Kies ’n boek: Die troebel tyd – Ingrid Winterbach

winterbach-web

Willie Burger kyk na Ingrid Winterbach se boek Die troebel tyd

“Hoeveel keer kan mens ’n Hertzogprys vir dieselfde roman kry?” vra ’n kêrel met ’n lang kuif in die ry voor die kasregister in die boekwinkel my. Niksvermoedend verduidelik ek dat die Hertzogprys vir prosa elke drie jaar toegeken word slegs vir boeke wat in daardie tydperk verskyn het en dat dieselfde boek dus nie twee keer in ag geneem kan word nie.

“Wat van ander pryse?” wil hy weet. “Kan hulle twee keer aan dieselfde boek toegeken word?” Ek raak ongemaklik. Kuifkêrel staan te naby aan my. “Natuurlik nie! Hulle word toegeken slegs vir boeke wat in die voorafgaande jaar verskyn het. Dieselfde boek kan dus nie twee keer vir dieselfde prys in aanmerking kom nie.” “Verkeerd!” roep hy triomfantlik. “Ingrid Winterbach kry oor die laaste klompie jare dit reg dat dieselfde boek oor en oor sommer al die belangrike pryse kry.” Ek wil protesteer, maar hy maak my stil. Hy maan my om mooi te dink en my nie te laat mislei deur verskillende titels en ander name vir die karakters nie.

Die Benederyk, Die boek van toeval en toeverlaat, Die aanspraak van lewende wesens, Vlakwater, eintlik selfs al Karolina Ferreira, is net verskillende titels, maar dis dieselfde roman. Hy verduidelik verwytend verder dat “literatore soos jy” dit skynbaar nie agterkom nie en elke keer groot lofsange oor die sogenaamde nuwe roman sing en al die pryse daaraan toeken. Ek trek my asem in om te reageer, maar hy verduidelik al weer dat fyn spoegdruppels spat. Ek probeer ongemerk bietjie terugstaan en stamp byna die rakkie met boekmerke op die toonbank agter my om. Hy weet wat ek wil sê, verseker hy my toe ek ’n geluid uitkry.

Op papier, terugskouend, is daar elke keer ’n ander romantitel met ’n nuwe publikasiedatum op die lang lys toekennings wat aan Ingrid Winterbach gemaak is. Maar dis misleidend. As hy ’n karakter in daardie boek van haar was, sou hy gesê het dit is ’n sinistere komplot tussen akademici en resensente en uitgewers. Uiteindelik trek hy sy asem in om ’n nuwe eindelose sin te formuleer en ek gryp die geleentheid. Ek erken dat daar sekere herhalende elemente in haar romans is: neurotiese karakters byvoorbeeld (“obsessiefkompulsief”, help hy reg) wat deur ’n donker tyd, ’n troebel tyd, worstel. Die karakters is ontstem, is gegooi deur omstandighede van siekte, van verlies (iets of iemand verdwyn onverklaarbaar) en hulle voel hulle kan nouliks oorleef. Hy maak sy mond oop en gooi sy kuif terug, maar ek praat aan oor die obsessiewe, depressiewe karakter wat dan op soek gaan na die mens (of goed) wat verdwyn het.

LEES OOK: Boekhoek: Ingrid Winterbach ; Vlakwater

Dit word ’n moeisame reis. (“’n Frustrerende reis,” help hy reg.) Die reis is frustrerend omdat die soekende karakter se aandag deurentyd afgelei word deur lang gesprekke met mense langs die pad (“in ’n kroeg, ’n eetsaal, in ’n begraafplaas of in ’n wingerd!”). Die mense praat absolute snert oor onverwante sake, wat deur die karakter as moontlike leidrade beskou word waaruit ’n verklarende patroon afgelei kan word. Maar die leidrade val nooit in plek nie en die patroon wat sin moet gee aan die verlies wat gely is en sommer aan menslike bestaan in die algemeen, bly ontglip. Die karakter raak dan al hoe meer oortuig van ’n sinistere komplot, van duister magte wat agter al die gebeurtenisse aan die werk is.

Slegs die karakter ervaar die duister magte as bedreigend, vir die leser is dit skreeusnaaks (en maak dit moeilik om simpatie met die karakter te hê). Ek neem te lank om my volgende gedagte te formuleer en Kuifkêrel voeg by dat daar altyd ’n wetenskaplike en ’n kunstenaar is. Die wetenskaplike gee lang lesings oor die kosmos se ontstaan, oor evolusie, oor insekte of walvisse of varke of visse of motte … Terwyl hy in sy geheue rondsoek na nog wesens op die aarde of in die waters onder die aarde, gryp ek die kans aan en verduidelik dat hierdie wetenskaplike kennis nooit help om die troebel gemoed van die karakter te verlig nie. Dit los nie die bedruktheid van die karakter se eie ervaring op nie, bring nie antwoorde nie.

“Nou hoekom staan jy met Winterbach se nuutste weergawe van dieselfde roman, Die troebel tyd, hier in die ry om te betaal?” konfronteer ek vir Kuifkêrel. Dis eintlik ’n komplot, reken hy. Julle gaan weer positiewe resensies skryf en pryse gee. Ek is bang ek mis iets. Jy sal iets mis as jy nie Die troebel tyd lees nie. Want al klink ’n opsomming van die verhaal van Magrieta Prinsloo wat in ’n vlaag van depressie brûe agter haar verbrand en ’n nuwe, verwarrende werk aanvaar, wat deur inskripsies agter toiletdeure beïnvloed word, deur rolstoelryende mans geteister word, wat verwonderd is oor walvisse, maar ’n spesialis van erdwurms is, bekend, bly dit ’n hoogs vermaaklike en boeiende ondersoek na die beperktheid van ons bestaan in ’n uitspansel waarin ons onbenullig is. En dit bring tóg troos. (Human & Rousseau)

Send this to a friend