Sjef: Leozette Roode

Leozette-Roode-web

 

Leozette Roode se The South African Vegan Cookbook het pas by Human & Rousseau verskyn en is die eerste van sy soort vir Suid-Afrika

Deur MARYKE ROBERTS

Foto’s verskaf

Dit vier die wonderlike voedingswaarde, verbeterde gesondheid en verhoogde energie wat ’n plantgebaseerde lewe bied. Met hierdie kookboek is dit duidelik: enigeen kan plantgebaseerde geregte deel van hul lewe maak. Met 80 prettige geregte vir die hele familie, resepte vir plaaslike gunstelinge asook inspirerende idees vir onthaal gaan hierdie kookboek beslis ‘n gunsteling op jou boekrak word.

Leozette is ’n konsultant vir Humane Society International, ´n blogger, asook resep-ontwikkelaar en bemarker vir Green Monday. Sy doen gereeld kookdemonstrasies en korporatiewe kooksessies by Ginger & Lime Food Studio en is ’n gereelde gas op Afternoon Express. Volg haar blog by https://ctveganista.com vir nuwe vegan-idees en nuus.

Waar kom jou belangstelling in kos, kosmaak en resepte vandaan?

Ek was nog altyd mal oor kosmaak. As klein dogtertjie het ek saam met my ouma kolwyntjies gebak en versier, saam met my ma gemmerkoekies gerol en platgedruk en saam met my pa braaibroodjies gesmeer. Modderkoekies was natuurlik my spesialiteit!

Hoe het jou reis as veganis begin en waarom die besluit?

My veganisme-reis het in drie fases begin. In my vierde jaar, terwyl ek my graad in skakelwesebestuur aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie studeer het, het ons opdrag gekry om ’n artikel te skryf oor “My First…” ondervinding. Ek het besluit om te skryf oor ’n kulinêre ondervinding: “My first week as a vegan”. Ná die week het ek teruggekeer na my gewone dieet, maar het steeds heelwat vegan-disse geëet. Daarna, in Junie 2012, het ek toevallig die fliek Earthlings gekyk. Die fliek het my so getraumatiseer dat ek besluit het om ’n pescatarian te word en alle vleis uit te sny, maar steeds vis en suiwelprodukte te eet. 18 maande later het ek afgekom op die beweging “Veganuary” wat ’n mens uitdaag om Januarie veganisties te eet. Ek het dit aangepak en fantasties gevoel! Ek het ook soveel meer geleer oor die gesondheidsvoordele van ’n veganis se dieet en wat die nare dierlike landboubedryf behels. Dus het ek besluit om ’n veganis te bly. Amper vyf jaar later sien ek dit steeds as die beste besluit wat ek vir myself (en die planeet en diere) kon maak.

Het jy gesukkel om interessante veganis-resepte te kry en hoe moeilik is dit om veganis-bestanddele te kry?

Ja, vyf jaar gelede was daar nie soveel heerlike alternatiewe op die mark soos vandag nie! Ek was die enigste veganis wat ek geken het en het redelik uit gevoel by sosiale funksies. Ek het dus besluit om ’n bietjie in die kombuis te speel en my eie veganresepte te ontwikkel vir die disse waarvoor ek lief is. Gelukkig het veganisme vinnig gegroei en vandag is daar van alles en nog wat beskikbaar – selfs kaas.

Waar kom die resepte in jou boek vandaan – is alles joune, of bietjie geleen by ouma en vriende?

Die disse in my boek is ’n mengelmoes van resepte. Die meeste is my eie wat ek deur die jare ontwikkel het, maar daar is ook baie familieresepte wat ek verwerk het.  Daar is ook ’n paar disse van spesiale vriende en vriendinne wat my deur die jare geinspireer het. Party resepte is selfs “floppies” wat per abuis uitgewerk het!

Is daar ’n dis uit jou kinderdae wat jy aangepas het en maak as jy nostalgies voel?

O ja, my lasagneresep. Lasagne was ’n spesiale dis wat ons as ’n gesin saam geëet het. Dit was ’n bymekaarkom-dis en nie iets wat sommer voor die televisie geëet word nie. Daar was ’n groot bord slaai en kraak-lekker knoffelbrood op die tafel. Vandag eet ons dit steeds met spesiale geleenthede.

Mis jy ooit vleis en indien wel, wat gebruik jy dan as plaasvervanger?

Ja, dit is belangrik om te onthou dat ek (en die meeste veganiste) nie opgehou het om vleis te eet omdat ek nie van die smaak hou nie. As ’n Afrikaanse gesin is ons lief vir braai en gooi graag ’n veganburger, worsie en self ontbeende rib op die vuur. Partykeer maak ek self my burgers, maar ek het ook altyd alternatiewe in die vrieskas. Fry’s Family Foods, Urban Vegan, Quorn en Beyond Meat maak heerlike alternatiewe.

Hoe moeilik is dit vir veganiste om uit te eet?

Dit is regtig nie moeilik nie! Veganisme is aan die groei en dus het meeste restaurante ’n opsie. Voordat ek uiteet, kyk ek aanlyn na die restaurant se spyskaart. Indien ek nie iets vegan-vriendelik sien nie, bel ek die restaurant en vra of hulle iets kan maak. Die sjefs sê altyd ja! Indien ek nie voor die tyd kan bel nie, en niks op die spyskaart sien nie, verander ek ’n dis om dit veganis-vriendelik te maak: pizza sonder kaas met ekstra avokadopeer en balsamiese stroop, pasta of groentekerrie met klapperroom in plaas van gewone room, of gebraaide sampioene op ’n rolletjie in die plek van ’n burger. Dikwels kwyl die ander oor my heerlike veganistiese disse!

