opmaak, en om die opsies te oorweeg en dan eindelik op die beste opsie te besluit.

Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om op die etiket te kyk nie?
Moenie die goedkopste koop nie, en ook nie die duurste nie. Gaan vir ’n etiket waar iemand belê het in ’n goed-ontwerpte etiket en ’n etiket wat na gehalte-drukwerk lyk. As ’n wynkelder goeie kwaliteit verpakking gebruik, sal hulle dieselfde benadering volg met die kwaliteit binne in die bottel ook.

Watter wynproe staan vir jou uit oor die jare?
Ek het eenkeer ’n proe bygewoon waar ons dieselfde kultivar van dieselfde streek, maar op verskillende tipes grond geproe het.

Watter land se wynmaakpraktyke beindruk jou die meeste?
Ek het baie van die Rioja-streek se benadering tot wynmaak gehou.

Wat was nog jou uitdagendste oesjaar en hoe was die wyne van daardie jaar?
Dit was 2013 of 2014 toe dit so baie in parstyd gereën het. Amper soos hierdie jaar, en ek het gesukkel met vrot druiwe wat nie wou suikers kry nie.  

Send this to a friend