Hoe het jou lewe verander sedert jy ’n veganis is?

Veganisme het my lewe meer verander as net op ’n kulinêre vlak. Eerstens is ek meer aktief. Ek het meer, sterker en vinniger begin hardloop en vandag kompeteer ek graag. Ek doen selfs nou driekamp! Ek het my beroep en bedryf verander; alhoewel ek steeds skakelwesebestuur doen, werk ek nou vir een van die wêreld se grootste diere-beskermingsorganisasies, die Humane Society International (HSI). Ek bestuur HSI se Groen Maandag-veldtog wat Suid-Afrikaners aanmoedig om een dag ’n week veganisties te eet. Ek bied tans radiopraatjies en kosdemonstrasies op die radio en televisie aan. Veganisme het my ook geïnspireer om eko-vriendeliker te lewe. Ek is meer bewus van afvalbestuur, waterbesparing en ’n plastiekvrye lewenswyse. Ek het ook my vriend (Donovan Will van Proveg SA) deur veganisme ontmoet!

As mense sê veganisme is moeite, wat is jou antwoord?

Om as ’n veganis te kook en te lewe, verg presies dieselfde moeite. Dit kan gesond of ongesond, vinnig of langdradig, asook goedkoop of duur wees. Daar is alternatiewe vir alles en mens leer vinnig wat jy kan of nie kan eet nie. Ek stel altyd voor dat ’n nuwe veganis haar /sy daaglikse dieet en gunstelingresepte volg en net die diere-elemente vervang, byvoorbeeld: as jy graanvlokkies vir ontbyt eet, ruil net die melk vir amandelmelk, vir ’n kaas en tamatie-broodjie, vervang die kaas met vegankaas, en in plaas van vleis in gebakte geregte of pastas, gebruik verpakte vleis-alternatiewe soos soja-maalvleis en “hoender”- repies of boontjies en lensies.

LEES OOK: Sjef: Nadia Smith

Wat is die lekkerste bestanddeel in enige veganis se spens?

Nutritional yeast – ’n gisvlokkie met ’n neuterige kaas-smaak. Ons gebruik dit om geregte ’n kaasgeur te gee (soos kaassous) of sprinkel die vlokkies bo-oor slaaie en groente. Dit is heerlik en ook baie gesond.

Sonder watter vyf bestanddele kan jy nie kook nie?

Kekerertjies, klapper- of amandelmelk, knoffel, gisvlokkies en speserye.

Wat is jou gunstelingkookboek?

Dit is ’n moeilike keuse;  ek het baie gunstelingkookboeke. Op die oomblik gebruik ek The Vegan Kitchen, ’n pragtige, eenvoudige kookboek wat Donovan op Valentynsdag vir my gegee het en Hippie Lane The Cookbook Wholefood Goes Deliciously Luxe deur Taline Gabrielian. Hippie Lane is ook as ‘n toep op selfone beskikbaar. Taline se disse is amper te mooi om te eet – en alles is gesond!

Wat is die mooiste spreekwoord of sêding oor kos wat jy al gehoor het?

If you really want to make a friend, go to someone’s house and eat with him… The people who give you their food give you their heart.” – Cesar Chavez. Ek onthaal graag en elke ete met vriende en familie is vir my kosbaar. Mens kan die liefde in geregte proe! Ek glo werklik dat ’n stukkie van my hart en siel in my kos gaan.

Wie is jou gunstelingsjef?

Ek is mal oor Nataniël; alhoewel hy nie ’n veganis is nie, kan ek vir ure na sy programme kyk en ook  lekker vir hom lag. My gunsteling-vegansjef is Chloe Coscarelli. Sy is die eerste veganis wat ’n kookkompetisie op televisie met haar vegan-kolwyntjies gewen het!

Vir watter gereg of dis sal jy jou siel verkoop?

Makrolletjies! Ek het nie ’n soettand nie, maar Franse makrolletjies is my hart se punt! Gelukkig kan ek dit steeds as ’n veganis geniet. Die eierwit word met kekerertjiewater vervang!

Wat is jou gunstelingkruie?

Komyn is my gunsteling- gedroogde krui – ek gebruik dit amper elke dag in kerries, roerbraaigeregte en hoemoes. En koljander is my gunsteling- vars krui – veral in slaai en pestosouse! Dit groei sommer in ons kruietuintjie.

 

Leozette se resep vir wrap-focaccias op die kole

Bestanddele

2 wraps van jou keuse (glutenvry, normaal, volkoring, kokosneut)

2 eetlepels olyfolie

½ wit ui, baie fyn gekap

8 peppadews, baie fyn gekap

½ pakkie sampioene, gesny

2 eetlepels vars pietersielie, baie fyn gekap

1 knoffelhuise, fyngedruk

Sout en suurlemoenpeper

1 eetlepel margarien

Metode

Smeer die wraps aan beide kante met olyfolie. Versprei die bestanddele eweredig oor die wraps en plaas op die rooster oor lae kole. Bak tot die wraps lekker krakerig is en effe verbruin. Verwyder van die kole, sny in skywe en bedien as peuselgoed.

Wenk: raak kreatief met jou bestanddele en probeer ook vegan-kaas.

wrap-focaccias-web

Send this to a friend